Deur Mariëtte Odendaal
“Tydens hierdie sinodesitting het ek weer opnuut in aanraking met my teologiese hartklop gekom, naamlik getuienisbediening, of sending. Tydens die preek en sang het ek weer opnuut onder die besef gekom van hoe die Here sy kerk in stand hou; dat ons as instrumente in die Here se hande deel vorm van ’n klein skakeltjie in die groot ketting van God se Koninkryk. Ek het ’n diep geestelike ervaring daar beleef.”
Dr Dawie Botes
Ondervoorsitter: NG Kerk Vrystaat-moderatuur
Dit raak jou baie diep as jy vir die eerste keer die aanbidding van Christus in een van ons familiekerke in Afrika ervaar. Behalwe die hemelse harmonisering van vierstemmige liedere sonder die begeleiding van musiekinstrumente, is dit veral die groot getalle lidmaatbywoning van eredienste en die wete dat dit die vrug van toegewyde sendingwerk is, wat jou sal aangryp.
Hiervan kan dr Dawie Botes, ondervoorsitter van die NG Kerk Vrystaat-moderatuur getuig nadat hy van Maandag 12 tot Vrydag 16 Augustus as afgevaardigde van die NG Kerk Vrystaat op besoek was aan die Dutch Reformed Church in Zambia (DRCZ)-gemeente en die Reformed Church in Zambia (RCZ).
Die DRCZ-gemeente, ’n unieke multi-kulturele kerk
Die DRCZ-gemeente is ’n unieke kerk wat deel is van die Noordelike Sinode van die NG Kerk en die mees noordelike NG-gemeente in Afrika. As multi-kulturele gemeente word hul dienste in beide Afrikaans en Engels aangebied.
Dr Botes is deur ds Willem Schoeman, predikant van hierdie besondere gemeente, op die lughawe van Lusaka verwelkom en na sy gemeente geneem waar hy ook dr Moses Zulu, ds Schoeman se medeleraar, ontmoet het.
“Wat baie besonders van hierdie NG-gemeente is, is dat dit ’n gekombineerde gemeente is,” vertel dr Botes. “Ek het die voorreg gehad om op Maandagaand 12 Augustus hul kerkraadsvergadering te kon bywoon. Ons het gelees uit 1 Petrus 2 vers 1 tot 10 en ek was baie beïndruk met die uitstekende gesindheid waarmee die vergadering plaasgevind het.
“Die gemeente word bedien deur ds Willem Schoeman wat hul Afrikaanse (en ook Engelse) dienste aanbied en dr Moses Zulu wat verantwoordelik is vir die Engelse dienste. Die twee kollegas werk baie goed saam en hulle eensgesindheid het ’n baie groot positiewe invloed op die kerkraad en gemeente.”
Dr Zulu vertel: “Ds Willem Schoeman is die derde Afrikaanssprekende NG Kerk-leraar saam met wie ek sedert 2014 die NG Kerk in Zambië bedien. Die vorige leraars, nes ds Schoeman, was almal wonderlike kollegas. Ds Schoeman is al twee jaar my kollega hier.
“Dié multi-kulturele gemeente se grens dek die suidelike deel van Zambië, met maandelikse Afrikaanse eredienste in Lusaka, Livingstone en Chisamba. Die Engelse erediens vind elke week in Lusaka plaas en word bygewoon deur plaaslike mense sowel as buitelanders vanuit Europa, Suid-Afrika, Zimbabwe, Nigerië en Malawi.
“As gevolg van hierdie dinamika in ons gemeente is daar ’n gedurige migrasie van mense; iets wat ons bediening baie uitdagend maak. Veral ons lidmate wat vanaf Suid-Afrika kom, vind dit moeilik om hul voete in hierdie omgewing te vind; iets waarmee ons hulle graag bystaan – om hulle tuis te laat voel in ons midde.
“Dis natuurlik ook gewoonlik baie uitdagend om saam met ’n ander leraar te werk. Predikante kan maklik van mekaar verskil of kompeterend raak, maar gelukkig was my bediening vanaf 2014 ’n baie positiewe ervaring met al die Afrikaanssprekende leraars saam met wie ek al moes werk. Ons kon nog altyd ons kultuurverskille sonder konflik oplos. Ek het nog altyd goeie ondersteuning van my kollega, ds Willem Schoeman, en my Afrikaanssprekende lidmate gekry.
“Dit dra baie daartoe by dat ons gemeente verenigd funksioneer. Ons pak alles as een familie aan – van ons administratiewe kerkraadstake tot om eensgesind kerk te wees.”
Ons noue vennootskap met die NG Kerk Vrystaat
“Die oorsprong en fondasie van ons vennootskap met die RCZ lê ten diepste by die NG Kerk Vrystaat. Dit is danksy hulle sendingwerk dat hierdie vennootskap bestaan,” verduidelik dr Zulu. “Dit was op 5 Julie 1899 onder ’n mpunduboom by Magweru in die oostelike deel van Zambië waar ds PJ Smit en ds JM Hofmeyr begin droom het van kerkplanting in Zambië.
“Sedertdien word die bande tussen die RCZ en die NG Kerk Zambië baie stewig versorg; ook dié vennootskap wat ons met die NG Kerk Vrystaat het. Ons besoek mekaar graag oor en weer en versorg sodoende ons onderlinge kerkfamiliebande; iets wat vir ons almal van onskatbare waarde is.
“As NG Kerk in Zambië koester ons nog steeds hierdie verhouding. Ons ondersteun ook teologiestudente wat aan ons gemeente toegewys word met ’n maandelikse toelaag wat ons gemeente nou al vir 15 jaar volhou.
“Dit was dus vir my, dr Dawie Botes en ds Willem Schoeman ’n groot voorreg toe die RCZ ons vanjaar na hul 33ste sinodesitting op Kathethe genooi het.”
Op besoek aan geskiedkundige RCZ-plekke
Voor hulle besoek aan die RCZ Sinodesitting het dr Zulu vir dr Botes en ds Schoeman eers na ’n paar geskiedkundige RCZ-plekke geneem.
Dr Botes vertel: “Die begraafplaas by die RCZ Madzimoyo naby Chipata het my baie diep getref. Ek het toe besef hoeveel opofferings daar ter wille van die evangelie gemaak moes word. Baie sendelinge, hul vroue en selfs kinders is daar begrawe. Veral die hartroerende woorde op die graffie van ’n baba wat lui, ‘Veilig in Jesus arms’, het my diep getref. Die boodskap wat ek daar ontvang het, was dat ons ook opofferings moet maak ter wille van die evangelie.”
Ds Schoeman verwoord sy ervaring van die begraafplaas as volg: “Ons staan onder ’n boom en kyk na die grafte van Afrikaanse sendelinge wat die lig van die evangelie na Zambië gebring het. Die graffie van ’n kindjie, genaamd Hendrik Jacobus Kriek, wat nog nie eers ’n jaar oud was nie, raak my diep. Wat moes deur die gemoed van die egpaar gegaan het wat langs daardie oop graffie gestaan het? Ek voel hoe die trane binne-in my opwel. Soos ek verstaan, was dit as gevolg van malaria.
“Onwillekeurig vra ek myself af of al hul opofferings om alles te los en Zambië toe te kom, die moeite werd was. Ons gids, ds Moyo, sê die woorde op die steen is in ’n foreign language. Hy verstaan dit nie. Maar vir my is dit nie ’n vreemde taal nie; dis Afrikaans. Dis my moedertaal. Was dit die moeite werd? Ek dink aan Paulus se woorde in 1 Korintiërs 15:58: ‘… jul inspanning in diens van die Here is nie tevergeefs nie.’”
Die tweede plek wat besoek is, was ’n monument ter ere van die vier pilare waarop die sending na Afrika gebou is. Dr Botes verduidelik: “Die eerste pilaar was om die nuus oor Jesus Christus na Zambië te bring. Die tweede pilaar was die opleiding van mense; hulle moes leer lees en skryf. Die derde pilaar was mediese dienste. Die mense se gesondheid was belangrik – daar was baie siektes wat behandel moes word. Die vierde pilaar was landbou. Nuwe, meer effektiewe boerderymetodes moes vir die mense geleer word ter wille van voedselsekerheid. Hierdie vier pilare bly steeds die fokuspunte van die kerk.”
Daarna was die groepie ook op besoek aan ’n jeugbyeenkoms. Ds Schoeman vertel: “Ek kyk op en hoor die luide lofsang van honderde tieners tydens ’n jeugbyeenkoms van elf RCZ-gemeentes in die Madzimoyo-kerkie voor ons. ’n Mens kan die lofprysingsliedere van ver af hoor.
“En ek besef: Die kerkie wat die sendelinge geplant het, is nie dood nie; dit leef. Die Here het die RCZ geseën. Later die dag sou ons die mpunduboom besoek waaronder die eerste erediens op 5 Julie 1899 gehou is. Die kerk wat onder ’n boom begin het, het gegroei tot meer as 1 miljoen lede!
Dr Botes vertel: “Ons was ook op besoek aan die Skool vir Blindes en Dowes op Magwero wat deur die vrouepionier, dr Elsie Botes, begin is. ’n Mens besef net watter ongelooflike deursettingsvermoë dit van dr Botes moes verg om so iets te kon begin en staangemaak het.”
Ds Schoeman vertel: “Mnr Lungu, wat self blind is, het vir ons hier in braille kom lees. Hy lei ook ander blindes op.”
“Hierdie skool het baie mense buiten RCZ-lidmate gehelp – dit was tot groot seën vir almal in Zambië,” vertel dr Botes. “Danksy die opofferinge van ons voorvaders en -moeders kan ons nou die vrug daarvan sien. Daar word nog steeds baie groot en aangrypende werk hier onder baie moeilike omstandighede en met beperkte middele gedoen.”
Die RCZ Sinodesitting
Die hoogtepunt van dr Botes, dr Zulu en ds Schoeman se besoek aan die RCZ was die opening van die sinodesitting op Woensdag 14 Augustus. Die sinodesitting het plaasgevind vanaf 14 tot 17 Augustus by die Kathethe Sekondêre Koshuisskool vir Meisies met Flourishing in Christ (Joh 15:5) as tema. Dr Zulu en ds Schoeman het die NG Kerk van Zambië verteenwoordig en dr Dawie Botes die NG Kerk Sinode Vrystaat. Tydens hierdie geleentheid het hulle ook groeteboodskappe van hul onderskeie kerke gelewer.
Dr Botes vertel: “Woensdagaand se sinode-opening was vir my ’n belewenis. Prof Edwin Zulu, voormalige moderator van die RCZ, asook die vorige hoof van nagraadse studies en navorsing by die Justo Mwale Universiteit en tans die adjunk-visekanselier by die Zambia Open University in Lusaka, het die preek waargeneem met Deut. 10:12 as teksvers.
“Daarna het dr William Zulu, algemene sekretaris van die RCZ, aan die NG Kerk Sinode Vrystaat ’n spesiale geraamde Sertifikaat van Waardering as geskenk oorhandig; ’n gebaar wat besonder deur ons waardeer word.”
Ds Schoeman vertel: “Die saaltjie was stampvol gepak met afgevaardigdes van oral oor Zambië. Dit was ’n inspirerende ervaring toe hulle onbegeleid begin sing het sodat dit gevoel het die saaltjie se dak lig.
“Hulle het ook met ons hul nuwe visie gedeel: Die kerk is ’n Chichewa-kerk, maar hulle wil die taalgrens deurbreek en dit ook neem na dele waar ander tale gepraat word. Hulle het ons voorbidding daarvoor gevra.”
Dr Botes getuig: “Tydens hierdie sinodesitting het ek weer opnuut in aanraking met my teologiese hartklop gekom, naamlik getuienisbediening, of sending. Tydens die preek en sang het ek weer opnuut onder die besef gekom van hoe die Here sy kerk in stand hou; dat ons as instrumente in die Here se hande deel vorm van ’n klein skakeltjie in die groot ketting van God se Koninkryk. Ek het ’n diep geestelike ervaring daar beleef.”
Ten slotte
“Die opofferings van die sendelinge was dus nie verniet nie!” getuig ds Schoeman. “Die Here het die kerk uit sy nate geseën. Dit is die grootste kerk in die familie van Gereformeerde kerke in Suidelike Afrika; dis groter as die NG Kerk.
“Die Afrikaanse woorde op die grafte getuig dat dit deel van ons Afrikaner-nalatenskap is. Ons moet die band met die RCZ koester!”
Dr Botes vertel: “Ek was bewoë oor die opofferinge wat deur die sendelinge gemaak is, die sang van die jeug, my ervaring daar onder die mpunduboom – die kerk wat so van krag tot krag gaan – dit sal altyd een van die hoogtepunte in my bediening bly.”
Kontak
Vir meer inligting kan dr Nico Mostert by missio@ngkvs.co.za gekontak word.
| verskaf deur: Dr Nico Mostert.