Deur Mariëtte Odendaal
“Ek moedig enigiemand aan om ’n bydrae tot hierdie uiters verdienstelike beursfonds te maak. Jy kan maar vir seker weet dat dit met die uiterste omsigtigheid en verantwoordelikheid volgens meriete toegeken sal word. Vir ons as ouers met drie kinders op universiteit is dit van enorme hulp.”
Elzanne Jansen van Rensburg
Ma van drie seuns op universiteit
Om in vandag se tyd ’n kind op universiteit te kan hê, verg nie net merkwaardige logistieke vermoëns en (soms) byna bomenslike energie nie, maar veral ook ’n dik beursie.
Behalwe dat jy jou rieme ekstra dun moet begin sny, begin jy ook naarstiglik na beurse soek – enigiets wat sal help om die vele laste wat skielik baie swaar op jou skouers begin rus, te help verlig.
So, wat doen jy as jy nie net een nie, maar drié kinders tegelykertyd op universiteit moet laat studeer? As jy gelukkig is, het jy aansoek gedoen by die Helpmekaar Beursfonds en het jy daar die groen lig gekry.
En dit is presies wat Elzanne Jansen van Rensburg, ma van drie seuns op universiteit, gedoen het. Ons het meer gaan uitvind oor die pad wat sy en haar man, Dolf, geloop het.
Elzanne, vertel vir ons meer van julle drie seuns
“Die tweeling, Lourens en Niël (22) en Nico (19) is al drie in Bethlehem gebore en het hul hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Witteberg, Bethlehem voltooi.
“Beide Lourens en Niël, asook Nico was op skool leerlingraadslede in graad 11 en studenteraadslede in graad 12 (die tweeling was ook onderhoofseuns) en al drie het ook vir die skool se eerste span rugby gespeel; Niël was die rugbykaptein in sy jaar en Nico in sy jaar.
“Tans studeer Lourens (4de jaar LLB), Niël (4de jaar BPharm) en Nico (1ste jaar BEd) aan die Noordwes Universiteit te Potchefstroom.”
Hoe het jy gehoor van die Helpmekaar Beursfonds en hoe het die aansoekproses verloop?
“Aangesien universiteitskoste ’n geweldige groot uitgawe is, het ons begin soek na beurse; elke sent help natuurlik. Ons hoor toe by ons predikant, met wie ons ook bevriend is, van die Helpmekaar Beursfonds.
“Die aansoekproses was baie eenvoudig. Dit was regtig baie maklik om dit in te vul; iets wat daartoe bygedra het dat ons dit vinnig kon indien.
“Die terugvoering en administrasieproses van julle sinodale kantoor se kant af daarna was uitstekend. Ek het spesifiek met Tertius Botha gewerk met wie ek dié pad al ’n paar jaar lank stap. Hy het my met soveel begrip en effektiwiteit gehelp; ek voel regtig asof ons mekaar al baie goed ken.
“Die beurs wat ons van die Helpmekaar Beursfonds ontvang het, gebruik ons vir boekegeld, asook deels vir ons seuns se studies.
“Een van die grootste voordele van dié beurs is dat dit nie ’n lening is nie, wat beteken dat ons seuns dit nie eendag hoef terug te betaal nie.”
Elzanne, so iets beteken natuurlik baie vir ’n ouerhart, né?
“Ja, beslis! Hierdie beurs raak ons as ouers emosioneel baie diep. Ons wil net die beste vir ons seuns hê en ons droom is dat hulle eendag met groot dankbaarheid en waardering moet kan terugkyk na die voorreg wat hul gehad het om te kon studeer, en veral om ná hul studies geen studieskuld te hê nie.
“Ek en my man, Dolf, sê elke dag dankie aan ons Hemelse Vader vir die voorregte wat ons het en hoe geseënd ons is. Ons seuns was en is nog altyd net ’n groot vreugde en die grootste geskenk van God.”
Hoe het hierdie ervaring jou oë oopgemaak ten opsigte van die belangrikheid van sulke fondse?
“Ons besef net al hoe meer wat ’n groot voorreg dit is om begunstigdes te kan wees van hierdie fonds. Dit is ook vir ons ’n riem onder die hart om te weet dat die bron daarvan jarelange kerklike bydraes en ondersteuning is.
“Ons besef ook dat elke student aan wie ’n beurs toegestaan word dit regtig verdien; dit val nie sommer net in jou skoot nie.
“Ek moedig enigiemand aan om ’n bydrae tot hierdie uiters verdienstelike beursfonds te maak. Jy kan maar vir seker weet dat dit met die uiterste omsigtigheid en verantwoordelikheid volgens meriete toegeken sal word.
“Deesdae se universiteitskostes beloop ongeveer R100 000 per jaar per kind. Dit sluit die kursusfooie, akkommodasie en studiemateriaal in. Niël het R16 100, Lourens R12 190 en Nico R13 110 van die fonds ontvang; ’n uiters welkome bydrae wat ons ten opsigte van die uitgawes kon verdeel.
Watter effek het die bestaan van so ’n beursfonds op julle kinders, Elzanne?
“Ons kinders besef elke dag dat dit nie ’n reg is om te studeer nie, maar ’n voorreg. Dit is nie vir elke verdienstelike kind beskore om aan ’n universiteit te kan gaan studeer nie en nie elke ouer kan dit bekostig nie.
“Ek glo en weet dat, sou ons kinders eendag begin werk, hulle vir seker bydraes tot sulke fondse sal maak indien hul daartoe in staat sou wees.”
Kontak
Tertius Botha bytbotha@ngkvs.co.za vir meer inligting.
Administrateur van die Helpmekaar Beursfonds (NG Kerk Vrystaat)
| verskaf: Elzanne (links) en Dolf (regs) Jansen van Rensburg met hul drie seuns, Lourens, Nico en Niël.