Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis
Soos voorheen genoem, is dit nogal ’n missie om uit Moslems ’n samehangende antwoord te kry op hulle aanspraak dat die Bybel gekorrupteer is. Wanneer mens wel ’n goeie antwoord kry (wat steeds feitelik verkeerd is), dan is Paulus saam met Konstantyn hoog op die lys van hulle verdagtes. Die Koran erken op drie plekke die bestaan van Jesus se apostels. Daar is egter geen verwysing na Paulus nie.
Op ’n blog “The Sincere Seeker”[1] skryf ‘n anonieme skrywer ‘n artikel “The Role of Paul in Christianity and How He destroyed the Teachings of Jesus Christ”. Hierin gee hy ‘n samehangende uiteensetting van hoe Moslems argumenteer dat Paulus die Bybel se boodskap gekaap het. Die gevolg is dat die boodskap wat deur die moderne Christendom verkondig word, nie die boodskap van Jesus is nie, maar dié van Paulus.
Een van die sogenaamde dwalings van Paulus sou dan wees dat hy Christene opgeroep het om Jesus as God te aanbid – iets wat Jesus self dan nie sou gedoen het nie. Die argument word ook gebou op die feit dat die geskrifte van Paulus meestal ouer as die vier Evangelies is (’n stelling wat waar is) en dat hy daarom die evangelieskrywers beïnvloed het om nie altyd feitelik korrek te wees nie.
‘n Teks uit die Bybel waarop hy, en bykans elke Moslem met wie in gesprek getree word, hamer, is die Here Jesus se woorde in Matteus 5:18-19 waar daar staan: “Ek sê vir julle: Totdat die hemel en die aarde tot niet gaan, sal daar beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie, totdat alles vervul is. “Wie dus een van die geringste van hierdie gebooie afskaf en die mense so leer, sal die geringste in die koninkryk van die hemele genoem word. Maar wie dit onderhou en ander daarin onderrig, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.”
In kommentaar op bogenoemde teks sê hierdie blogger dan: The New Testament that is now in existence contains more writings of Paul than any other source. All his reports were written before the four Gospels. They are influenced mainly by the teachings and innovations of Paul, even though his writings consist of hundreds of inconsistencies and contradictions! Paul abolished God’s laws, such as not eating pork, fasting, observing the Sabbath, and the instruction of circumcision.”
Paulus leer nêrens dat Christene wetteloos moet wees en die Here se wet moet ignoreer nie. Die teendeel is waar. Wat hy wel voortdurend leer, is dat die mens nie deur die onderhouding van die wet gered kan word nie. Moslems, wat egter geen konsep van die Bybelse betekenis van genade het nie, verstaan hierdie boodskap van Paulus as anargie en opstand teen God.
Die aangehaalde skrywer maak dan ’n argument daarvoor uit dat Allah vir Mohammad gestuur het sodat hy die Koran kan skryf om Christene wat deur Paulus verwar is, reg te help. As ondersteuning vir sy argument haal hy ’n vers uit die Koran aan, naamlik Sura 5:7, waar daar staan: “Say, “People of the Book, do not overstep the bounds of Truth in your religious beliefs. Do not follow the whims of the people who went astray before you. They have led many others astray, and they continue to stray from the right path.”
Alle profete het wonderwerke gedoen. Paulus het nie. Dit, sowel as die sogenaamde valse boodskap wat hy geskryf het, sou dan van hom ‘n valse profeet maak. Hy haal Sura 2:79 aan ter ondersteuning van sy standpunt: “So woe to those who write the Scripture with their own hands and then claim, ‘This is from God,” to exchange it for a small gain. Woe to them for what their hands have written and woe to them for what they have earned.”
Hierdie siening is deurspek van onjuisthede. Dit help ons egter om iets te verstaan van Moslems se bewering dat die Bybel gekorrupteer is. By ‘n volgende geleentheid kyk ons na ons antwoord op hierdie aantygings.
Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus. Hier is nog ’n artikel oor die Moslems se aanspraak dat die Bybel gekorrupteer is. In hierdie geval is dit Paulus se “skuld”.
Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za