Daar is meer as sewentig verskillende groeperings binne Islam, waarvan die grootste die Sunni’s en die Shi’iete is. Sunni’s vorm die meerderheid – ongeveer 85%. Daar is ongeveer 1,6 miljard Sunni’s en 200 miljoen Shi’iete. Boonop is Shi’iete oor die algemeen in die Midde-Ooste gekonsentreer, terwyl Sunni’s meer verspreid is van Wes-Afrika tot Indonesië.
Aangesien ons verlede keer gekyk het na die skeuring wat gevolg het op Mohammed se dood en die stryd om leierskap wat dit tot gevolg gehad het, kyk ons nie nou weer daarna nie. Daar is egter ’n hele paar ander verskille wat hier genoem en kortliks op uitgebrei word[1]:
Sunni’s het ‘n eenvoudiger godsdienshiërargie. Sunni’s laat die regering toe om hul sê te sê oor wie as leier aangestel word. Shi’iete het weer volle beheer oor hul hiërargie, en die geestelikes is altyd iemand uit die direkte lyn van Ali ibn Abi Talib.
Hulle het verskillende sienings oor die hiernamaals[2]. Beide Sunni’s en Shi’iete deel die oortuiging dat daar ‘n hiernamaals is. Beide groepe glo ook dat daar ‘n paradys en ‘n hel is. Die skeiding tussen die Sunni’s en die Shi’ïete lê in hoe jy by óf die Paradys óf die hel kom. Sunni ’s glo dat hulle geloof in Allah en sy profete moet hê, dat hulle moet glo in die regverdige dade wat in die Koran beveel word, en hulle moet Mohammed as die finale profeet erken om ‘n kans te staan om die paradys binne te gaan. Selfs al beoefen hulle al hierdie dinge, glo hulle dat hulle steeds aan die genade (of juis gebrek daaraan) van Allah se oordeel oorgelewer is.
Hulle bid verskillend[3]. Beide Sunni- en Shia-Moslems glo daaraan om die vyf gebede per dag op te sê, maar die manier waarop hulle bid is baie verskillend. Sunni’s sê byvoorbeeld elkeen van die vyf gebede afsonderlik op, sodat hulle vyf keer per dag bid. Shi’ïete sê egter al vyf gebede verspreid op oor drie gebedsessies. Boonop bid Sunni’s met hul arms oor hul bors gekruis, terwyl Shi’iete met hul arms langs hul sye bid.
Hulle het verskillende oortuigings oor Imams. Imams is mense wat die Moslem-gemeenskap lei. In ons kultuur staan hulle as predikante bekend. In Sunni-Islam word Imams as heiliges beskou, en daar word van hulle verwag om ‘n sterk geloof in die Koran en ander geskrifte te hê om aangestel te word. In Shia-Islam word Imams egter net deur God aangestel. In Shia-Islam is Imams ook die enigste wettige vertolkers van die Koran.
Hulle het verskillende oortuigings oor selfkastyding. Sunni’s gaan nie akkoord met die praktyk van selfkastyding nie. Selfkastyding beteken in hulle konteks die daad om jouself te gesel, veral as ‘n vorm van godsdienstige dissipline. Deur Sunni’s word selfkastyding as ‘n sonde beskou. Aan die ander kant beoefen Shi’iete selfkastyding aktief as ‘n manier om die martelaarskap van Hoessein in 680 n.C. te herdenk.
Shi’iete erken tydelike huwelike. Tydelike huwelik is ‘n ou praktyk in Islam wat tipies plaasgevind het wanneer ‘n man sy vrou moes verlaat op ’n ver reis. ’n Tydelike huwelik verenig in wese ‘n man en vrou, maar slegs vir ‘n aangewese tyd, dit wil sê tydelik. In Shia-Islam word hierdie praktyk steeds gerespekteer, terwyl hulle in Sunn-Islam glo dat dit egbreuk is.
Shi’iete word toegelaat om by grafte te aanbid. Shia-Moslems moedig gebed by grafte aan. Hulle glo dat selfs al is ‘n mede-Shi’iet oorlede, hulle hul steeds op die weg van Allah bevind. Sunni’s is egter heeltemal daarteen gekant om by grafte te bid. Hulle beskou dit as ‘n sonde, want dit beteken vir hulle dat jy op iemand anders as Allah staatmaak vir hulp.
Hulle het verskillende sienings oor engele. Albei groepe deel die oortuiging dat engele bestaan en deur Allah uit lig geskep is. Sunni’s glo dat engele altyd Allah se wette gehoorsaam, omdat hulle geen vrye wil het nie. Shi’iete glo egter dat engele wel vrye wil het en hulle in staat is om af te dwaal. Shi’iete glo egter dat engele nie ongehoorsaam kan wees nie, want hulle het geen begeerte om te sondig nie.
Hierdie is ’n paar van die belangrikste verskille tussen die twee grootste groepe in Islam.