Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Onthou om te onthou …

Deur ds Adrie Potgieter,
addisionele lid van die Moderamen en leraar van NG Gemeente Senekal-Noord

Daar is ’n bekende ou liedjie met die refrein: “Onthou om te onthou … vergeet om te vergeet”.

Dit is ’n liefdesliedjie, maar kon net sowel ’n gesang of ’n psalm gewees het.

Dit verwoord immers wat baie van ons gesange en psalms probeer doen – dit herinner ons daaraan om te onthou. Dikwels in die Bybel wanneer mense die gevaar loop om hulle geloof te verloor, word hulle aangemoedig om te onthou. Om die herinnering aan God se dade in hulle lewe, ook aan sy beloftes vir die toekoms, wakker en lewendig te hou.

Dink maar net aan die boek Deuteronomium, waar die Israeliete meermale opgeroep word om te onthou. Ook later, ná Jesus se dood, toe die vroue hartseer en met dowwe oë by die graf opgedaag het, word hulle meegedeel: “Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het …” (Lukas 24:6-7).

En dan lees ons: “Toe het hulle sy woorde onthou en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel” (Lukas 24:8-9).

Wat daarna volg, is dat hulle met nuwe geloof,  entoesiasme en – so kan ’n mens jou amper voorstel – met verwondering, doelgerig, alles gaan vertel wat hulle gesien en beleef het. Ook hoe dit alles skielik sin gemaak en geklop het met die woorde en beloftes wat Jesus self vroeër aan hulle gegee het.

Net so is ons vandag ’n onthou-kerk wat terugkyk op jare se genade. Onthou behoort tot die kern van ons geloof en denke oor God. Dit is ook ’n spesifieke manier van onthou – dit is nie maar net om nostalgies te raak en jou te verloor in die verlede nie. Dit is ook nie om ou koeie uit die sloot te grawe en ander te blameer nie.

Hierdie onthou is eerder om die verlede te bring na die hede; sodat jy hoop kan kry vir die toekoms. Dit is om God te onthou – om Sy handelinge in die geskiedenis raak te sien, Sy getrouheid te erken en weer opnuut bewus te word van Sy roeping vir elkeen van ons. Mag ons terugkyk en onthou, mag dit ons met dankbaarheid en verwondering vul, ons inspireer en hoop gee vir die toekoms.

 | verskaf: Ds Adrie Potgieter, addisionele lid van die Moderamen en leraar van NG Gemeente Senekal-Noord.