Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

So ondersteun die Helpmekaar Beursfonds my – ‘n student in besigheidsbestuur vertel

Deur Mariëtte Odendaal

“Aanvanklik was ek van plan om deeltyds te werk om die res van my klasgeld af te betaal, maar dit was moeilik om ’n werk te kry wat by my klastye inpas. Die Helpmekaar Beursfonds het dit egter vir my moontlik gemaak om voltyds te kan studeer; ek kan nou al my klasse bywoon, my klasgelde afbetaal en ook handboeke bekostig, wat ’n baie duur uitgawe is.”

André Boshoff
UV-student: BCom (Besigheidsbestuur)
Om deesdae jou begroting te laat klop, is vir ons almal ’n groot uitdaging. As jy boonop ’n student is, is die uitdaging soveel groter. Die koste van studie by tersiêre instellings raak by die jaar duurder en elke sent help.

Die Helpmekaar Beursfonds van die NG Kerk Sinode Vrystaat is een van die reddingsboeie wat in hierdie tyd vir ’n verdienstelike student van groot waarde en hulp kan wees.

Een van die studente wat die afgelope tyd by hierdie beursfonds baat gevind het, is André Boshoff van Bloemfontein. Ons het meer daaroor by hom gaan uitvind.

En dit is presies wat Elzanne Jansen van Rensburg, ma van drie seuns op universiteit, gedoen het. Ons het meer gaan uitvind oor die pad wat sy en haar man, Dolf, geloop het.
André, vertel ons meer van jouself en waarom jy besluit het om verder te gaan studeer.

“Ek is in Bloemfontein gebore waar ek aan die Primêre Skool Universitas (Tjokkies) en Hoërskool Jim Fouché my skoolloopbaan voltooi het.

“Tans studeer ek BCom (Besigheidsbestuur) aan die Universiteit van die Vrystaat. Ek het om verskeie redes op hierdie rigting besluit. Al is ek ’n goeie volger, verkies ek eintlik om die een te wees wat voorvat en take bestuur.

“Daarom wil ek graag eendag my eie besigheid begin; iets waarmee hierdie graad my baie sal kan help. My familie het my ook oortuig dat dit goed sal wees om ’n graad te verwerf omdat daar moontlik ander deure vir my kan oopgaan; daar mag waarskynlik ’n verskeidenheid geleenthede in die toekoms oor my pad kom.”

Hoe het jy gehoor van die Helpmekaar Beursfonds en hoe het die aansoekproses verloop?

“Een van die grootste hekkies waaroor ek moes spring voordat ek besluit het om naskools te gaan studeer, was hoe gaan ek dit sal kan bekostig.

“Ek het op die internet ’n soektog na beurse op tou gesit, maar nie veel gevind wat in my studierigting beskikbaar was nie. Ek het toe by familie-vriende gehoor van die Helpmekaar Beursfonds; iets wat my hele toekoms sou verander.

“Die aansoekproses het glad verloop, aangesien dit hoofsaaklik aanlyn gedoen word en omdat ek aan al die vereistes voldoen het. Ek kon maklik inligting kry en my navrae is vinnig beantwoord.

“Nadat die beurs aan my toegeken is, moes ek slegs ’n dokument in persoon gaan teken waar die vereistes en voorwaardes mooi aan my verduidelik is.”

In watter opsig help die Helpmekaar Beursfonds jou met jou studiekoste?

“Ek was bevoorreg om tot dusver groot gedeeltes van my studieskuld met behulp van die fonds te kon afbetaal, en dit wat nog afbetaal moet word, sal ek danksy erfgeld kan doen.

“Aanvanklik was ek van plan om deeltyds te werk om die res van my klasgeld af te betaal, maar dit was moeilik om ’n werk te kry wat by my klastye inpas. Die Helpmekaar Beursfonds het dit egter vir my moontlik gemaak om voltyds te kan studeer; ek kan nou al my klasse bywoon, my klasgelde afbetaal en ook handboeke bekostig, wat ’n baie duur uitgawe is.”

Wat beteken die Helpmekaar Beursfonds vir jou persoonlik, André?

“Danksy hierdie fonds kon ek met baie groter gemoedsrus my studies aanpak. Toe ek die e-pos lees dat die beurs aan my toegeken is, het dit gevoel asof ’n berg van my skouers afrol.

“Dit het ook my gejaag om tydelike werk te soek, verlig en ek kan nou al my klasse bywoon soos wat ek gehoop het.

“Aangesien die fonds geld vinnig uitbetaal, het ek groot verligting ervaar en is al my klasgelde tot op datum afbetaal, sonder enige rente op skuld.

“Een van die beursvoorwaardes is dat ek moet deelneem aan ons kerk se kategese. Ek het elke Sondag begin uithelp en ’n groepleier van die Graad 1 tot 7 kinders by die Kinderkerk geword; iets wat vir my op ’n emosionele vlak baie geluk en vreugde gee.”

André, van watter belang is sulke fondse soos die Helpmekaar Beursfonds vir studente?

“Ek besef net weer opnuut hoe nodig sulke fondse is en hoe baie van ons studente finansiële hulp benodig. Tydens een van die Helpmekaar Beursfonds-byeenkomste het ek ook besef hoeveel van die studente ek ken en vir hoe baie mense dié fonds help.

“Ek hoop dat diegene wat tot sulke fondse kan bydra dit sal doen; dit maak ’n kardinale verskil aan elke voornemende student se toekomsmoontlikhede. Die fonds voorsien in der waarheid nie net in klasgelde nie, maar uiteindelik ook in die toekomstige gehalte van die werksmag in ons land.

“As ek eendag my besigheid suksesvol kan bestuur, sal ek graag ’n soortgelyke fonds wil stig of bydraes wil lewer tot sulke fondse.

“Ons moet ook die Helpmekaar Beursfonds meer aan besighede bemark en indvidue wat bydraes kan lewer, aanmoedig om op hierdie manier baie meer studente finansieel te ondersteun.”

Kontak
Tertius Botha by
tbotha@ngkvs.co.za vir meer inligting.
Administrateur van die Helpmekaar Beursfonds (NG Kerk Vrystaat)
Die Helpmekaar Beursfonds
– dit kom van ver af
Die Helpmekaar Beursfonds
– saam maak ons ’n verskil
So maak Helpmekaar Beursfonds ‘n verskil
– ‘n ma van drie vertel
So help die Helpmekaar Beursfonds my
– ‘n mediese student vertel

 | verskaf: André Boshoff, UV-student: BCom (Besigheidsbestuur)

116 | Maatskaplike NOODLYN