Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Met breipenne en wol ondersteun Fauna premature babas

Deur Mariëtte Odendaal

“It’s been such a blessing for us.  We are struggling financially, so it helps us a lot.”

’n Ma van ’n premature baba

By die Pelonomi Hospitaal: Neonatale Eenheid

Knetterende vleisbraaivure en gesellige kuiers rondom teekoppies was al dikwels die plek waar briljante idees vorm aangeneem en lewensveranderende projekte geword het.

Een so ’n projek is die merkwaardige breiprojek van die NG Kerk Fauna. Ons het meer by hul predikant, ds Hansie Swart, en Sanet Paulsen, maatskaplike werker by die Neonatale Eenheid by Pelonomi Hospitaal, gaan uitvind.

  

Hansie, wanneer het hierdie projek ontstaan en wat is die doel daarvan?

“Iemand het eendag tydens ’n gesprek oor die groot behoefte aan gebreide mussies en frokkies by die Neonatale Eenheid van die Pelonomi Hospitaal gepraat. Ek het toe gedink dat dit ’n goeie projek kan wees vir ons gemeente.

“Sedert 2014 brei ’n groep vroue jaarliks klein mussies en frokkies om te voorsien in die behoeftes van vroeggebore babas; iets wat besonder waardeer word. Daar het intussen ook gebreide seekatjies bygekom.

“Die grootste waarde van die mussies en frokkies is dat dit die temperatuur van die premature babatjies help reguleer omdat daar baie hitte deur hulle koppies verloor word. 

“Dit gebeur ook dikwels dat baie van die jong tiener-mammas skielik van die platteland vir die geboorte van hul babatjies inkom en meestal met niks by die hospitaal aankom. Wanneer hulle dan na maande weer terugkeer na hul huise, help die frokkies weer om darem net ‘n kleertjie te kan saamneem vir hul babatjies.

 
Sanet, wat is die nut van die gebreide seekatjies?

“Die seekatjies fasiliteer sensoriese regulering in ’n oorgestimuleerde omgewing. Die tentakels van die seekatjies mimiek die gevoel van die naelstring in die baarmoeder, wat gemoedsrus vir die babas verskaf. Dit verminder ook die risiko van die babas om die voedingsbuise in die broeikas uit te trek, aangesien hul handjies dan om die tentakels van die seekatjies vou.”

 

Dit is baie besonders dat mense hul tyd vir so ’n verdienstelike projek gee. Kan jy meer vertel van die groep, Hansie?

“Ja, graag. Een van die vroue in die breiprojek is ’n afgetrede majoor van die Weermag wat nou in Carnarvon woon. Toe sy op ’n keer weer by haar suster hier in ons gemeente kom kuier het, het sy een Sondag ’n erediens bygewoon waartydens ek toe van ons breiprojek vertel het.

“Ná die diens het sy besluit om eerder by hierdie projek aan te sluit en mussies te brei as om rekenaarspeletjies (as tydverdryf ná haar aftrede) te speel. Mettertyd het sy een van die grootste bydraers van ons breiprojek geword; sy stuur gereeld mussies en seekatjies vanaf Carnarvon.

“Dan is daar twee susters – die een is in haar tagtigs en die ander een in haar sewentigs – wat nie lidmate van ons gemeente is nie, maar wat van die breiprojek gehoor het nadat een van hulle een Sondag ’n aflos-orreliste by ons was.

“Die twee susters het jare lank elke jaar honderde mussies en frokkies vir die Neonatale Eenheid gebrei. Hulle het weekliks bymekaargekom om saam te sit en brei. Nadat die jonger suster onverwags oorlede is, het die ouer suster steeds voortgegaan om weekliks na die jonger suster se huis te gaan, soos hulle gewoonte was, om saam te brei. Dis nou vir haar ’n troos en terapie om oor die jonger suster se skielike dood te kom.”

 

Sanet, wat beteken die gebreide mussies en frokkies vir die hospitaal? 

“Hierdie projek wat deur die gemeenskap geïnisieer is, speel ‘n baie belangrike rol in die versorging en ondersteuning van ons premature pasiëntjies. 

“Die tyd, toewyding en liefde wat elkeen van hierdie brei-ondersteuners in die skenking belê, word besonder waardeer.  Elke mussie en frokkie bring warmte en liefde aan ons klein pasiëntjies en dra daartoe by om hulle te help oorleef.”

 

Die mammas van hierdie kleine mensies is seker ook baie dankbaar vir hierdie geskenkies, né?

“Ja, beslis! Die een mamma se dankbare woorde was: ‘It’s been such a blessing for us.  We are struggling financially, so it helps us a lot.’

“’n Ander mamma sê: ‘It means a lot.  It helps my baby to get warm and to grow.  I feel so happy!’

“Nog ’n dankbare mamma se woorde was: ‘It makes me feel happy; my baby will be warm.’”

Stel jy dalk belang om deel van hierdie breiprojek te word? Kontak dan gerus vir ds Hansie Swart by 083 417 3536 of by hansies@lantic.net

 | Verskaf: Ds Hansie Swart en Sanet Paulsen.