Ondersteuning | Deur Mariëtte Odendaal
“Die wesenlike doel van die Helpmekaar Beursfonds in die Vrystaat is om studente te help om hul studies te voltooi en produktiewe lede van die gemeenskap te word. Hierdie hulpverlening moet ook volhoubaar gedoen word en as teken dien dat ons mense is wat vir mekaar omgee en mekaar help. As jou hart saam met ons warm klop vir hierdie saak en jy ook graag studente wil bystaan met hul studies, wil ons jou uitnooi om van hierdie platform gebruik te maak en saam met ander ʼn verskil te maak.”
Tertius Botha
Administrateur: Helpmekaar Beursfonds
Danksy hierdie 107 jaar-oue beurs kon duisende studente al sedert 1917 akademiese kwalifikasies verwerf waarmee hulle ’n loopbaan kon ontwikkel. Dit beteken dat daar vir elke beurshouer die geleentheid gebied word om ’n mooi loopbaan te bou – iets wat van onskatbare waarde is in die ekonomiese klimaat van vandag.
Tydens verlede jaar se Zoom-vergadering was ons verstom oor die wye spektrum van studievelde wat daar verteenwoordig is. Tientalle beurshouers het op die skerm verbygegly terwyl hulle hulself bekendgestel het – die LLB-student Geraldine in haar derde jaar, die eerstejaarstudent Emma wat verpleging studeer, Wikus die argitektuurstudent in sy tweede jaar, die derdejaar Luan wat aktuariële wetenskappe studeer en nog vele meer. Ds Barnard Steyn was die gesprekleier.
Vanjaar is daar 92 studente wat aansoek gedoen het, maar daar is slegs R12 895 per student beskikbaar; hopeloos te min om ’n student te laat studeer.
Ons soek dus nog dringend donasies vir 2024 se voornemende studente waarvan 5 landbou-, 23 onderwys-, 20 mediese en 4 maatskaplikewerk-studente is.
Ons het by Tertius Botha, administrateur van die Helpmekaar Beursfonds, gaan uitvind watter verskil die fonds al sedert 2010 gemaak het.

“Ek het die inligting vanaf 2010 getrek omdat ek toe as administrateur van die fonds begin werk het en die inligting maklik beskikbaar was.
“Die bedrag toegeken (groen) dui op die bestuur van die fonds. Die fondse wat beskikbaar is vir verdeling word grotendeels beïnvloed deur die opbrengs op die belegging. Dit is duidelik te sien in die swak vertoning tydens die Covid-19-pandemie en die druk wat daar op die ekonomie was vanaf 2020 tot 2022. Die beleid van dié fonds is om geen kapitaal aan te wend nie, maar slegs die beleggingsopbrengs nadat 30% daarvan gekapitaliseer word. Sodoende verseker ons dat daar fondse beskikbaar sal wees vir die toekomstige geslagte.
“Die aantal aansoeke wat toegeken word (oranje) dui op die behoefte wat by studente bestaan om finansieel gehelp te word. Tot en met 2020 het die Helpmekaar Beursfonds ’n terugbetalingskomponent gehad. Dit het egter baie wetlike vereistes, administrasie en ouditkostes tot gevolg gehad en die bestuur het besluit om dit om te skakel na nie-terugbetaalbare beurse. Die lae aantal toekennings wat in 2020 gemaak is, was ‘n doelbewuste stap in aanloop tot hierdie besluit en het ook gepaard gegaan met die impak van die pandemie. Die skerp styging ten opsigte van beursaansoeke van 2023 na 2024 dui aan dat die behoefte geweldig styg.
“Die gemiddelde bedrag wat toegeken word (geel) dui aan of ons werklik ‘n verskil maak. Die beleid van die fonds is om studente met ‘n eerste kwalifikasie te help wat ten minste ‘n NQF-vlak van 5 tot 7 is. Die fokus is dus op universiteitsopleiding (of iets soortgelyks). Die klasgelde vir studie aan die Universiteit van die Vrystaat beloop gemiddeld tussen R35 000 en R62 000 per jaar; dit dek slegs klasgelde en nog geen boeke, etes of verblyf nie. Die gemiddelde toekenning van R12 895 per student is dan maar ‘n druppel aan die emmer.
“Daar is ook vereistes waaraan studente moet voldoen om te kwalifiseer. Die doel is om iemand te befonds wat sy/haar kant bring en ‘n verskil in die samelewing kan maak. Studente verbeur hul toekennings indien hulle nie die vorige semester geslaag het nie. Daar word ook van hulle vereis om in hul gemeentes of gemeenskappe betrokke te wees. Dit kweek die besef dat daar mense is wat slegter daaraan toe is as hulle en dat hulle ‘n verskil kan maak. Toekennings word halfjaarliks uitbetaal, waartydens hierdie vereistes geëvalueer word voordat die fondse uitbetaal word.
“Die wesenlike doel van die Helpmekaar Beursfonds in die Vrystaat is om studente te help om hul studies te voltooi en produktiewe lede van die gemeenskap te word. Hierdie hulpverlening moet ook volhoubaar gedoen word en as teken dien dat ons mense is wat vir mekaar omgee en mekaar help. As jou hart saam met ons warm klop vir hierdie saak en jy ook graag studente wil bystaan met hul studies, wil ons jou uitnooi om van hierdie platform gebruik te maak en saam met ander ‘n verskil te maak.”
So, hoe kan ons te werk gaan om donasies te skenk?
Deponeer ’n bedrag aan die NG Kerk Vrystaat by
Nedbank
Takkode 198765
Rekeningnommer 1178 097 218
Vir meer inligting
Kontak gerus Tertius Botha | tbotha@ngkvs.co.za of 051 406 6700
