Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“Ons is deel van ’n groter geheel …”

Die pragtige handelstad, Karlsruhe in Duitsland, wat langs die magtige Rynrivier geleë is, gaan tans swaar gebuk onder klimaatsveranderinge wat as gevolg van die somerdroogte tans die skeepsvaart bemoeilik en die ekonomie onder groot druk plaas.

Die afgelope tyd het dié stad egter in ’n miernes van kerklike bedrywighede ontaard toe die elfde Algemene Vergadering van die Wêreldraad van Kerke (WRK) daar plaasgevind het. Dr Nico Mostert, direkteur van Vennote in Getuienis van die Sinode Vrystaat, was bevoorregd om deel van die NG Kerk-groep te kon wees wat dit bygewoon het. “Wat ons bywoning nog meer buitengewoon gemaak het, was omdat dit die eerste keer sedert 1968 was dat die NG Kerk amptelik by dié besondere vergadering teenwoordig was,” vertel Nico.

“Die geskiedenis van die WRK dateer tot sover terug as 1910 met die vergadering van die Wêreld-Sendingraad in Edinburgh, Skotland. In 1948 is die eerste Algemene Vergadering in Amsterdam gehou en is dit bygewoon deur 145 kerke van regoor die wêreld. Tans is 347 kerke lede van die WRK en vind dit elke agt jaar plaas. Verlede jaar kon dit, as gevolg van Covid-19, egter nie plaasvind nie en is die byeenkoms uitgestel na vanjaar,” vertel Nico. “Enige persoon kan die geleentheid bywoon, maar slegs lidkerke se afgevaardigdes kan tydens die amptelike vergadering praat en stem. Elke lidkerk vaardig twee amptelike verteenwoordigers af en kan dan ook soveel deelnemers stuur as wat hulle wil.”

Vra jy vir Nico waarom Suid-Afrika vir soveel jare nie by die WRK teenwoordig was nie, verduidelik hy as volg: “Die NG Kerk het in 1968 besluit om die vergadering te verlaat, omdat die WRK skerp kritiek begin uitspreek het teenoor ons kerk se Bybelse fundering van apartheid. Die NG Kerk se hardnekkige volharding met die Bybelse fundering daarvan het daartoe gelei dat die WRK apartheid as ’n sonde verklaar het en ’n skuldbelydenis van die NG Kerk verwag het alvorens ons weer tot hul vergaderings toegelaat sou kon word.

“Met die NG Kerk se skuldbelydenis van apartheid as sonde in 1989 het die deur vir hertoelating oopgegaan. In 2016 het die Central Committee, wat die interim-sake tot en met die volgende Algemene Vergadering hanteer, toestemming aan die NG Kerk se terugkeer verleen. Die 2022-vergadering was dus die eerste vergadering waar ’n amptelike afvaardiging van die NG Kerk sitting ingeneem het – iets wat vir ons ’n besondere gebeurtenis was.” 

Die NG Kerk se amptelike afgevaardigdes was ds Nelis Janse van Rensburg (voorsitter van die Algemene Sinode) en dr Gustav Claassen (algemene sekretaris van die Algemene Sinode). Nico Mostert was daar as deel van die NG Kerk se deelnemerspan. Die res van die span het bestaan uit dr Henco van der Westhuizen, dr Nadia Marais en prof Hannes Knoetze.

“Die Algemene Vergadering van die WRK is die hoogste besluitnemingsliggaam van die WRK,” verduidelik Nico. “Dus is die doel van die byeenkoms om kwessies te bespreek wat deur lede van die 347 lidkerke op die agenda geplaas word. Vanjaar was die brandpunte van bespreking sake soos: ‘Hoe reageer die kerk op die uitdagings van ons tyd gemotiveer deur die liefde van Christus in die oorlog in Oekraïne, die konflik in Sirië en die voortslepende onmin in die Midde-Ooste?’, ‘Covid-19’, ‘Klimaatsverandering’, ‘Groterwordende ongelykhede – minderhede, mense wat leef met gestremdhede en groter-wordende ekonomiese ongelykhede’, ‘Die digitale revolusie’, ‘Die diep gevoel van hopeloosheid by mense dat ’n beter toekoms en moontlikhede vir almal moontlik is in die wêreld’.  Verskeie mosies is dan ook deur die lidkerke ingedien en bespreek.”

Om so ’n groot byeenkoms van by die 4 000 konferensiegangers te akkommodeer, is natuurlik geen grap nie. Nico vertel: “Die kongressentrum waar die vergadering plaasgevind het, is geleë in die hartjie van die stad. Daar was twee groot vergadersale waar al 4 000 mense met gemak kon vergader. Dan was daar ’n reuse-tent opgeslaan waar die aanbiddingsgeleenthede plaasgevind het. Die massa mense is binne ’n uur met kos op verskeie punte bedien, sonder dat ons ooit gevoel het dat ons lank daarvoor moes wag. 

“Die stad het ook sy openbare vervoerstelsel gratis beskikbaar gestel vir die konferensie,” vertel Nico verder. “Almal het met trems en busse tussen hulle verblyf en die sentrum gependel. Saans het die stad ook verskeie musiek- en kulturele geleenthede aangebied wat gratis bygewoon kon word.”

Die tema van vanjaar se Algemene Vergadering, “Christ’s love moves the world to reconciliation and unity” met 1 Korintiërs 5:14 as teks, is gemotiveer deur die volgende: The world has been awakened to the ugly realities of privilege and oppression, of economic, social and ethnic injustices. In the shadow of this experience, the churches will come together, in response to God’s call, to hold a light of hope and to celebrate the love of God the Holy Trinity, a love made fully manifest in Jesus Christ that moves people to reconciliation and unit”. Daar is verder op die tema uitgebrei in verskeie vooraf-vergaderings en ook deurlopend in die Bybelstudies, studiestukke en ekumeniese gesprekke wat plaasgevind het. Die vergadering se simbool het hierdie tema dan ook uitgebeeld. Lees gerus meer oor die simboliek HIER.

“Die atmosfeer was ongelooflik,” vertel Nico. “Die veelheid van tale en kulture wat vir 12 dae saam eet, bid en sing was net onbeskryflik. Almal wil gesels en graag hul wêreld met jou deel. Daar is ook die ontsettende hartseer verhale van oorloggeteisterde gebiede, die vrees van eilande wat kleiner word soos die seevlakke styg en sodoende mense se fisiese wêreld van hulle af wegneem. En dan was daar ook die stories van gestremdes wat verwerp en gemarginaliseer word omdat min die potensiaal in elkeen van hulle raaksien.

“Wat my veral diep getref het, was die Trinitariese God se groot liefde vir die wêreld,” vertel Nico. “God stuur en dring steeds die kerk na die wêreld toe. Ons is so vasgevang hier met ons sogenaamde ‘suiwerheids’-debatte, dat ons nie besef hoe vinnig die wêreld se sekularisasieproses vorder nie. In hierdie soort debatte word jy maklik vasgevang in die opgaan in jouself en hoor jy nie meer die noodkreet van die wêreld nie. Daar is nie ’n soeke by mense na ‘leersuiwerheid’ nie; daar is ’n soeke by mense na God en hoe om sin te maak binne ’n liefdelose wêreld van geweld, verwoesting, oorlog, ekonomiese onreg, klimaatsverandering, steeds-groeiende onreg en die marginalisering van mense.”

So, wat bring Nico terug na die Vrystaat? “Wat hoop gee, is dat die kerk wêreldwyd van die Here Jesus Christus leef! Hierdie kerk lyk oral anders en dien God op hul unieke manier binne hul eie konteks. Die Gees van God oorspan die aarde. Die Missio Dei dring hierdie verskeidenheid van kerke en geloofsgemeenskappe om die mense in hulle konteks te bedien met die liefde van God. Ons, ’n kerk in Suid-Afrika en ook in die Vrystaat, is geroep om hier Jesus se liggaam te wees. Ons is nie die enigste kerk nie. Ons is deel van ’n groter geheel wat bekend staan as die Liggaam van Christus Jesus. Die Trinitariese God is liefdevol werkend in hierdie veranderende wêreld wat die vraag laat ontstaan: ‘Waar en hoe is ons deel van sy werk tegelykertyd in Jerusalem, Judea, Samaria en die uithoeke van die aarde?’ Wat is die kerk (en ook ons kerkfamilie) se roeping binne ons land en ook ons kontinent?

“Ons roeping is nie om verder te verdeel nie. ’n Sterk tema van die eenheid in die liggaam met Johannes 17:20-23 as teks, het in verskeie gesprekke en platforms tydens die Algemene Vergadering gefigureer. My boodskap oral sal wees: ‘Kyk verder as die uiterlike ekklesiologiese verskille. Eenheid is nie eendersheid nie en die twee moenie verwar word en sodoende verhef word tot norm nie. Die Koninkryk van God is ’n weerspieëling van God se kreatiewe diverse skeppingswerk. Om meer van hierdie Koninkryk te laat kom (soos ons bid in die Onse Vader) gaan vra dat ons saamwerk en breër kyk.

“Die vraag word nogal deesdae baie gevra oor wie nou eintlik die ‘ware’ kerk is. Tydens die oggend- en aandaanbiddingsgeleenthede het ek diep onder die indruk van die kreatiwiteit van God se skeppingsdiversiteit gekom. Die Koninkryk van God is in wese divers en insluitend. Elke groep en taal en denominasie weerspieël die beeld van God. Die Koninkryk van God is groter as ’n denominasie. Hoe hierdie diversiteit van mense hul eie oortuigings en geloofsbelewings in God Drie-enig uitdruk, verskil regoor die lengte en breedte van die aarde wat God geskep het.

“Die gedeelde belydenis word as volg in die WRK se stigtingsdokumente beskryf: The World Council of Churches is composed of churches which acknowledge Jesus Christ as God and Saviour. They find their unity in him. They do not have to create their unity; it is the gift of God. But they know that it is their duty to make common cause in the search for the expression of that unity in work and in life. The Council desires to serve the churches which are its constituent members as an instrument whereby they may bear witness together to their common allegiance to Jesus Christ, and co-operate in matters requiring united action.   

“Die ‘ware kerk’ is die kerk wat hierdie belydenis deel,” verduidelik Nico. “Ekklesiologie is die uitdrukking van kerk in die leefwêreld van mense. Dit verskil oor die aarde heen. Met die deelname aan liturgieë wat strek van die ortodokse kerke tot pentakostalistiese kerke, is die belewenis van diversiteit in die Koninkryk van God iets wat voorop staan. As die vraag na die sogenaamde ‘ware kerk’ op die spits gedryf word ten opsigte van die verstaan van wie of wat die kerk is (kerkbegrip), is die gevaar daar dat ’n eie, bekrompe verstaan van kerk en ekklesiologie vooropgestel word as die meridiaan. Enige vorm(s) of uitdrukkings wat anders is as die eie opgestelde meridiaan, word dan afgewys as synde ‘nie die ware kerk nie’. 

“Navorsing is dit eens dat ’n skuif besig is om plaas te vind rondom die verspreiding van die episentrum van die wêreld se Christendom vanaf die noordelike halfrond na die suidelike halfrond. Verder toon die navorsing dat hierdie skuif nie geleë is binne tradisionele hoofstroomkerke nie, maar in Afrika se onafhanklike kerke wat meer charismaties-pentakostalisties georiënteerd is. Die realiteit van hierdie skuif is dat die kerk in Afrika (waar ons kerk is) baie anders daar gaan uitsien in die afsienbare toekoms. Dit bring onmiddellik die vraag na vore wie dan die sogenaamde ‘ware kerk’ gaan wees en watter van dié ‘kerke’ se teologies-dogmatiese argumente deurslaggewend gaan wees. So ’n gespartel en na-binne-gerigtheid neem die fokus weg van ons opdrag soos vervat in Matteus 28:19; om die goeie nuus vir die wêreld te neem.

“Die hoop vir die kerk om die goeie nuus van Jesus as die gekruisigde Christus oor die wêreld heen te dra, is geleë in die ekumene. Daar waar ons op Jesus fokus en elkeen sy of haar roeping uitleef daar waar God hulle geplaas het. Die WRK help juis die kerk om nie na binne te fokus nie, maar na buite waar die nood van ’n verlore-gaande mensdom roep. Daar waar God reeds in sy groot liefde met die Missio Dei besig is. (Johannes 3:16)”

116 | Maatskaplike NOODLYN