Deur dr Leon M Foot, uitvoerende amptenaar van Bedieningsbegeleiding
Ek hou van aanhalings. Ek onthou van skooldae af dat ‘n kort, kragtige boodskap my aangespreek het. Langenhoven se As die kortpad die beste was sou die hoofpad daar geloop het, sê soveel meer as die blote woorde.
Later op universiteit het my kamermaat ‘n luukse boek met aanhalings gehad. Die titel was na aanleiding van Spreuke 25:11 Goue appels op versierde silwerborde, so is ’n woord op sy tyd gespreek. Ek onthou dat ek erg beïndruk was met die wysheid van vele denkers wat daarin opgeteken was. Ek het dan ook in my eerste jaar my eerste boek met aanhalings gekoop.
Sedertdien het dié soort boeke net bly vermeerder. Ek bly verstom oor sommige mense se woordvaardigheid: digter, skrywers, filosowe, denkers. Soms is dit ‘n mooi opsomming van ‘n bepaalde situasie, soos die paleo-antropoloog Louis Leakey wat sê: The fossils we find in Africa are like pages in a great book, telling us the story of how we became human. Of die woorde van Pliny die Ouere se ex Africa sempres aliquid novi (Uit Afrika kom daar altyd iets nuuts).
Dikwels verwoord aanhalings bepaalde wyshede wat mense help om beter te lewe. En dis nie nuut nie. Die ou Grieke het reeds hieroor gedink: Sokrates het gesê ‘n lewe wat nie ondersoek word nie, is nie werd om te lewe nie. Aristoteles se bydrae was: It’s the mark of an educated mind to be able to entertain a thought without accepting it. En Plutarchus leer ons The mind is not a vessel to be filled, but a fire to be kindled. Ook die Sjinese het die waarde van onderrig in spreuke vervat: Vra ‘n vraag en jy is ‘n dwaas vir drie minute – vra nie die vraag nie, en jy bly ‘n dwaas vir altyd.
In Spreuke word pertinent gesê Dié spreuke is bedoel om mense wysheid te leer en hulle te onderrig sodat hulle sal weet wanneer iemand verstandig praat (1:2). Iemand wat reeds wysheid verkry het (gewoonlik geleer deur onwyse optredes!) verwoord sy insig om ander te help om nie in dieselfde slaggate te trap nie. Agter elke spreuk is daar dus ‘n groter prentjie om raak te sien. As Voltaire sê dat die perfekte die vyand van die goeie is, het hy waarskynlik al gesien hoe mense verlam word omdat hulle bang is hulle pogings is nie perfek nie. En Benjamin Franklin se All men are created equal kom juis uit ‘n tyd toe mense dikwels nie so gesien is nie.
Gelowiges hou daarvan om tekste uit die Bybel aan te haal. Enige skolier wat eksamen skryf, ken Filipense 4:13 (Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee). Ander hou vas aan Jeremia 29:11 (Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!). Soms maak mense selfs Bybelse beloftes net so op hulle self van toepassing. En hier verskil die Bybel van ‘n boek met aanhalings.
Alhoewel die Bybel vol aanhaalbare tekste is, is dit nie ‘n versameling wyshede nie. Dis nie ‘n boek om oop te slaan en een of ander motiverende sêding uit te haal om jou dag mee op te vrolik nie. Die Bybel is die verhaal van God se betrokkenheid by sy skepping. Elke aanhaling is deel van ‘n groter verhaal. As Dawid skryf: In U hand is ek veilig is dit vanuit sy lewende verhouding met God – nie iets wat ‘n dwaas voor in sy dagboek kan skryf nie.
Ons kan die lewe mooi verwoord in slim woordspelings, maar die lewe is nie ‘n string one liners nie. Die lewe – met of sonder aanhalings – word geleef in verhouding met die lewende God. Net die dwaas (Psalm 14) dink in sy hart dat daar geen God is nie!
| Verskaf: Dr Leon M Foot

