Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

DEGNOS – Paasfees 2025

Deur Andries Gous, DEGNOS

Liewe vriende van DEGNOS

Ons dink terug aan ons Here se plaasvervangende kruisdood en sy oorwinning oor die dood. Die graf is leeg – ons Heer het opgestaan! Dood, waar is jou angel nou? Ons leef as mense van hoop!

Omega | Paaskamp 2025

Van reg oor Bwabwata is die sowat sewentig kampgangers aangery na Omega vir die eerste kamp in meer as 25 jaar. Die Evangelisasie-span van Africa Inland Missions het saam met ons eie Smith Muyatwa en Pieter Potgieter die voortou geneem en die kampgangers uit die Woord geleer. Stap vir stap is die gebeure van 2 000 jaar terug deurgewerk. Vanaf die laaste ete tot by Petrus se herstel. 

Die hoofdoel van dié Paaskamp is om gelowiges te leer en om hulle toe te rus, te versterk en in staat te stel om die goeie nuus aan ander oor te dra.

Mangeti Duin | Paaskamp 2025

Ds Amon Petrus doen verslag dat die Paaskamp weereens ’n groot sukses was. Daar was deelnemers van regoor die Na#Jaqna bewaringsgebied.

Dit was die derde Paaskamp vir die Luhebu Noord-gemeente en die gemeente neem self verantwoordelikheid vir die reëlings en die program. DEGNOS help met die kos en die vervoer, maar die res doen die gemeente self. Nog ’n mooi selfstandige tree is gegee in die geskiedenis van hierdie bediening.

Tsintsabis | Paaskamp 2025

Gister, met die aflaai van die kampgangers, voel ek daar is ’n groot opgewondenheid in die motor. Ou Andries Khubeb verduidelik: 

“Ons is krag gegee, ons het nou nuwe wind,” sê hy.

“Ou Andries verduidelik verder: “By ander kerke praat die profete altyd baie, hulle praat hulle eie goed,Ds Regina het ons mooi geleer. Alles uit die Bybel uit. Ons ken nou baie en ons wil gaan vertel vir die ander mense.”

Ou Engela Khubes, Andries se vrou, kan haar opgewondenheid nie inhou nie. “Ds Regina het gesê ons moet nou weer gaan uitsaai wat ons gekry het. Ek wil nou gaan begin, voordat ek vergeet.”

Petrus sê: “Die Here het ook vir my die verkeerde goed in my hart uitgewys, en ek kon saam met ouderling Attie gaan bid en vra dat die Here my moet skoonmaak. Ek voel nou vry!”

Die Paaskamp op Tsintsabis was ’n heerlike sukses. Di Poppie en Regina het hulle goed van hul taak gekwyt om hulle mense te leer. Dit is ’n moeilike taak wanneer die grootste gedeelte van jou mense ongeletterd is, maar met die hulp van die Here is enigiets moontlik.

Veilige paaie

Ons is die Here dankbaar vir al die beskerming wat ons hierdie naweek geniet het. Alex en Pieter het Maandag teruggekom vanuit die Caprivi en Isak vanuit Mangeti Duin. Hou asseblief altyd ons DEGNOS-drywers in u gebede.

Distansies vir elke kamp afgelê:

  • Omega Kamp – 4 630 km (3 voertuie)
  • Tsintsabis Kamp – 2 180 km (2 voertuie)
  • Mangeti Duin Kamp – 1 560 km (2 voertuie)
  • Totaal – 8 370 km 

Sonder u as skenkers en gebedsvennote sou niks hiervan moontlik gewees het nie. Ons dank ons God en Vader vir sy voorsiening deur die liefdevolle vrygewige harte van sy kinders.

Ds Gerrie Cwi kuier in die VSA

Vriende, bid asseblief vir ons geliefde broer wat tans in die grote Verenigde State kuier, waar hy sy volk, die Ju//hoansi mense, verteenwoordig by ’n internasionale konferensie.

Bid asseblief vir Gerrie se beskerming en veiligheid en dat hy ook daar in die vreemde ’n getuie van sy Koning Jesus sal wees.

Almal is moeg

Ná die intense druk van die program met jeugkampe, sinodes en Paaskampe is die DEGNOS-span almal nou ’n bietjie moeg.

Die kantoor en die meeste spanlede sal hierdie week ’n bietjie rus. Ons bid dat die Here elkeen sal laat uitrus en herlaai met nuwe energie vir die volgende skof tot ná die AJV wat in Julie plaasvind.

Op ons program tot dan is die volgende: Tsumkwe Habitatte opleiding deur ds Johannes Aucamp, Caprivi Jeugkamp, Mkata Jeugkamp en Tsumkwe Jeugkamp, Uitreik-groepe van Bloemfontein, Wes-Kaap, Pretoria en Namibië.

DEGNOS-groete

Namens die DEGNOS-span

Om saam aan te sit vir nagmaal bly ’n besonderse geleentheid. Broer Karel Ganseb en broer Andries Khubeb.
Kevin Zwart en van die Omega-kampeerders geniet ’n ete saam.
Ou Andries en Engela borrel van opgewondenheid ná die Paaskamp op Tsintsabis.
Ds Amon wag die gemeente in by die kerk op Mangeti Duin.

 | verskaf deur: Andries Gous