Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die Helpmekaar Beursfonds – dit kom van ver af

“Wat verhoed ons as Christene, uit alle bevolkingsgroepe, om weer in ons land vol ellende so saam te staan met ’n nuwe fokus: om Christen-jongmense te help studeer om leiers op alle terreine van die samelewing, maar veral dan goeie onderwysers, te word?

Dr Gideon van der Watt

Jy kyk na die Zoom-skakel van die eerste vergadering ooit met beurshouers in die 106 jaar oue geskiedenis van die Helpmekaar Beursfonds en jy staan verstom oor die wye spektrum van studievelde wat hier verteenwoordig word. 

Daar is LLB-student Geraldine in haar derde jaar, eerstejaar Emma wat verpleging studeer, Wikus die argitektuurstudent in sy tweede jaar, derdejaar Luan wat aktuariële wetenskappe studeer en nog tientalle ander beurshouers wat een-een op die skerm verbygly soos wat hulle hulself, met Barnard Steyn as gespreksleier, aan die Zoom-groep voorstel.

Danksy hierdie beurs kon duisende studente al sedert 1917 akademiese kwalifikasies verwerf waarmee hulle ’n loopbaan kon ontwikkel. Dit beteken dat daar vir elke beurshouer die geleentheid gebied word om ’n mooi loopbaan te bou – iets wat van onskatbare waarde in die ekonomiese klimaat van vandag is.

Maar waar het hierdie besondere fonds sy ontstaan gehad? Dr Gideon van der Watt, voor sy aftrede die Sinode Vrystaat se sekretaris van Vennote in Getuienis en tans pastor by die Lutherse Kerk in Bloemfontein, verduidelik.

“Om die ontstaan van hierdie fonds te verstaan, moet ons die geskiedenis van ons land en van veral die NG Kerk verstaan. Die wortels van die Helpmekaar Beursfonds lê in die Anglo-Boereoorlog wat van 1899 tot 1902 geduur het. Dié oorlog is hoofsaaklik gedryf deur die Britse imperialisme – hier in Suid-Afrika veral verpersoonlik deur Cecil John Rhodes wat toe premier van die Kaapkolonie was. Die ontdekking en ontginning van goud aan die Witwatersrand was die direkte motivering van dié Britse inval.

Gideon verduidelik verder: “Die Boeremagte was aanvanklik suksesvol, maar teen Maart 1900 is Bloemfontein en in Junie 1900 Pretoria as hoofstede van die twee Boererepublieke oorgeneem. Groot getalle van die Boeremagte is gevange geneem en is as ballinge oorsee gestuur. Party van die boerekrygers het oorgegee, of by die Britse magte aangesluit – die sogenaamde hensoppers en joiners. Dit het die einde van ’n konvensionele stryd ingelui. Die oorlog is toe verder voortgesit deur guerrilla-oorlogvoering, veral onder generaal Christiaan de Wet. Hierdie guerrilla-stryd, deur die bittereinders gevoer, het vir amper nog twee jaar voortgeduur.  

“In reaksie hierop het Britse gesagvoerders begin om die berugte beleid van ‘verskroeide aarde’ te implementeer. Om te verhoed dat die Boere steeds proviand kry, is plaasopstalle afgebrand en boerevroue en hul kinders, maar ook swart plaaswerkers en hulle kinders, is in konsentrasiekampe geplaas. In die kampe was toestande haglik, en meer as 30 000 blankes en by die 20 000 swartmense is in die kampe oorlede – weerlose mense; meestal kinders. Uiteindelik is vrede in 1902 gesluit.

“Krygsgevangenes is vrygelaat op voorwaarde dat hulle ’n eed van getrouheid aan hul nuwe oorheersers moes onderteken. Diep bitterheid en verdeeldheid het onder die Afrikaners geheers.  Hierdie oorlog het traumatiese gevolge vir die mense van veral die Vrystaat, Transvaal en gedeeltes van die Kaapprovinsie gehad, wat oor geslagte sou strek. Talle kinderhuise het ontstaan as gevolg van duisende ontwortelde en ouerlose kinders. Groot gedeeltes van die boeregemeenskappe was verarm en verneder en die verliese het diep wonde gelaat. Al hierdie emosies en ontberinge moes verwerk word – ’n byna onbegonne taak.

“Na Uniewording in 1910, waartydens die vier provinsies – die Kaap, Transvaal, Natal en Vrystaat – een land onder een vlag geword het, maar uiteindelik steeds onder Britse bewind, was daar nog steeds verdeeldheid. Een groep staan versoening voor – hulle het immers ’n eed onderteken – en  wil aangaan met hul lewens; die ander groep sukkel om die Britte te vergewe. Die meeste Afrikaanse mense was baie arm en het steeds gesukkel om weer op hul voete te kom. In hierdie tyd begin groei ’n sterk Afrikaner-nasionalisme, ook in die kerke (veral in die NG Kerk) en daar ontstaan ’n groot bewustheid en dryfkrag om die blanke-armoede-vraagstuk aan te pak.

“Nog ’n kinkel in die kabel ontstaan toe die Eerste Wêreldoorlog kort na Uniewording  in 1914 uitbreek. Brittanje verwag nou van die Unie van Suid-Afrika om die wapen op te neem en Duitswes-Afrika (vandag Namibië) te annekseer. Vir president Steyn, die bejaarde eertydse Vrystaatse president, was dit moeilik aanvaarbaar, want die Duitsers het dan die konsentrasiekampkinders probeer help in hul nood. 

“Dit veroorsaak opstandigheid en die geliefde Boeregeneraals Koos De la Rey, CF Beyers en Christiaan de Wet neem veral leiding in die verset teen die bestaande owerheid. Nadat De la Rey doodgeskiet is, ontstaan daar verdere emosionele spanning. Dit sou uitloop op die Rebellie van 1914. Meer as 11 000 rebelle, veral uit die Noord-Vrystaat, neem die wapen op teen die Unie-regering. Hulle het nie regtig ’n kans gestaan nie en word redelik gou verslaan. Meer as 5 000 van die rebelle beland toe in die tronk, ook generaal De Wet. Hierdie Rebellie het nuwe verdeeldheid in die Afrikaanse gemeenskappe, en veral die kerk, meegebring. Na samesprekings word daar besluit dat die rebelle vrygelaat sou word op voorwaarde dat hulle eers hul boetes as gevolg van die enorme skade wat aangerig is, moes betaal. Nadat eise van verskillende slagoffers ingedien is, word die totale bedrag op 750 000 pond bereken. Dit was ’n geweldige groot bedrag – honderde miljoene rand as jy dit na vandag se geldwaarde sou probeer omskakel. Die Rebelle self sou dit nooit kon betaal nie.

“Maar toe begin die Afrikaanse gemeenskap, en veral die Afrikaanse kerke, om saam te staan en geld in te vorder om hierdie boetes te betaal. So het die Helpmekaar Beursfonds eers as beweging ontstaan, en later ’n amptelike fonds geword. Die doel met die fonds wat ingesamel word, was eerstens om dié reuse-boete te help betaal sodat die rebelle vrygelaat kon word, tweedens om die kinders van hierdie mense wat so swaar gekry het, te help om verder te kan studeer en derdens om die Afrikaanse taal en kultuur te help bevorder.  Dit het ’n volksbeweging geword, ’n grootse poging om op te staan uit die ellende van die Boere-oorlog en die Rebellie. Gemeentes, vroueverenigings, skoolkinders, besighede – almal het hande gevat en die fonds help bou. Aandoenlike verhale word vertel van hoe kinders geld ingesamel het, hoe vroue koeksisters gebak en basaars gereël het, hoe daar in die pers geskryf is en besighede hand bygesit het – die uitsonderlike poging om ‘op te staan uit armoede en ellende’ het momentum begin kry.    

“Danksy verskeie projekte en groot reklame vir dié fonds word die enorme skuld binne drie jaar – in 1917 – heeltemal afbetaal. Daar bly egter nog 92 000 pond oor en die fonds bly steeds groei deur ’n ongekende stroom van bydraes. Dit, ten spyte van die armoede van die gemeenskappe waaruit die geld gekom het!

“Die Helpmekaar Beursfonds het sedertdien ’n beduidende bydrae gelewer tot die ontwikkeling van skole en ander welsyns- en onderwysinstellings, die totstandkoming van tersiêre instellings soos byvoorbeeld die Universiteit van die Vrystaat, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), en ander bekende Afrikaanse besighede. Die NG Kerk het hierin ’n leidende rol gespeel.  

“Die een groot nasionale Helpmekaar Beursfonds is uiteindelik tussen die Vrystaat, Kaap en Transvaal (Noordelike Fonds) verdeel, waarvan die Vrystaat die grootste deel gekry het omdat daar vanuit die Vrystaat die meeste tot die fonds bygedra is. Die Helpmekaar Beursfonds is oor die jare verder uitgebou. En vanuit hierdie fondse is letterlik duisende jong studente oor die jare gehelp om verder te studeer.  

“Intussen word hierdie fonds nie meer net aan ons eie voornemende studente uit die NG Kerk beskikbaar gestel nie, maar kan ook kinders uit ons susterkerke in beginsel aansoek doen. Tans word al die beskikbare geld uit renteverdienste as nie-terugbetaalbare beurse aangebied.”

Gideon sluit af: “Wat verhoed ons as Christene, uit alle bevolkingsgroepe, om weer in ons land vol ellende so saam te staan met ’n nuwe fokus: Om Christen-jongmense te help studeer om leiers op alle terreine van die samelewing, maar veral dan goeie onderwysers, te word?”

So, wie kan aan aansoek doen om hierdie beurs en hoe werk dit? Ons het gaan hoor by Tertius Botha, bestuurder van administrasie en inligting van die Sinode Vrystaat.

“Slegs studente wie se ouers in die Vrystaat woon, lidmate van die NG Kerk, Ned. Herv. Kerk, Gereformeerde Kerk, die VGKSA of NGKA is, studente wat voorgraads (NQF 5 tot 7) en voltyds aan ’n Vrystaatse instansie studeer en wat by SAQA (South African Qualifications Authority) geakkrediteer is, sal in aanmerking kom vir ’n toekenning uit hierdie fonds,” verduidelik Tertius.

“’n Student moet ook jaarliks opnuut om die beurs aansoek doen, bewys van aktiewe betrokkenheid by sy of haar gemeente en/of gemeenskap lewer, akademies bevredigend vorder en ’n Christelike lewenswyse handhaaf. Beurse verval natuurlik as die student sy of haar studies staak of skuldig maak aan wangedrag,” aldus Tertius.

Aansoekvorms word vanaf 1 Oktober tot 31 Januarie op die webblad van die NG Kerk Vrystaat beskikbaar gestel. Die skakel word ook op aanvraag aangestuur.  

Kontak gerus vir Tertius Botha by tbotha@ngkvs.co.za vir meer inligting.

116 | Maatskaplike NOODLYN