Deur Mariëtte Odendaal
Afrika, kontinent van Lig
Ons moet anders begin dink oor sending
(Deel 2 van 5)
Eeue lank het sendelinge uit Europa na Afrika gekom om die Lig van Christus te bring, maar tans is juis die omgekeerde besig om te gebeur – die Lig wat in Afrika grondgevat het, word nou weer vanuit Afrika na dele in die noordelike halfrond gebring. Daar is ’n proses van omgekeerde sending besig om plaas te vind.
Dr Nico Mostert
Vennote in Getuienis, NG Kerk Vrystaat
Ons sal as Christene nuut moet begin dink oor hoe ons in en vanuit Afrika die Lig van Christus op ’n vars en betekenisvolle manier kan bly uitleef; om sout vir die aarde en lig vir die wêreld te wees. Daarom is dit van groot belang dat ons as Christenleiers van Afrika om ’n tafel gaan sit en ernstig besin oor waarheen die wêreld op pad is en hoe ons as Christene gelei moet word om as ware navolgers van Christus te leef.
Van 8 tot 9 Maart het die jaarlikse Africa Society for Evangelical Theology (ASET)-konferensie in Nairobi, Kenia plaasgevind, waartydens juis dit gebeur het toe verteenwoordigers uit tientalle kerke byeengekom het.
Uit die geledere van die NG Kerk is dit bygewoon deur dr Nico Mostert (Vennote in Getuienis, NG Kerk Vrystaat), dr Daniël de Wet (Getuienisaksie, Wes-Kaapland) en ds Hannes Theron (NetACT).
In hierdie proses sal ons egter baie anders moet begin dink oor sending?
“Ja, beslis. Twee faktore is hier van belang. Ons sal eerstens ’n nuwe en relevante ‘taal’ moet begin gebruik; die huidige taal is vasgeval in kolonialisme omdat die sendelinge saam met kolonialisme Afrika binnegekom het. Sendelinge het nie los gestaan van die koloniale uitbreiding van Europa nie.
“In plaas van byvoorbeeld die woord ‘sending’ kan ons eerder praat van ‘getuienis’. Dit resoneer baie sterk in ons Gereformeerde tradisie, die marturia (Grieks vir getuienis); dat ons juis sê dat een van die kerntake van die kerk is om in die wêreld te getuig.
“Dr Kwinyani maak ’n sterk punt oor die belangrikheid van terminologie en taal, veral oor die militaristiese terme wat ons gebruik; iets wat deesdae vir my ook bekommerd maak, omdat die wêreld tans baie deur geweld geteister word. Vroue en kinders word veral swaar getref deur oorloë in Oekraïne en die Midde-Ooste (die Israel-Hamas-oorlog), Sudan, ensovoorts.
“Is hierdie militaristiese terme nog nodig? Is die evangelie op sy eie nie genoeg nie? Met Paasfees wat so pas verby is, is dit ’n bevrydende sekerheid om die finaliteit van Christus se offer aan die kruis te vier. Dit was genoeg; dis afgehandel.
“Tweedens is migrasie ook ’n belangrike faktor. Alhoewel dit nie iets nuuts is nie, moet ons daarop let hoe menslike beweging plaasvind. As gevolg van kolonialisme, slawehandel, sendingwerk, ensovoorts, was daar die afgelope 300 jaar groot strome van migrasie tussen Europa en Afrika. Vandag migreer mense vinniger en in alle rigtings oor die wêreld heen. Dit speel af op baie terreine, soos ons kinders wat oral in die wêreld gaan werk; migrasie is dus ’n hedendaagse werklikheid.
“Dr Kwinyani wys ons daarop dat God mense in beweging bring en dat die kerk dit as sy taak moet verstaan om die Goeie Nuus vanuit Afrika na die sekulêre noordelike halfrond te bring. God gebruik gelowiges in migrasie om die Lig na ander dele van die wêreld te bring.
“Hy haal interessante statistieke aan: Op ’n Sondagoggend woon tussen 16 en 18% van die Londen-bevolking ’n kerkdiens by. Van daardie persentasie is 65% vanuit kerke in Afrika.
“In vergelyking met die deursnee Engelse bevolking het hierdie immigrante wat kerk bywoon, gewoonlik ’n baie dieper begrip van kerkwees en verbintenis met hul kerke; hulle bring ook nuwe energie na die geloofsgemeenskappe.”
Al die temas en akademiese voorleggings wat tydens die konferensie bespreek is, sal later in ’n boek opgeneem en as deel van ’n reeks gepubliseer word. Langham Publishing is ’n vennoot van ASET wat dit jaarliks moontlik maak.
Kontak
Dr Nico Mostert by missio@ngkvs.co.za vir meer inligting.
| verskaf: Deur dr Daniël de Wet (Getuienisaksie, Wes-Kaapland)
| verskaf: Dr Harvey Kwiyani
| verskaf: ASET-konferensie te Nairobi op 8 Maart 2024