Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

So help die Helpmekaar Beursfonds my- ’n mediese student vertel 

Deur Mariëtte Odendaal

“Ek dink hierdie soort fondse is wonderlik. Dit dra baie daartoe by dat ons as studente ons studies kan voltooi. Terselfdertyd help dit ons ook om op ons beurt weer iets aan die gemeenskap terug te gee.”

Bianca van der Vyver
Helpmekaar Beursfonds-begunstigde

Tersiêre opleiding is ’n peperduur perd om op te saal; dit kos ’n student gemiddeld R100 000,00 per jaar, afhangend van watter kursus jy volg. Studeer jy egter medies, raak dit ’n uitdagende stryd om van jaar tot jaar kop bo water te hou, aangesien dit ’n vyf jaar-lange kursus is, waarna daar nog twee internskapsjare en een gemeenskapsdiensjaar volg voordat jy ’n gekwalifiseerde dokter is.

“Elke sent wat na jou kant toe kan kom, is dus uiters welkom,” vertel Bianca van der Vyver, mediese student aan die Universiteit van die Vrystaat wat deur die Helpmekaar Beursfonds ondersteun word. Ons het meer gaan uitvind.

Bianca, wat het jou laat besluit om medies te studeer?

“Ek is in Bloemfontein gebore, waar ek ook grootgeword en my hoërskoolloopbaan aan die Sekondêre Meisieskool Oranje voltooi het.

“Aangesien my tannie as mediese student aan die Universiteit van die Vrystaat by ons ingewoon het, het ek vir etlike jare blootstelling aan haar studies gehad en het ek baie daarin begin belangstel. Dit het ’n groot invloed op my beroepskeuse gehad.”

Hoe het jou pad toe met die Helpmekaar Beursfonds gekruis, en wat beteken dit vir jou?

“Ek het by my ouers daarvan gehoor en dadelik aansoek gedoen. Die aansoek- en goedkeuringsproses het verbasend vinnig verloop en was glad nie ingewikkeld nie.

“Dié fonds maak dit vir my moontlik om handboeke aan te koop. Ek verkies om uit harde kopie te leer om fisies die groter prentjie van die werk te kan sien. Ek wil ’n boek kan vashou en aantekeninge daarin kan maak.

“Ek is elke dag diep dankbaar oor dié fonds. Dit help die spanning verlig om onontbeerlike studiebronne te kan bekostig.”

“Ek is elke dag diep dankbaar oor dié fonds. Dit help verlig die spanning om onontbeerlike studiebronne te kan bekostig.”

Wat is die waarde van sulke fondse, Bianca?

“Ek dink hierdie soort fondse is wonderlik. Dit dra baie daartoe by dat ons as studente ons studies kan voltooi. Terselfdertyd help dit ons om ook eendag op ons beurt weer iets aan die gemeenskap te kan teruggee.

“Dis van groot belang om alles in ons vermoë te doen om sulke fondse aan die gang te help hou. Dit kan ’n bepalende rol in ’n student se lewe speel om sy of haar lewensroeping te help waar maak. Juis om hierdie rede sal ek ook graag eendag tot hierdie fonds wil bydra.

“Dis van groot belang om mense van dié fonds bewus te maak en hulle in te lig oor die bepalende verskil wat dit in studente se lewens kan maak.”

“Dis van groot belang om mense van dié fonds bewus te maak en hulle in te lig oor die bepalende verskil wat dit in studente se lewens kan maak.”

Kontak

Tertius Botha by

tbotha@ngkvs.co.za vir meer inligting.

Administrateur van die Helpmekaar Beursfonds (NG Kerk Vrystaat)

Die Helpmekaar Beursfonds
– dit kom van ver af
Die Helpmekaar Beursfonds
– saam maak ons ’n verskil
So maak Helpmekaarbeursfonds ’n verskil
– ’n ma van drie vertel

 | verskaf: Bianca van der Vyver, Helpmekaar Beursfonds-begunstigde en mediese student

 

116 | Maatskaplike NOODLYN