Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie
In die vorige artikel het ons gesien dat, volgens die Pew Research Centre se verslag van Junie 2025, Islam tans die snelgroeiendste geloof wêreldwyd is, hoofsaaklik weens natuurlike demografiese groei, dit wil sê hoër geboortesyfers en ’n jonger gemiddelde ouderdom in Moslem-meerderheidstreke soos Sub-Sahara-Afrika en die Midde-Ooste. Terselfdertyd neem die aantal mense wat hulself as godsdienstig ongebonde identifiseer ook toe, veral in Westerse lande.
’n Belangrike vraag is hoe ons as Christene liefdevol op dié verslag behoort te reageer. Daar is seker baie goeie antwoorde op hierdie vraag, maar dit kom waarskynlik op die volgende neer:
Erken die data met nederigheid. Ons aanvaar die demografiese realiteite van hierdie verslag sonder vrees of ’n verdedigende houding. Ons behoort weer die saak te beklemtoon dat die Kerk se roeping nie oor getalle gaan nie, maar oor getrouheid aan Christus se oproep om lief te hê, te dien en te getuig.
Verstaan die aard van die groei soos beskryf in die Pew-verslag. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat Islam se groei, volgens hierdie verslag, hoofsaaklik demografies is en hoegenaamd nie deur massabekerings nie. Ons behoort daarmee saam te beklemtoon dat die Christendom steeds die grootste geloof wêreldwyd is, al het die getalle in sekere streke afgeneem.
Herbevestig dissipelskap en evangelisasie as doel van die kerk. Ons behoort te fokus op die verdieping van gelowiges se geloof eerder as net getallegroei. Hierdie verslag is vir ons ’n oproep om opnuut verhouding-gedrewe evangelisasie aan te moedig. Nou, meer as ooit, behoort ons te fokus op die verkondiging van die evangelie met ’n gesindheid van liefde, gasvryheid en integriteit.
Betrek die “nones” met deernis. Die “nones” is mense sonder enige godsdienstige affiliasie, wat nou die derde grootste groep ná Christene en Moslems is, met 24% van die wêreld se bevolking wat hulself as sodanig identifiseer. Baie “nones” is nie vyandig teenoor geloof nie. Hulle is dikwels eerder teleurgesteld in die kerk, of godsdienstig nuuskierig. Die Kerk kan deur egtheid en christelike liefde aan hulle ’n gemeenskap (geestelike tuiste), doel en hoop bied in ’n gefragmenteerde wêreld.
Vier die groei in die wêreldwye Kerk. Die Christendom groei vinnig in dele van Afrika, Asië en Latyns-Amerika. Die Kerk behoort hierop te let en daardeur geïnspireer te word.
Nog ’n paar sake wat ons in reaksie op hierdie verslag behoort te onthou, is dat ons dit moet vermy om Islam as ’n bedreiging voor te hou. Dit kan Moslems vervreem en ’n vlek laat op die evangelie se aanslag van liefde.
Hou ook in gedagte dat demografie nie die toekoms bepaal nie. Die vroeë Kerk het gegroei deur getroue getuienis en opofferende liefde, nie deur geboortesyfers nie. Die kerk het juis gegroei in die mees beproewende tye.
Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za
Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Hierdie is ’n opvolg-artikel wat handel oor ’n verslag van die Pew Research Centre wat bevind het dat Islam die snelgroeiendste godsdiens in die wêreld is.

