Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

ISLAM IN DIE NUUS: THE SATANIC VERSES

ISLAM IN DIE NUUS: THE SATANIC VERSES

Een van die redes hoekom ons Islam behoort te bestudeer, is dat ons eintlik nie die wêreld om ons kan verstaan as ons nie Islam verstaan nie. Jy kan nie ‘n koerant oopmaak, sonder dat daar ‘n berig is wat nuus uit die Islamitiese wêreld oordra nie. Onlangs is daar berig dat die bekende skrywer, Salman Rushdie, op 12 Augustus 2022 aangeval is. Hy is verskeie kere met ‘n mes gesteek terwyl hy ‘n openbare lesing by die Chautauqua Instituut in New York gelewer het. Hy was in ‘n kritieke toestand, maar dit lyk asof hy die aanval sal oorleef. ‘n Vier-en-twintig-jarige verdagte is gearresteer.

Rushdie het die boek The Satanic Verses[1] geskryf. Die boek handel in kort oor twee karakters, Gibreel en Saladin wat ‘n vliegtuig-ongeluk oorleef. Terwyl hulle na die aarde tuimel, verander Gibreel in die engel Gabriël en Saladin in die duiwel. Nog ‘n karakter, Mahound, se lewe is min of meer gegrond op dié van Mohammed. Gibreel dikteer by geleentheid, op heel grafiese manier, tekste vir die Koran aan Mahound.

Op grond hiervan het die Ayatollah Khomeini van Iran ‘n fatwa oor Rushdie uitgereik wat Moslems gevra het om Rushdie dood af te maak as gevolg van godslastering. ‘n Fatwa[2] is ‘n godsdienstige of juridiese vonnis wat deur ‘n erkende gesaghebbende in geskrewe vorm gepubliseer word.

Rushdie se boek se titel word ontleen aan die oorspronklike, sogenaamde “Satanic verses”, wat in die Koran was. Die verhaal daaragter is dat die mense van Mekka voor die Islamitiese tydperk tradisionele afgode aanbid het, onder andere drie vroulike gode, Lat, Uzza en Manat. Die mense van Mekka sou Mohammed dan oortuig het om hierdie afgode as middelaars toe te laat. In die Kuran[3], Sura (hoofstuk) 53:19 en 20 staan daar: “Het julle dan die afgodsbeelde Lat en Oeza in oorweging geneem, en ‘n ander, die derde: Manaat?” Ná hierdie verse het Mohammed geskryf[4]: “Hulle is die hoë, verhewe kraanvoëls en julle moet op hulle middelaarskap vertrou”.

Die tradisionele siening van Moslems hieroor is dat Satan Mohammed beïnvloed het om hierdie valshede in die Kuran te skryf. Die engel Gabriël sou toe vir Mohammed berispe het dat hy ongehoorsaam was, aangesien hierdie woorde nie van hom (Gabriël) kom nie, maar van Satan. Vandaar dan die benaming “Satanic verses”. Mohammed het hierdie verse toe vervang met: “Is die manlike wesens vir julle en die vroulikes vir Hom? Dit is inderdaad ‘n onjuiste verdeling”.

[1] Rushdie, S. 1988. The Satanic Verses. Viking Penguin: London

[2] Sookhdeo, P. 2013. Understanding Islamic Theology. Isaac Publishing: McLean VA

[3] Die Heilige Quran in Afrikaans, 2005.  IDM PUBLICATIONS: Durban

[4] Rushdie, S. 1988. The Satanic Verses. Viking Penguin: London

116 | Maatskaplike NOODLYN