Skip to content Skip to footer
Spiritualiteit het te doen met ’n mens se persoonlike en individuele pad met God, met die taal waarin God spesifiek met jou praat. ’n Mens se bewustheid van hierdie baie persoonlike bemoeienis van God met jou kom egter nie altyd vanself nie. Dink maar aan mense wat sê:

“Waar is God in hierdie situasie? Hoe kan ’n liefdevolle God toelaat dat so iets met my gebeur? Ek is kwaad vir God …”

“Ek weet nie hoe om te bid nie, God hoor my nie; my gebed slaan teen die plafon vas.”

Ons het almal al sulke desperate uitsprake gehoor.

In skerp teenstelling hiermee is daar die mistikus wat uitroep: “En in alles wat ek gesien het, kon ek niks anders gewaar as die teenwoordigheid en krag van God nie, en dít op ’n totaal onbeskryflike manier. En my siel het in die uiterste verwondering uitgeroep: Hierdie wêreld is swanger aan God!” [Angela van Foligno (1248-1309), mistikus, leke-lid van die Franciskaanse orde, dienaar en versorger van die armes, voormalige rykmansdogter en sosiale vlinder]

Is so ’n ervaring van God net die mistikus beskore? Kan ons alledaagse ervarings nie ook ’n mistieke kwaliteit verkry nie? Daarmee bedoel ek ’n dieptedimensie wat ’n mens bewus kan maak van God se aanraking en teenwoordigheid. ’n Belewenis van ontroering: daardie oomblik dat jou oë onwillekeurig vol trane skiet; of wanneer jy voel jou hart wil uit jou borskas bars. Die eerste ontmoeting met ’n pasgebore kleinkind, ’n film of musiekuitvoering wat die trane laat opdam en oorloop, ’n kunswerk wat aan jou hart ruk …

https://www.nationalgallery.org.uk/stories/why-does-this-painting-make-some-people-cry

Maar ook doodgewone ervarings: ’n stomende koppie tee saam met ’n sielsgenoot by die kombuistafel, die vertroosting van ’n bak warm skottelgoedwater, die meditatiewe ritme van groente kerf, tuin natlei in die skemeraand met die reuk van klam grond wat opstyg. Die visterman wat sonder ’n enkele vis huis toe stap, maar met ’n gloed van voldoening omdat hy, daglank starend na die blink watervlak, ’n ontmoeting gehad met iets groters wat hy nie kan beskryf nie. Die stapper op die stil, hoë bergkruine; die voëlkyker doodstil met verkyker en kamera in die voëlskuiling.

As jy sou vra: Wat is spiritualiteit, sou ’n mens miskien kon sê dít is die betekenis van spiritualiteit: bewuswording van iets ruimer en dieper as ekself, ’n gewaarwording dat God teenwoordig is in alle dinge. ’n Skielike, verrassende herkenning van God waar ek God nie verwag nie, waar God trouens eerste opgedaag het en my inwag. Spiritualiteit is ’n oefening en dissipline om God se teenwoordigheid te onderskei te midde van alles wat elke dag op my aanstorm; dit wat my magteloos laat voel, wat my oorweldig, wat vir my woede of pyn of wanhoop veroorsaak. Dis ’n dissipline van heilige pouses, tyd maak vir bewuste kontemplatiewe momente – doelbewuste stilword. Gereelde terugkyk op my dag of my week: Wanneer het ek God se nabyheid aangevoel? Wanneer het dit vir my gevoel God het van my vergeet? En om geleidelik, miskien selfs deur die loop van maande en jare, tot die besef te kom dat alle ervarings verweef is tot een geïntegreerde geheel van lig en skadu, gekoester in God se hand. Om in te sien dat God teenwoordig is in die hele spektrum van menslike ervarings.

Die Spiritualiteit-netwerk wil hierdie ervarings, en die betekenisse wat ons daaraan heg, op die tafel sit sodat ons dit met mekaar kan deel – in gesprekke, maar ook in stilte – en só impulse tot verdieping en groei kan ontdek. Ons glo daar bestaan ’n behoefte aan sulke stilword- en/of gespreksgeleenthede, en ons beplan om geleenthede – dag- en naweekretraites en werkswinkels – aan te bied om in hierdie behoefte te voorsien. Temas wat na vore kom, is byvoorbeeld:

Kreatiwiteit en spiritualiteit; teoloog Richard Rohr se gedagte van ’n spiritualiteit vir die twee helftes van die lewe (spesifiek vir diegene in die tweede helfte van hul lewe); Spiritualiteit en die natuur; Spiritualiteit en ekologie; God kom na ons vermom as ons lewe; God praat met ons deur ons voorliefdes; Die gawe van onderskeiding; Hoop … ens ens. Ons beplan ook om Touwys-werkswinkels te hou waar dominees en lidmate wat belangstel om retraites in hul gemeentes aan te bied, “touwys” gemaak kan word in hierdie dissipline. Kontak Magdaleen du Toit vir versoeke in dié verband. (magdaleen.dutoit@gmail.com; 083 2269732)

’n Retraite vir vroueleraars word beplan vir die tweede helfte van vanjaar, waar ons gaan kyk na die lewe en werk van Hildegard von Bingen, ’n sterk leidende vrouefiguur in die geskiedenis van die vroeë kerk. Prof Yolanda Dreyer van die Universiteit van Pretoria se Teologiese Fakulteit tree op as mede-aanbieder. Kontak ds. Annerie Viljoen in hierdie verband: anneriviljoen.87@gmail.com; 083 417 7431. (’n Baie geslaagde vroueleraarsretraite is reeds in 2019 deur die netwerk by die retraitesentrum Menuha aangebied, en die reëlings vir twee daaropvolgende retraites is ongelukkig deur Covid-19 in die wiele gery.)

’n Stilword-dagretraite word beplan vir Saterdag 13 Mei by die NG Gemeente Kroonstad-Noord. Almal welkom! Kontak dr. Suzanne van der Merwe, suzannekleynhans@gmail.com; 073 684 4983).

Rig enige verdere navrae en versoeke oor die werksaamhede van die Spiritualiteit-netwerk aan Magdaleen du Toit (magdaleen.dutoit@gmail.com; 083 226 9732).

 Kom ons reik ook op hierdie manier na mekaar uit en dra só by tot ons wedersydse verryking, verdieping en groei in die dinge van God.

kontak ons

Spiritualiteit Netwerk

MEV MAGDALEEN DU TOIT
SPIRITUALITEIT
+27 (0)83 226 9732
magdaleen.dutoit@gmail.com