Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Nie van hoorsê nie. “Dit sal gebeur as julle getrou bly luister na die stem van die Here julle God.”

Op 12 Oktober 1962 het prof. EP Groenewald dié woorde van die profeet Sagaria gelees, in Kaapstad, ter opening van die eerste Algemene Sinode van die vyf NG Kerke in Suider-Afrika: “’n Man wat Loot heet, sal uitspruit en die tempel van die Here bou. … Dit sal gebeur, as julle getrou luister na die stem van die Here julle God” (Sag. 6:13). Dieselfde teks is ook in Oktober 1862 gelees – ‘n eeu tevore – toe daardie noodlottige Sinode van NG Kerke óók in Kaapstad gehou is en die afgevaardigdes van al die gemeentes buite die grense van die ou Kolonie deur ‘n hofbevel gedwing is om die vergadering te verlaat; die band gebreek, die totstandkoming van drie selfstandige NG Kerke noord van die Gariep en die Vaal en oos van die Drakensberge genoodsaak, elk met ‘n eie Sinode. Die verlange sou bly; hul kon hulself nie indink as ánder Kerke nie; innerlik was hul een; hulle het bly bid dat “die Loot die tempel sal bou”. Afgelope week – ‘n honderd-en-sestig jaar later – is dieselfde profesie van Sagaria drie keer weer gelees: In Kroonstad, Bloemfontein en Betlehem. Gemeentes van die NG Kerk in die Vrystaat het na mekaar toe gedraai en geluister.

Het ons “die stem van die Here ons God” gehoor?

Ons het stemme gehoor wat sê dat hulle kláár geluister het; nie na die Here nie, maar na die Algemene Sinode. Ons het hulle hoor sê dat ‘n vergadering soos die Algemene Sinode nie na die Woord van die Here geluister het toe besluite oor die Bose en selfdegeslag-verbintenisse in 2011, 2015 en 2019 geneem is nie. Dat die Algemene Sinode onwettig opgetree en sy magte oorskrei het; die bestaansgrond van ons kerkverband – Skrif, belydenis en kerkorde – verskeur het; besluite geneem het wat lei tot die ontheiliging van God se Naam. Ons het stemme hoor sê dat die ruim huis van die Algemene Sinode te veel weerklanke en wanklanke in het; stemme uit die samelewing en tydsgees wat die kerk verwar en op sleeptou neem. Hulle sê die Algemene Sinode wil polities korrek wees. Ons het stemme hoor sê dat daar nou twee Jesusse verkondig word: Een wat selfdegeslag-verbintenisse as ‘n gawe seën en Een wat selfdegeslag-verbintenisse as sondig verdoem. “Praat Christus dan uit twee monde?” Ons het stemme hoor sê dat homoseksuele mense soos alle sondaars tot bekering geroep moet word; deur terapie van oriëntasie kan verander. Ons het stemme hoor sê dat hierdie nie ‘n etiese kwessie is nie, maar – op grond van Romeine 1 – ‘n Godsvraag: Sý beeld is heilig, sý skeppingsorde onveranderlik. Ons het stemme hoor sê dat die fout in teologiese opleiding gesoek moet word; dat dominees nie meer opgelei word om na die Heilige Gees te luister en helder te sê “God gee vir ons hierdie Boek; glo wat hier staan soos dit hier staan” nie. Dáárom loop die kerke leeg. Ons het stemme hoor sê dat dit ten diepste oor die geloofsvraag gaan: Hoe onderskei jy die ware van die valse kerk, aldus die Nederlandse Geloofsbelydenis (Art. 28 en 29). Ons het stemme hoor vra laat ons daarom toe om uit te gaan, af te skei, vry te kom van die band van die Algemene Sinode. Stem vir Artikel 37 en tree uit die algemene sinodale verband, al is dit net tydelik. “Exit with grace”…

Ons het óók stemme hoor sê dat Artikel 37 van ons Kerkorde dié voorwaarde aan ons stel: Uittrede is moontlik, “wanneer hulle so ‘n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.” Ons het hul hoor sê dat die Woord van God ons altyd in veranderende tye en kontekste nuut laat dink oor wie ons is, hoe ons met mekaar moet saamleef en wat ons roeping behels. Ons het stemme hoor sê dat ons in ons lees van die Skrif mekaar nie van onkunde òf ongeloof moet beskuldig; hóór tog as ons sê die Bybel is vir ons die Woord van God én ons lees dit, bewus van destydse- en hedendaagse kulture en konteks. Ons het stemme hoor sê dat die waarheid van die Skrif rus in ‘n lewende verhouding met Christus; die Skrifgeworde Woord wys na die Vleesgeworde Woord. Ons het stemme hoor sê dat Romeine 1 juis spreek van verlossing alleen uit genade en geloof, soos wat Luther ontdek het; daar’s nie ‘n ekstra voorwaarde nie. Ons het stemme hoor sê oppas vir vooroordeel en om ander te veroordeel – ons kan mekaar nie dreig nie. Ons het stemme hoor sê die Kerk was al vantevore by moeilike kruispaaie, maar ons eenheid lê in Christus, nie in sinodebesluite nie. Eensgesindheid na Sý voorbeeld is iets anders as eenstemmigheid in die etiek. Ons het ‘n stem gehoor wat vra of die beeld van Christus regtig verduister word deur hierdie saak (menslike seksualiteit) waaroor daar nog nie finale antwoorde gegee is nie? Ons het ‘n stem gehoor wat vra hóé kan die enigste troos in Christus (Heidelbergse Kategismus, Sondag 1) mý ontsê word omdat ek anders dink oor selfdegeslag-verbintenisse? Ons het stemme gehoor wat sê ons is bewoë oor wat besig is om te gebeur, die vervreemding en heftigheid van etikette. ‘n Stem het herinner aan Bavinck se pleidooi, dat “die eindelose verdeeldheid van die kerk rede gee aan spot en ongeloof daarbuite”. Ons het stemme gehoor wat sê alle weë is nog nie uitgeput nie; die Vrystaatse NG Kerk kán die Algemene Sinode op grond van Artikel 23 tot orde roep…

Het ons “die stem van die Here ons God” gehoor?

Hoe hoor ek “die stem van die Here ons God”?

Ons het al drie oggende begin deur na te dink oor hóé ons na mekaar luister en met mekaar praat. Hoe mens van posisies (standpuntstelling) na die erkenning van belange en dieper na die deel van hartsbehoeftes, vorder. Mag ek iets persoonlik deel? Ek het dit inderdaad hierdie drie dae sien gebeur, by almal wat end-uit bly sit en luister het. Ons het besef dat hierdie saak nie so eenvoudig is nie. Ek het dit ook in onsself wat tussen Kroonstad, Bloemfontein en Betlehem gereis het, sien gebeur. Die Gees van God werk op wonderlike maniere. Daar wás deernis. Daar ís geloofsonderskeidend geluister. Miskien moet ons óók vra: Watter stemme het ons nie hierdie week gehoor nie? Dié van homoseksuele broers en susters in ons kerk? Dié van lidmate wat ánders as ons dink, in “ons eie gemeentes”, die stille meerderheid òf minderheid? Dié van dosente, óór wie ons so maklik praat? Ons het waarskynlik ook gehoor dat ons versigtiger moet wees vir “hoorsê”. Die belydenis van ‘n Job, vermoeid aan die einde: “Op hoorsê het ek van U verneem, maar nou het my oog U gesien” (Job 42:5). Só treffend dat dr. Suzanne van der Merwe in Kroonstad afgesluit het met “Wees stil en weet, Ek is die Heer” (Lied 519). Só treffend dat ds. Riaan van Zyl in Betlehem afgesluit het met “Onse Vader wat in die hemel is, laat U koninkryk kom, U wil geskied…”

Mag in hierdie Adventtyd en op pad na ‘n buitengewone sinodesitting van die Vrystaatse NG Kerk volgende jaar, ons onsself fyn instel op die “luister na die stem van die Here”, diep selfondersoek doen en wag op Sy leiding. Dit is Hý – “die Loot” – wat sy tempel herbou sodat daar vrede mag heers en die nasies daarheen sal wil kom (Sagaria 6:13). Want dit is Sýne.

Jan Lubbe, NG Kerk Berg-en-Dal, 11/11/2022


Hierdie is ‘n opiniestuk. Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van NG Kerk Vrystaat nie.

Hierdie is ‘n opiniestuk. Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van NG Kerk Vrystaat nie.

116 | Maatskaplike NOODLYN