Deur Mariëtte Odendaal
DIDASKO beteken “om te leer” en is die nuwe VBO-handelsmerk van die NG Kerk Vrystaat onder leiding van Bedieningsbegeleiding. Dit bied ’n vars, dinamiese ruimte waar ons sáám kan leer, groei en mekaar toerus vir diens in God se wêreld.
Die eerste onderwerp, Verantwoordelike hermeneutiek in die 21ste eeu, is via zoom op vier verskillende Dinsdagaande aangebied. Opsommings van die eerste twee aanbiedings kan HIER gelees word.
Die derde aanbieding is gedoen deur prof Lodewyk Sutton, departementshoof van Ou- en Nuwe-Testamentiese Studies, Fakulteit Teologie en Religie, asook mede-professor in Ou Testament aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Die vierde (en laaste) aanbieding is gedoen deur prof Louis Jonker, ’n dosent in Hebreeuse Bybel- / Ou Testamentiese studies aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hier volg die aanbiedingsopsommings van die derde en vierde temas.
Tema 3: “Kom ons praat oor geweld – ’n Hermeneutiek van geweld, met voorbeelde uit die Psalms”
Prof Lodewyk Sutton begin sy aanbieding deur daarop te wys hoe moeilik dit is om oor geweld te praat, veral as dit oor geweldstekste in die Bybel gaan; ’n baie belangrike tema in die lig van wat tans wêreldwyd aan die gebeur is.
Bronne van belang oor hierdie onderwerp is byvoorbeeld War in the Hebrew Bible: A Study in the Ethics of Violence (Susan Niditch) waarin sy baie fokus op etiek; Violent Rituals of the Hebrew Bible (Saul M Olyan) wat oor rituele handel; Redeeming Violent Verses: A Guide for Using Troublesome Texts in Church and Ministry, ’n nuwe boek waarin Eric A Seibert praktiese leiding ten opsigte van prediking oor geweldstekte gee. Prof Sutton gee vervolgens nog heelwat meer waardevolle bronne van belang (te sien in die video-opname).
Wat maak mense met geweldstekste? Gewoonlik gooi hulle dit weg (soos die laaste gedeelte van Psalm 139), of lees dit nie (ons sien dit in die Kerkjaar-tekste), of lees dit vanuit ’n Nuwe Testament-perspektief deur die bril van Jesus. Dietrich Bonhoeffer het egter daarteen gewaarsku en gesê dat jy die Nuwe Testament in die lig van die Ou Testament moet lees. Dan is daar ook die benadering om die Bybel as geheel te lees en die tekste in die groot verhaal te interpreteer. Op hierdie genoemde maniere probeer lesers dan die tekste versag of regverdig en snap die leser steeds nie wat die ryk betekenis van die tekste is nie.
Ons moet egter met teks in dialoog gaan. Ellen Davis vra tereg of ons tekste diep genoeg lees; ondersoek ons die lae van die teks met voldoende sorg en geduld?
In die Angelus Novus-kunswerk van Paul Klee probeer hy verbeeld dat “geweld normaal” is. Walter Benjamin se kommentaar daarop laat jou net weer besef hoe normaal geweld in ons eie lewens geword het. Dit word in elke beskawing gevind en ons moet daaroor in gesprek kan gaan.
Die kommerwekkende nalatenskap van die Ou Testament is hoe tekste aangewend is om oorlog, kolonialisme, apartheid en slawerny te regverdig. Ook is geweld teen vroue aangemoedig en kinders daardeur benadeel; LGBTQ+ word veroordeel en die beeld van God verdraai as die wrede en gewelddadige God.
’n Paar rooi ligte is passiewe lesers wat nie moeite met die teks doen nie (om byvoorbeeld nie die konteks daarvan in ag te neem nie). Jou Godsbeeld is dan verwronge en word gevorm deur net ’n gedeelte van tekste te ondersoek en nie die hele storie in ag te neem nie. God word vir jou byvoorbeeld die bestraffende en veroordelende God, soos tydens die Covid-pandemie dikwels gehoor is. Jy maak van net een teks ’n karakterafleiding van God.
Hoe lyk geweld in tekste? Dit neem verskeie vorme aan en is kompleks. Geweld kan fisies, sielkundig of emosionele pyn aan ’n individu, groep of die mensdom veroorsaak en word aangehits deur verskillende agendas, selfs geloofsagendas.
Geweld dien dikwels ’n dieper doel en kommunikeer iets. Dit word ideologies in stand gehou en regverdig dan geweld; iets wat baie gevaarlik is. Die taal van geweld kan as wapen ingespan word – kyk veral na voorbeelde in ons sosiale media. In daardie gesprekke vind nuwe geweld plaas; dit word ’n toksiese ruimte.
Daar is wel konstruktiewe maniere om ’n gewelddadige Bybelteks in byvoorbeeld eredienste te gebruik. Maak mense sensitief oor geweld en waarom dit so skadelik is. Verduidelik ook hoe daar op geweld gereageer behoort te word en hoe om dit te help stop. Dit kan help om medelye vir slagoffers van geweld te ontwikkel. Dit gee ons die geleentheid om oor moeilike onderwerpe soos verkragting te praat. Waarsku ook hoe hierdie tekste skade kan berokken as dit verkeerd gebruik word en gebruik toepassings daarvan in jou eie lewe.
Dis belangrik om te bepaal hoe om geweldstekste te benader. Lees aktief eerder as passief. Vra eerder vrae as om net te luister en kritiseer eties eerder as om gewelddadige tekste onkrities goed te keur.
Tree in dialoog met geweld – tree direk in gesprek met die teks. Dis ’n stem wat betekenisse dra; dit word ’n bron van kennis en begrip; hoe maak dit sin buite die kategorieë wat ons daaraan heg? Dit gaan oor voortdurende herinterpretasie.
Psalms, wat uit vyf boeke bestaan, bevat byvoorbeeld strukturele geweld, sielkundige geweld en vloekpsalms. Hoe praat geweld self deur die Psalms? Dit ontbloot in Psalm 137 byvoorbeeld angs, rou woede, ensovoorts. Dit verdiep ons begrip van geweld en rig ons denke oor hoe om dit vandag te hanteer.
Kyk na die volledige video-opname daaroor HIER.
Tema 4: “Om opnuut te interpreteer – Interpretasie in en van die Bybel, toegelig met voorbeelde uit Kronieke”
Prof Louis Jonker wys ons daarop dat nuwe interpretasies van Bybeltekste ongelukkig in die NG Kerk ’n slegte reputasie het; dit word beskou dat die Bybel verdraai word om eie sienings te pas.
Die vier grootste redes hiervoor is dat die Bybel as die onveranderlike, onfeilbare Woord van God beskou word, dat die Bybel se gesag in alle tye geld, dat die Bybel ’n vaste anker is en ons nie agter die politieke en/of samelewingstendense moet aanhardloop nie (soos byvoorbeeld met die apartheidsteologie). Mense is skepties daaroor as tekste vir nuwe omstandighede nuut geïnterpreteer (her-interpreteer) word, want dit kan aanstoot gee.
Daar is egter ’n manier hoe ons met die her-interpretasie van die Bybel die betekenis van tekste beter kan verstaan en met die betekenis daarvan verryk te kan word; daarsonder kan ons nie die eie aard van die Ou Testament begryp nie.
Ons moet ’n onderskeid maak tussen die her-interpretasie ván die Bybel en her-interpretasie ín die Bybel; dit gaan in hierdie lesing oor laasgenoemde, naamlik her-interpretasie ín die Bybel waarmee ons riglyne vir ons lewe moet probeer kry.
Alle interpretasies is kontekstueel. Ons kan nooit in ’n vakuum interpreteer nie, omdat ons omgewing, agtergrond, oortuigings, wêreldbeskouing, ensovoorts, alles bepaal oor hoe ons iets verstaan. Daar is nie iets soos neutrale of objektiewe interpretasie nie.
As jy dit nie besef nie, is dit gevaarlik, want dan beskou jy net jou eie interpretasie as korrek en almal wat van jou verskil, is verkeerd of dwaal. Dit is dus baie belangrik om van ons eie verstaansraamwerke bewus te wees en dit in gesprek met ander s’n te plaas. Ons is maar almal subjektief as ons die Bybel interpreteer.
Dit geld nie net vir ons moderne interpretasies nie, maar geld ook vir die tye toe die Bybel tot stand gekom het. Daarom is dit so belangrik om kennis te neem van die historiese agtergrond van die Bybel waar daardie tye sosio-kultureel, polities en godsdienstig baie van ons s’n verskil het; waar andersoortige kulturele gebruike en waardes gegeld het.
Daar was ook nog geen moderne wetenskaplike kennis nie en ander wêreldsienings het dus gegeld. Die invloed van wêreldmagte soos Egipte, Assirië, Babilonië, Persië (Iran), Griekeland en die Romeinse Ryk vind oral neerslag in die tekste. Dit was ook ’n andersoortige wêreld ten opsigte van godsdiens. In die Ou Testament lees ons van allerhande vreemde rituele, feeste en offerandes. Van die Joodse feeste wat in die Christelike godsdiens oorgeneem is, soos byvoorbeeld die Paasfees, is her-interpreteer.
Die Bybel het oor eeue heen ontstaan. Die Ou Testament het byvoorbeeld oor meer as duisend jaar oor verskillende tydperke en eeue tot stand gekom. Die kanon van die Bybel is eers 400 jaar na Christus gestabiliseer as gesaghebbend vir ons as Christene. Jesus het byvoorbeeld nog net die Torah en Profete as geskrifte gehad om te lees.
Opeenvolgende tye vereis dus nuwe interpretasies en hersiening van interpretasies van tekste en moet in die nuwe kontekste aangepas word.
Daar is mettertyd ’n “biblioteek” van geskrifte opgebou wat deur ander skrywers gebruik is om by aan te sluit wat kontinuïteit van ou tradisies verseker het. Geskrifte wat her-interpreteer is vir nuwe kontekste en nie meer van toepassing in ’n nuwe konteks was nie, het dan diskontinuïteit veroorsaak.
Die Torah (Genesis tot Deuteronomium) wat ook oor ’n lang tydperk ontstaan en gegroei het, was reeds van 400 vC as gesaghebbende riglyn vir die godsdiensgemeenskap in Jerusalem aanvaar.
Vervolgens verduidelik prof Jonker met enkele voorbeelde hoe regsinterpretasies van tyd tot tyd ook aangepas is. Jy kry dus binne-Bybelse interpretasies en her-interpretasies. Bernard Levinson noem dit “die dinamo wat die vernuwing van Israel se godsdiens en die kanon voortgedryf het.” Daarsonder sou die Bybel dalk glad nie meer bestaan het nie. Prof Jonker beveel literatuur in hierdie verband aan, soos Michael Fishbane se Biblical Interpretation In Ancient Israel.
Vervolgens verduidelik prof Jonker wat hy bedoel en gebruik uitgebreide voorbeelde uit Kronieke. Samuel en Konings was die hoofbron van Kronieke. Daarom help dit ons om die verhale van hierdie boeke met mekaar te vergelyk. Kronieke is aanvanklik as derderangs beskou, maar het mettertyd in waarde toegeneem omdat daar besondere gedeeltes bygevoeg is, soos byvoorbeeld die gedeelte oor Manasse wat in Konings (2 Konings 21: 1–18) veroordeel word, maar in Kronieke (2 Kronieke 33: 1–20) word ’n baie positiewe prentjie van Manasse geskets.
Die rede waarom die tekste verskil, het baie met die konteks waarin die tekste geskryf is, te doen. Konings is in die tyd van die Babiloniese ballingskap geskryf waarvoor Manasse geblameer is.
Kronieke ontstaan 200 jaar later in ’n heel nuwe politieke situasie en die geskiedenis word in hierdie nuwe konteks her-interpreteer waar Manasse as positiewe voorbeeld van inkeer en inspirasie tot die heropbou van die nasie beskryf word.
Implikasies vir die Kerk en teologie is dat oorgelewerde tradisies vanuit die Ou Testament na die Nuwe Testament her-interpreteer word. Die Ou Testament wat deel is van ons Bybel demonstreer inklusiwiteit. Ons verstaansproses word in dialoog gevorm. Die konteks van die geskiedenis waartydens die tekste geskryf is, is dus belangrik. Ons glo saam met die moeders en vaders van die verlede en interpreteer tekste saam met die broers en susters van vandag. Teologiese motiverings vir die skryf van die tekste is ook belangrik om te verstaan.
Prof Jonker sluit af met nog literatuur oor die onderwerp wat hy aanbeveel, soos Reading the Bible Anew deur Hassan Musa, ’n voormalige Nigeriese PhD-teologiestudent wat aan die Universiteit van Stellenbosch studeer het.
Kyk na die volledige video-opname daaroor HIER.
| Verskaf deur: Dr Leon M Foot.

