Deur Mariëtte Odendaal
Kuunika M’umdima – Lig in die duisternis
“Hierdie viering het ’n duidelike boodskap oor die hele wêreld gestuur: Solank as wat die Kerk van Christus gehoorsaam is aan die roeping en mandaat wat ons in Jesus Christus het, sal die eenheid van die Liggaam van Christus al hoe meer sigbaar word.”
Dr William Zulu
Algemene sekretaris: RCZ
Gedurende die naweek van 6 tot 8 Julie vanjaar het die vlamme van vreugde hoog gebrand by ons susterskerk in Zambië, die Reformed Church in Zambia (RCZ) toe hulle hul 125ste bestaansjaar gevier het.
Maar wat is die storie agter die ontstaan van hierdie besondere susterskerk van ons?
Hoofman Mpezeni was die oudste seun van die Ngoni-leier Zwangendaba, wat in 1835 sy mense uit die hedendaagse KwaZulu-Natal gelei het om van die oorlogsugtige Zoeloekoning Chaka te ontsnap. Die groep het noordwaarts getrek en hulle uiteindelik in Noordoos-Zambië gaan vestig.
Nadat hoofman Mpezeni die NG Kerk-sendingstasie op Mvera in Malawi versoek het om sendelinge na hierdie gedeelte van Zambië te stuur, is die eerste gesante, waaronder die welbekende evangelis Lukasi Chingondo van Mvera, na Noordoos-Zambië gestuur.
Aangesien die NG Kerk in die Wes-Kaap nie hierdie nuwe sendingveld kon ondersteun nie, is hoofman Mpezeni se versoek in 1898 na die NG Kerk Vrystaat verwys.
Nooit sou die afgevaardigde NG Kerk-sendelinge van die Vrystaatse Sinode, di. PJ Smit en JM Hofmeyr, 125 jaar gelede kon droom dat hul eerste erediens tot ’n kerk met meer as 1 miljoen lidmate sou groei nie.
Hierdie nederige erediens het op Sondag 5 Julie 1899 onder ’n reuse-mpunduboom net buite die dorpie Mgwero plaasgevind. Mgwero beteken “begin”, wat in hierdie konteks ’n ryk simboliese betekenis voorspel het.
Nietemin het julle op 7 Julie groot fees gevier. Wat was die hoogtepunte daarvan, William?
“Dit was ’n onvergeetlike ervaring. Hierdie geleentheid is in alle RCZ-gemeentes landwyd met groot prag en praal gevier.
“Die hoogtepunt van die viering was in Lusaka by die Landbouskouterrein. Meer as 3 000 RCZ-lidmate het die funksie bygewoon, met ons jeug se seuns- en meisiebrigades wat die viering verder opgevrolik het. Die geleentheid het begin met ‘n optog langs die Great East-weg en is begelei deur die Zambiese polisie.
“Die president van die Republiek van Zambië, mnr. Hakainde Hichilema, was die eregas by hierdie kleurvolle geleentheid. Van die NG Kerk Sinode Vrystaat was dr Nico Mostert (direkteur van Vennote in Getuienis), mnr Adriaan de Ruiter (hoof van administrasie), ds De la Harpe le Roux (direkteur van Diaconia) en dr Bertus Cilliers (predikant van Rietfontein) teenwoordig.
“Dr Nico Mostert het ’n groeteboodskap namens die NG Kerk aan die RCZ gebring, asook die preek op die Sondag gelewer met Lukas 18 vers 17-24 as Skrifgedeelte. Lukas 8 vers 22 staan op die monument by Mgwero. Dit lees: “En op een van daardie dae het Hy en sy dissipels in ’n skuit gegaan; en Hy het vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die oorkant van die see. En hulle het weggevaar.” Hierdie Skrifgedeelte was die motiveringsteks vir die eerste sendelinge wat van Malawi se kant af daar begin werk het, soos evangelis Chingondo van Mvera.”
William, wat sou jy sê is die betekenis van hierdie viering, asook wat dit van ons eenheid in Christus in Afrika simboliseer?
“Hierdie viering het ’n duidelike boodskap oor die hele wêreld gestuur: Solank as wat die Kerk van Christus gehoorsaam is aan die roeping en mandaat wat ons in Jesus Christus het, sal die eenheid van die Liggaam van Christus al hoe meer sigbaar word.”
Waarop wil die RCZ in die toekoms fokus?
“Die RCZ wil graag relevant bly en ons motto bly uitleef, naamlik Kuunika M’umdima. Dit beteken om die Lig in die duisternis te wees.”
Wat is jou droom vir die RCZ, William?
“Dat die RCZ in alle areas as ’n Bybel-gefundeerde kerk sal floreer. Die Kerk moet te alle tye teen dwaalleringe waak; iets wat ons goeie beeld na buite groot skade in Zambië kan berokken.”
Dr Mostert se groeteboodskap
In dr Mostert se groeteboodskap wens hy onder andere hierdie aan die RCZ toe: “Mag die RCZ aanhou om ‘n deurslaggewende rol in Zambië te speel as ‘n kerk met ‘n profetiese stem; as ‘n kerk wat God se roeping volg en die teenwoordigheid van God aan die mense van Zambië bekend maak.”
Kontak
Dr Nico Mostert by missio@ngkvs.co.za vir meer inligting.
Gedenkmonument op Mgwero waar eerste diens gehou is.
| verskaf