Wat Islam betref, het hulle in hul geloof ses artikels en vyf pilare. Ons kyk eers baie kortliks na die ses Artikels van Geloof en sal ‘n volgende keer meer in diepte na sommige van dié Artikels kyk.
Die ses artikels van die geloof in Islam
1) Geloof in Allah. Hy is vir hulle die almagtige vir wie hulle aan die hand van 99 name ken.
2) Geloof in Allah se engele en Jins (geeste) in diens van Allah. Volgens die Koran is daar ‘n engel op elkeen van jou skouers.
3) Geloof in die boeke van Allah (Quran, Taurah, Zabur en Injil).
4) Geloof in die profete van Allah, van wie Mohammed die laaste is. Hulle erken Jesus net as profeet.
5) Die opstanding uit die dood (Oordeelsdag). Elkeen se dade sal dan voor Allah op ‘n skaal geplaas word, wat hulle ewige bestemming bepaal.
6) Allah se predestinasie.
Die vyf pilare van Islam
1) Die Kalima (geloofsbelydenis): “Daar is geen ander god as Allah nie, en Mohammed is sy profeet”.
2) Die Salat (rituele gebede): Hulle bid vyf gebede op ‘n dag op spesifieke tye. Hulle mag ook andersins bid, maar die rituele gebede is verpligtend. Hulle buig neer in die rigting van Mekka wanneer hulle bid.
3) Die Zakat en Sadaqa: Dit is bydraes wat hulle vir armes en die moskee gee. Dit beloop 2.5% van ‘n persoon se inkomste. Hulle beskou dit as ‘n lening aan Allah, wat tot voordeel van die skenker in berekening gebring word by die eindoordeel.
4) Ramadan: Om te vas vir 28 dae van sonop tot sononder. Dit vind tydens die negende maand van die Islamietiese kalender plaas.
5) Die Hadj: Hierdie pilaar is nie verpligtend nie, maar elke Moslem wat dit kan bekostig, moet een keer in sy of haar lewe ‘n pelgrimstog na Mekka onderneem. Dié wat al ‘n pelgrimstog onderneem het, moet vir hulle wat dit nie kan bekostig nie, help om dit te kan onderneem.
Dit is vir ons, wat die Evangelie met Moslems wil deel, belangrik om hierdie pilare te ken, aangesien dit dien as aanknopingspunt vir die evangelisasiegesprek. ‘n Volgende keer sal ons die evangelisasiegesprek onder die loep neem.