Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

HOE OM DIE EVANGELIE MET MOSLEMS TE DEEL

Ons het verlede keer baie kortliks gekyk na die Artikels en Pilare van Geloof van Islam. Dit sal goed wees om gou weer daarna te kyk voordat jy verder lees aan vandag se inligting. Ons sal by ‘n volgende geleentheid terugkeer na die Artikels om te sien wat Moslems byvoorbeeld glo van Allah en sy engele; wat hulle siening van die Quran is, Isa (Jesus) se wederkoms, en so meer.

Ek wil net daarop wys dat daar ook heelwat ander gesprekke met Moslems gevoer kan word, byvoorbeeld apologetiese gesprekke. Ook daarna kyk ons ‘n volgende keer.

‘n Eenvoudige manier om die Evangelie met Moslems te deel, kan as volg daaruit sien: Stel jouself voor aan die Moslem. Noem dat jy ‘n Christen is. Vra hom/haar of jy hom ‘n paar vrae oor sy geloof kan vra.

Die eerste vraag is: “Kan jy asseblief die vyf pilare van Islam vir my noem?” Die meeste van hulle doen dit graag, omdat hulle die meeste daarvan ken. Daardeur stel jy hom/haar ook op hulle gemak omdat dit bekende terrein vir hulle is.

Die tweede vraag is: “As jy hierdie vyf pilare van Islam getrou onderhou, is jy dan verseker van ‘n plek in die hemel?” Hoewel party van hulle “ja” antwoord, is die feit van die saak dat hulle nié op grond daarvan seker is nie. Trouens, Moslems kan nóóit seker wees van wat met hulle in die hiernamaals gaan gebeur nie – iets wat in die gesprek benut moet word.

Die derde vraag is: “Glo jy in Jesus?” Hulle sal dan antwoord dat hulle in Hom glo; dat Hy vir hulle ‘n profeet is, maar hulle erken Hom nie as God nie. Hulle noem Hom Isa. As hulle dit (Jesus se godheid) nie uit hulle eie sê nie, is dit goed om hulle pertinent daaroor uit te vra.

Die vierde vraag is eintlik ‘n manier om die rigting van die gesprek om te draai. Jy vra: “Baie dankie vir jou opinie oor Isa. Kan ek jou vertel wat my getuienis oor Jesus is?” In kort vertel jy hom/haar dan dat jy glo dat Jesus God is, dat Hy gesterf het vir ons sondes en dat jy op grond daarvan séker (na aanleiding van die tweede vraag) is dat jy die ewige lewe sal beërwe.

Sommige Moslems sal bietjie oor jou getuienis debatteer, wat jou die geleentheid gee om die Evangelie verder in te skerp. Wat egter belangrik is op hierdie punt, is om pen en papier te hê om óf jou kontakbesonderhede (verkieslik jou e-posadres) vir hulle te gee, óf om hulle besonderhede te kry vir kontak in die toekoms. Waar jy wel kontakbesonderhede kry, is dit geweldig belangrik om die gesprek op te volg.