Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ontmoeting met Heiliges: Benediktus

Deur Mariëtte Odendaal

“In ’n tyd van sosiale omwenteling het Benediktus ruimtes van orde en diens gestig wat ’n groot invloed gehad het op die samelewing.”

| Dr Lisel Joubert
Aanbieder van die “Ontmoeting met die Heiliges”-reeks

Soos in ons vorige Vrypos-uitgawe oor die Ontmoeting met die Heiliges-reeks genoem, het dr Lisel Joubert, verbonde aan die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie van die Fakulteit Teologie by die Universiteit Stellenbosch, op Donderdag 25 Januarie die reeks ingelei met ’n aanbieding oor Benediktus. Ons het meer gaan uitvind.

 | verskaf: Dr Lisel Joubert, die aanbieder van Ontmoeting met Heiliges 2024.

Lisel, vertel ons meer oor die tyd waarin Benediktus geleef het en hoe die behoefte aan die eerste geordende monastiese gemeenskappe ontstaan het.
“Benediktus van Nursia (480–550) het geleef in ’n tyd van sosiale omwenteling ná die val van die Romeinse Ryk in die vyfde eeu. Dit was ’n tyd van wetteloosheid en onsekerheid.

“As jong seun is hy deur sy welgestelde ouers na Rome gestuur om retoriek te bestudeer en die politieke of regswêreld te betree. Hy was egter so geskok deur die leefstyl van sy mede-studente dat hy sy posisie en besittings prysgegee en 50 kilometer van Rome in die heuwels in ’n grot naby Subiaco in afsondering gaan bly het.

“In dié tyd het klein kloostergemeenskappe reeds bestaan, veral in die suide van Europa, wat beïnvloed is deur die voorbeeld van die woestynvaders en -moeders van Egipte en Sirië. Daar was egter geen homogene sisteem nie.”
Hoe het die eerste geordende klooster-ordes en die Benediktynse Reël ontstaan en wat is die betekenis daarvan?
“Benediktus se verblyf in afsondering weg van mense, alleen in ’n grot, het die aandag van ‘n gemeenskap van monikke getrek wat wou hê dat hy hulle hoof moes word. Aangesien hy te streng was, was hy nie baie gewild onder hulle nie en het hy met ’n groepie getroue dissipels later weer na Subiaco teruggekeer.

“Hy het egter gaandeweg besef dat daar ’n groot behoefte aan geordende kloostergemeenskappe was en dit begin oprig, beginnende met twaalf kloosters met twaalf monnike elk. Hy het ook mettertyd die sogenaamde Benediktynse Reël (’n praktiese handboek) saamgestel wat riglyne gegee het vir hierdie manier van saamleef.

“Ons het min bronne oor Benediktus se lewe, maar tussen die die lyne van sy Reël tel ons iets op van die mens. Vir Benediktus was die klooster ’n skool wat liefde moes uitleef, met as doel ‘n ‘conversion of manners’; ’n leefstyl wat ’n verandering van ingesteldheid moes teweegbring.

“Sy Reël is deurdrenk met die besef van die teenwoordigheid van God – wat lei tot afhanklikheid, eerbied en gehoorsaamheid. Nederigheid en gehoorsaamheid is nodig om gedurig bewustelik te besef dat Christus in alles en in almal is; iets wat deur hierdie daaglikse saamleef met ander ingeoefen moes word. Sy Reël beskryf ’n lewe wat niks bo die liefde van Christus kies nie en niks meer waardevol as Christus ag nie.

“Anders as die lewe van die woestyngemeenskappe van Egipte het Benediktus ’n matige middeweg voorgehou wat ook die mens in sy of haar weerloosheid in ag neem. Die klooster was ’n plek van gelykheid, waar almal dieselfde behandel is, anders as die gemeenskappe van daardie tyd. Kathleen Norris, ‘n bekroonde digter en skrywer, beskryf in haar boek The Cloister Walk dít wat sy tussen die woorde en die uitleef van die Reël vind: ‘… allowing us a glimpse of what we can be when we remember to love.’
Hoe is die Benediktynse Reël prakties toegepas?
“Die Benediktynse Reël deel die dag in ’n spesifieke ritme in waarin die waarde van sowel werk as gebed erken word. Die woorde Ora et Labora (werk en bid; of: hy wat werk, bid) omskryf die ritme. Die dag is gevul met fisiese arbeid, agt gemeenskaplike gebedstye (goddelike werk) en Lectio Divina (die stadige, biddende lees van tekste).

“Stilte was baie belangrik en is geassosieer met nederigheid en gehoorsaamheid. Dit was gepas vir ’n dissipel om stil te wees en te luister. Dialoog met God vul alles, en die doel is om altyd in liefde te groei, dus is taal ondergeskik aan die hoofdoel van die lewe en kan dit ons weglei daarvan.

“Benediktus het ook gasvryheid hoog geag. Gasvryheid herinner ons daaraan dat ons Christus in die ander (ons medemens) moet sien. Gasvryheid het nie te make met hoe ek jou kan help nie, maar behels die eer aan Christus wat in die gedaante van die ander gearriveer het en ontvang moet word.

“Die ruimtes van die kloosters is juis so gebou om gasvryheid en die kloosterritme te vergemaklik. Die hart van die klooster is die binnehof en word omring deur bedekte wandelgange. Die kloosters was selfonderhoudend, met ander woorde binne die hekke van die klooster was daar plek vir ambagte, reisigers, ensovoorts, maar dan vorm die klooster ook die sentrale ruimte waaruit gasvryheid vloei.”
Is daar nog iets oor Benediktus wat jy graag met ons wil deel?
“Ek deel graag wat Aquinata Böckmann (’n Benediktynse suster-sendeling van Tutzing, Duitsland) oor Benediktus skryf: ‘This is how I imagine Benedict: With both feet planted firmly on the ground, with open ears listening in all directions, having penetrating, kind eyes that see through the surface and discover Christ in everything and everybody, with arms stretching out toward the monastics of very different natures and toward all people, especially the needy, but above all with a wide heart where Christ lives, who spurs him on so that, together with all the monastics, he will reach the final goal.’

“Dit is ook die moeite werd om die Suid-Afrikaanse teoloog John de Gruchy se waardevolle boek oor die invloed van Benediktus, This Monastic Moment: The War of the Spirit & the Rule of Love, te lees.”
Registreer hier:
Program | 2024
Navrae:

Ds Barnard Steyn | bicsteyn@ngkvs.co.za

116 | Maatskaplike NOODLYN