Deur ds Gerhard Meyer,
leraar van Kopanong Church en medeleraar van NG Gemeente Langenhovenpark
3 “Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het, sodat ons ‘n lewende hoop mag hê…”
1 PETRUS 1:3 AFR20
“Slaan terug” … ek is seker ’n hele paar van ons onthou hierdie slagspreuk wat ’n bekende politieke party `n paar jaar gelede gebruik het vir hul veldtog. En dit het gewerk, baie het gevoel hierdie slagspreuk gee uiting aan hul frustrasie, woede en ontstigting rakende die voortgaande verval wat ons rondom ons sien. Ons Here het egter nog nooit optrede vanuit ontsteltenis geregverdig nie.
Christus sê nie ‘slaan terug’ nie, Hy sê ‘staan op’. Staan op vir vrede, staan op vir hoop, staan op vir liefde. Om op te staan is altyd moeiliker as om terug te slaan. Om op te staan beteken ek sien meer wat kán wees en is minder wat vasgevang is deur dit wat nou is. Om op te staan beteken ek erken seer en pyn is onvermydelik, maar ek weier om toe te laat dat pyn en seer my verswelg.
Bowenal, om op te staan is ’n getuienis dat dit waarin my lewe gewortel is, nie die leuens van hierdie wêreld is nie, maar die waarheid soos verkondig en geleef deur ons Here Jesus Christus. Die waarheid dat geen teleurstelling, tragedie, trauma of dood die realiteit van die hoop te vinde in Sy opstanding sal kan oorwin. Hy het opgestaan, Hy leef en Hy het ons almal lief. Mag ons dieselfde doen, waar ook al ons gaan en met wie ook al ons in aanraking kom.
| verskaf: Di Karlie Liebenberg en ds Gerhard Meyer