
Tydens die vergadering van die ATP in Wellington het prof Nelus Niemandt, rektor van die Hugenote Kollege, kom gesels oor leierskap in ʼn tyd van pandemie. Ek het ’n paar aantekeninge gemaak:
- Ons beskik nie oor navorsing oor hoe die kerk in vorige tye pandemies soos die Spaanse griep hanteer het nie. Daar is heelwat onsekerhede waarmee ons moet handel. Ons weet nie of ons reg is nie. Ons weet nie wanneer Covid verby gaan wees nie en ons weet ook nie wat die effek op die wêreld gaan wees nie. Vir ’n groot deel is ons op onsself aangewese. Daar is nog altyd ʼn grens om oor te gaan wat ons nog nie ken nie. Ons is tans (en dalk nog vir ’n geruime tyd) in mid-Covid en dit is belangrik om te praat oor die implikasies daarvan vir leierskap.
- Die kenmerk van ’n goeie leier is dat hy/sy “teenwoordig” is en nie wegbly nie, maar saam met ander werk om die stukkies bymekaar te maak. Die maklike uitweg is om weg te kruip agter stokperdjies en die ander dinge wat daarmee saamgaan. Omdat die uitdaging te groot is, is dit maklik om jouself terug te trek.
- Rigtingvasteleierskap is in hierdie tyd belangrik. Die gevaar bestaan dat ʼn mens dinge begin en weer laat los. Wanneer jy ʼn rigting gekies het of seker is van die rigting, moet jy verkieslik daarin volhou.
- Die Pandemie het veroorsaak dat sisteme uitmekaargeval het. Ons is nie seker waar dit gaan uitkom nie, maar ’n proses van heropbou moet plaasvind. Leiers kyk waar is momentum en werk daarmee saam, byvoorbeeld met gemeenskapswerk.
- Dit is belangrik dat Teologiese vraagstukke soos die teodisee vraag en die voorsienigheid van God hanteer word. Die voorsienigheidsleer is een van die leerstellinge wat ons die meeste nodig het in krisistye. Vir Abraham was dit kritiek om te weet dat God sal voorsien.
- ’n Teologiese gesprek van sin maak moet gevoer word. Daar moet sin gemaak word van die konteks waarin ons onsself bevind. In die proses moet leiers sin maak van sy of haar eie roeping. Roeping is die enigste gesag waarmee ons kan terugkeer na die gemeente midde- of post-Covid. Ek weet nie presies hoekom ek hier is nie, maar ek weet ek moet hier wees. Roeping is drieledig:
- Roeping as ʼn intellektuele saak gaan oor verskillende kompetensies.
- In ons tradisie weet ons dat daar ʼn diep geestelike aspek – ʼn persoonlike verhouding ten grondslag lê van ons roeping.
- Ons kan nooit as Gereformeerdes ons roeping net beleef as ʼn geroepenheid met mekaar nie. Roeping is korporatief. Soms moet die leier inisiatief neem, maar kollektiewe leierskap is belangrik. Geloofwaardige kommunikasie en eksegese van die konteks is belangrike komponente van roeping. Ons moet vir mekaar sê hoe lyk die toekoms wat ons ons verbeel. ’n Belangrike vraag is wat dit beteken dat lidmate 24 uit 24 uur by die huis is?
- Gesonde leierskap is innoverend en vra byvoorbeeld wat moet ons afsterf en wat het ons bygekry? Hoe help ons die sisteem om van hier af weer op te staan en te beweeg na waar God wil hê ons moet wees? Innovasie verg ’n hoë vlak van aanpasbaarheid, soepelheid en buigsaamheid. Innovasie het onder andere te doen met grensoorskryding. Ons het ontdek dat daar ander plekke van aanbidding naas die kerkgebou is, byvoorbeeld op digitale platforms.
- Gesonde verhoudings moet veral aandag kry. Inhoud alleen is nie alles nie. Goeie teologie is nie noodwendig vir mense die belangrikste nie. Gemeenskap en konneksie is ook belangrik. As ons hierdie geslag verloor, gaan ons hulle nie weer terugkry nie.
- In meer as een opsig is daar oorgegaan na ʼn nuwe modus van werksaamhede waarop ons waarskynlik nie weer sal kan teruggaan nie. Dit maak ʼn klomp moontlikhede oop. Byvoorbeeld:
- Digitale dienste
- Kollektiewe opleiding
- Gesamentlike onderskeiding (discernment).
- Van die uitdagings is koinonia en pastoraat. Hoe lyk ’n post-covid koinonia en pastoraat?
André Barlow | Sinodale verteenwoordiger vir predikantesake | 084 547 9999 | andrebarlow53@gmail.com