Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Kontrasteer die Bybel en die Koran in gesprek met Moslems

Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis

Ons het in die vorige kort artikel gesien dat Christene met vrug die Koran kan gebruik in evangeliese gesprekke met Moslems. Ons moet net weer daarop let dat die gebruik van die Koran nooit impliseer dat ons as Christene enige inherente waarde aan die Koran heg nie. Dit is egter goed om die Moslems te bereik op terrein wat vir hulle bekend is.

Ons het reeds gesien hoe die verhaal van Jona gebruik kan word deur die parallelle van dié verhaal in sowel die Bybel as die Koran aan te haal en op die feit te wys dat die Bybelse weergawe meer volledig is en ook die oorspronklike (en dus korrekte) weergawe is.

Ander parallelle verhale sluit onder andere die volgende in[1]:
  • Die skepping: lees Koran 7:54 en lees dan Genesis 1.

  • Job: lees Koran 21:83-84, 38:41-44 en lees dan Job 1-2 en 40-42.

  • Die prediking en wonders van Jesus: lees Koran 3:48-49 en lees dan Matteus 5-7 en 8-9.

  • Die wederkoms van Jesus: Dit is nie in die Koran nie, maar die meeste Moslems glo dit. Lig die onderwerp uit en lees Matteus 24-25.
Hierdie oefening gee Moslems die praktiese ervaring daarvan om die afhanklikheid van die Koran van die Bybel te sien en die noodsaaklikheid daarvan om vertroud te raak met die wet, profete en evangelie.
‘n Tweede belangrike manier om die Koran in evangeliese gesprekke met Moslems te gebruik, is om die Bybel met die Koran te kontrasteer.[2]

Voorbeelde hiervan is onder meer:

  • Mohammed is nie gelyk aan Jesus nie: Vergelyk 1 Petrus 2:21–22 met Koran 47:19: “Weet dus (O Muhammad) dat daar geen god behalwe Allah is nie, en vra vergifnis vir jou sonde en vir gelowige mense en gelowige vroue.”

  • Mohammed het nie geweet wat God met hom sou doen nie: Vergelyk Johannes 8:14 met Koran 46:9: “Sê: Ek is nie iets nuuts onder die boodskappers nie, en ek weet nie wat met my gedoen sal word nie of met jou. Ek volg net wat aan my geopenbaar is. Ek is net ’n waarskuwer.’”

  • Die Koran beskryf die paradys as ‘n plek van plesier vir mense, terwyl die Bybel die mensdom in die teenwoordigheid van God beskryf: Vergelyk Koran 56:1-56 met Openbaring 21–22.

Deur onderwerpe soos hierdie aan die orde te stel kan interessante gesprekke begin oor wat Moslems en Christene glo, of iets gee vir jou Moslem-gespreksgenoot om weg te gaan en oor na te dink.

Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus. Hierdie artikel handel oor hoe om die Bybel met die Koran te kontrasteer in gesprek met Moslems.

[1]  Green, S. 2023. Using the Quran in Evangelism. The Gospel Coalition

[2]  Green, S. 2023. Using the Quran in Evangelism. The Gospel Coalition

116 | Maatskaplike NOODLYN