Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Was die doel van die Koran om die inhoud van die Bybel in Arabies weer te gee?

Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie

Die kern van die argument rondom die “Islamic dilemma” is dat die Koran die inspirasie, gesag en bewaring van die Nuwe Testamentiese Evangelies bevestig; tog weerspreek die Koran ook die Evangelies op belangrike teologiese en historiese punte. Daarom kan die Koran nie betroubaar wees nie.

Volgens die Koran is die Evangelie die betroubare openbaring van God en is dit vir die mensdom as ’n gids gegee (Sura 3:3-4). Die Evangelie was beskikbaar (en as betroubaar geag) toe die Koran in die 7de eeu n.C. geopenbaar is. Diegene wat toegang tot die Evangelie gehad het, is herhaaldelik aangesê om gehoorsaam te wees daaraan, op grond daarvan te oordeel en hulle daaraan te onderwerp. Volgens die Koran is die Evangelies dus die geïnspireerde en gesaghebbende woorde van God.

Die Koran sê in Sura 5:47: “En laat die mense van die Evangelie oordeel volgens wat Allah daarin geopenbaar het.” Verder sê die Koran in Sura 5:68: “Mense van die Skrif, sê dat julle op niks staan en onderhou nie, buiten die wet van die Torah en die Evangelie van julle Here, wat aan julle geopenbaar is.”

As die Evangelies in die 600’s nC betroubaar was, dan is hulle vandag beslis ook betroubaar, want ons bestaande manuskripte is eeue ouer as die Koran[1]. Wat ook baie belangrik vir Moslems is, is die Koran se stelling dat niemand die woorde van Allah kan verander nie. Sura 6:115 sê: “En die woord van jou God is vervul in waarheid en in geregtigheid. Niemand kan Sy woorde verander nie, en Hy is die Horende, die Wetende.” As die Evangelies die woorde van God is, en niemand kan God se woorde verander nie, dan moes die Evangelies dus ook volkome deur God bewaar gewees het. Andersins is die Koran verkeerd.

’n Logiese vraag om te vra is dat as die Koran die inspirasie, bewaring en gesag van die Evangelies bevestig, wat was dan die beoogde doel van die Koran? Moslems se standaard antwoord is dat die Koran aan die Arabiere in en om Mekka geopenbaar is, sodat hulle die Skrifte in hul eie taal kon hê. Dit was ’n boek wat bedoel was om dit wat God reeds aan die Jode in die Torah en aan die Christene in die Evangelie geopenbaar het, te bevestig, sodat die Arabiese mense geen verskoning sou hê op die Oordeelsdag nie (Koran, Sura 6:155-157; 42:7).

Die Koran sê in Sura 3:3: “Hy het die Boek in waarheid op jou neergestuur, [O Muhammad], wat bevestig wat voor dit was. En Hy het die Torah en die Evangelie geopenbaar.” Sura 6:92 gaan dan voort om die gerigtheid op Mekka en die Arabiere aan te dui as daar staan: “En dit is ’n Boek wat Ons neergestuur het … sodat jy die Moeder van Stede en diegene rondom dit kan waarsku. Diegene wat in die Hiernamaals glo, glo daarin, en hulle handhaaf hul gebede” (sien ook Sura 2:89; 5:48; 10:37; 35:31; 46:12; 46:30).

Hierdie lyn van argumentering bring ’n onhoudbare dilemma vir Moslems mee, waarna ons volgende keer gaan kyk.

[1] Laura Powel, The Islamic Dilemma: A game-changer for conversations with Muslims, soos gevind op https://gcdiscipleship.com/article-feed/the-islamic-dilemma-a-game-changer-for-conversations-with-muslims.

Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Hier is nog ’n artikel in die reeks oor apologetiese gesprekke met Islam. Hierdie artikel gaan in kort oor hoe Moslems se siening oor die Bybel uiteindelik die Koran diskrediteer. Om die argument tot die einde toe logies te voer, verg ruimte. Ek sal die volgende artikel by hierdie een laat aansluit om die dilemma wat die Moslems oor die verhouding Bybel:Koran het uit te stippel.

Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za