Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Hoekom Kersfees?

Deur dr Leon M Foot, uitvoerende amptenaar van Bedieningsbegeleiding

Klein kinders is slimmer as wat ons dink. Met ‘n eenvoudige vraag leer hulle hulle hele wêreld ken. Enige ouer wat al ‘n vierjarige se “hoekoms” moes antwoord, sal verstaan.

Dalk moet ons by hulle leer en meermale “hoekom” vra. Soos met Kersfees.

Ek kan dink dat ‘n Kersfees-gesprek met ‘n kleuter so sou kon verloop:

Kind: Hoekom vier ons Kersfees?

Ouer: Ons vier die feit dat Jesus aarde toe gekom het.

K: Hoekom het Hy aarde toe gekom?

O: Om vir ons sonde aan die kruis te kom sterf.

K: Hoekom het Hy aan die kruis kom sterf?

O: Sodat ons sonde vergewe kan word.

K: Hoekom moet ons sonde vergewe word?

O: Omdat sonde ons van God af weghou.

K: Hoekom?

O: Kom ek verduidelik: As jy jou sussie seermaak, is sy kwaad vir jou en kan julle nie lekker saamspeel nie.

K: Hoekom?

O: Want ‘n mens speel mos nie graag met iemand wat lelik is met jou nie. Ons sonde maak ook vir God seer.

K: Hoekom maak dit vir God seer?

O: Want dis nie wat Hy vir ons in gedagte gehad het toe Hy ons gemaak het nie. Ons sonde is nie vir hom lekker nie.

K: Hoekom?

O: God wil hê dat ons almal mooi met mekaar moet saamspeel. Jy het mos al in die kerk gehoor die dominee lees uit die Bybel: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

K: Hoekom?

O: Dis die heel belangrikste ding in die wêreld. Ons moet vir God lief wees, en vir die mense wat Hy gemaak het.

K: Hoekom?

O: Want alle mense is na die beeld van God gemaak. Die Bybel sê mense is sy verteenwoordigers. As ons mense seermaak, is dit net so goed ons maak vir God seer. En dis ons sonde wat maak dat ons dit doen. God wil ons sonde wegneem en ons kom nuut maak. Kersfees herinner ons dat God dit gedoen het toe Hy vir Jesus gestuur het.

K: Hoekom het Hy dit gedoen?

O: Net omdat Hy jou liefhet!

K: Hoekom?

O: Want, sê die Bybel, God is liefde. En wanneer ons Kersfees vier, sien ons hoe Sy liefde lyk.