Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis
Hoewel Allah die generiese naam van god vir Moslems is, glo hulle dat Allah nege-en-negentig name het. Die name kom uit die Koran en is beskrywend van sy aard. Daar is ’n legende wat vertel dat Allah eintlik ’n honderd name het. Net Mohammed het egter geweet wat die honderdste naam van Allah is. Die mense van Mekka het toe Mohammed se vrou aangepor om die ontbrekende naam van Allah uit Mohammed te trek. Sy het daarin geslaag en het toe hierdie naam op ’n blaar neergeskryf en in haar kussingsloop weggesteek. Die kussings is in daardie tyd van strooi gemaak. ’n Kameel het die kussing as sy volgende maaltyd aangesien en die kussing, met honderdste naam en al, opgevreet. So was dit dan, volgens die legende, steeds net Mohammed wat hierdie naam geken het.
Wat egter van belang is vir gesprekke met Moslems, veral na aanleiding van die vraag oor die godheid van Jesus, is dat die Koran baie name aan Allah toedig, wat in die eerste plek in die Bybel aan die Here Jesus gegee is. Hierdie name sluit die volgende in:
- Al Haqq: Waarheid (الحق) – Jesus is die Waarheid (Johannes 14:6)
- Al Ba’ith: Opstanding (الباعث) – Jesus is die Opstanding (Johannes 11:25-26)
- Al Awwal: die Eerste (الأول) Al Akhir: die Laaste (الآخر) – Jesus is die Eerste en die Laaste; Alfa en Omega (Openbaring 22:13,16, Jesaja 41:4)
- Al Malik: Koning (الملك) – Jesus is die Koning (Openbaring 17:14)
- Al Hadi: Gids (الهادي) – Jesus is die Gids, Leidsman (Handelinge 3:15)
- An Nur: die Lig (النور) – Jesus is die Lig (Johannes 8:12)
- Al Hakam: die Regter (الحكم) – Jesus is die regter (Handelinge 10:42)
- Al ‘Adl: die Regverdige (العدل) – Jesus is die Regverdige (Hand. 17:31, 1 Johannes 2:1)
- Al Wadud: die Goedhartige (الودود) – Jesus is die Goedhartige (Lukas 18:18)
- Al Hakim: die Wyse (الحكيم) – Jesus is die Wyse (1 Korintiërs 1:30)
- Al Muhyi: die Lewegewer (المحيي) – Jesus is die Lewegewer (Johannes 1:4, 5:26)
- Kalimatu-allah: Woord van God – Jesus is die Woord van God (Johannes 1:1)
- Ruhu-allah: Gees van Allah – God is Gees (Johannes 4:24)
- An-Nasir of As-Samad: die Onderhouer (ننصر) – Jesus is die Onderhouer (Hebreërs 1:3)
- Al-Warith- Die Erfgenaam, Jesus is die Erfgenaam (Hebreërs 1:2)
Die feit dat die Koran hierdie name aan Allah gee, wat reeds eeue te vore aan die Here Jesus in die die Bybel gegee is, moet ons benut in gesprekke met Moslems. Ons moet aan hulle vra hoe dit moontlik is dat Name, waardeur God Homself reeds eeue voor die ontstaan van Islam openbaar het, aan Allah toegedig word. Wys dit nie juis op die ondergeskitheid van die Koran aan die Bybel nie? Wys dit nie daarop dat Jesus God is en Allah ’n maaksel van mense nie?
Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus. Hierdie artikel handel daaroor dat die Koran aan Allah name toedig, wat reeds eeue van te vore gebruik is om Jesus aan te spreek.