Skip to content Skip to footer

Raakgelees … “Unblocktober” – ’n Roeping tot rentmeesterskap van God se skepping

Deur Mariëtte Odendaal

Laat ons dus elkeen in ons eie huis, straat en dorp begin – klein stappies wat saam groot veranderinge kan meebring.

Unblocktober is die wêreld se eerste nasionale veldtog en bewusmakingsmaand wat daarop gemik is om die effektiewe werking van dreine, riole, waterstrome en oseane te herstel en te verbeter.

Wat hierdie inisiatief besonders maak, is dat dit nie deur regerings of groot organisasies begin is nie, maar deur gewone mense wat snap dat die manier waarop ons leef, ’n direkte invloed op die skepping rondom ons het.

Die veldtog is in 2019 in Brittanje geloods en het meer as 4 500 mense aangespoor om hul daaglikse kombuis- en badkamergewoontes te verander. Teen 2022 het daardie getal gegroei tot meer as 66 000 – ’n duidelike bewys dat klein veranderinge ’n enorme impak kan hê.

Vanjaar word daar weer ’n oproep op mense gedoen om betrokke te raak – nie net ter wille van die omgewing nie, maar ook as ’n daad van verantwoordelikheid teenoor toekomstige geslagte.

 Wat kan ons in Suid-Afrika prakties doen om hierdie inisiatief na te volg?

  • Gooi olie, vet en kosreste in ’n houer weg eerder as in die wasbak.
  • Gebruik natuurlike skoonmaakmiddels waar moontlik, en spoel net water in die drein af.
  • Herwin plastiek, papier en ander materiale sodat dit nie ons riviere en damme besoedel nie.

Ons Bybelse roeping

Vir ons as gelowiges gaan dit egter oor meer as net goeie gewoontes. Genesis 2:15 herinner ons daaraan dat God die mens geroep het om die tuin te bewerk én op te pas. Dit beteken dat rentmeesterskap van die skepping deel is van ons geloofsroeping. Wanneer ons sorg dat ons water skoon bly, ons dreine nie beskadig word nie, en ons strande en oseane nie besoedel word nie, leef ons in gehoorsaamheid aan hierdie roeping.

Laat ons dus elkeen in ons eie huis, straat en dorp begin – klein stappies wat saam groot veranderinge kan meebring. So word selfs ons kombuis- en badkamergewoontes ’n daad van verantwoordelikheid en ’n seën vir die geslagte wat ná ons kom.

Lees meer daaroor HIER