Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die Goue Draad deur die lewe van Corné le Roux

Deur Mariëtte Odendaal

As jy na Corné le Roux se skilderye kyk, sal jy in elkeen ’n goue draad sien loop. “Dit simboliseer God se teenwoordigheid, omgee en liefde in ons lewens. Alhoewel ons nie altyd daarvan bewus is nie, is dit altyd daar. Dit is wat ek met my skilderye probeer weergee.”

Corné tydens ’n praatjie oor haar “Golden Thread”-reeks in 2023.

Dit was ’n grys, reënerige middag hier in die Boland toe ek die nuus gelees het van Corné le Roux wat haar stryd teen kanker verloor het,

Ek was toe alreeds die afgelope twee dae besig om deur ‘n video-opname te werk wat Celicia McLean, redaktrise van Vrypos, na my gestuur het met die oog op ’n artikel oor Corné se “Golden Thread”-reeks skilderye. Na die twee dae se luister na dié innemende vrou met die swart krulhare en wynrooi T-hemp, het ek al so half gevoel Corné is ’n gawe vriendin wat ek nog net nie ontmoet het nie.

Ek het deur my kantoorvenster na ons tuin gekyk en dit was asof die misreën wat so fyn teen die ruite aanwaai, saam met die Vrystaat ween.

Ek het gedink aan haar man, De la Harpe en hul kinders, familie, vriende en die breër geloofsgemeenskap; hoe swaar die gemis en verlange gaan wees. En skielik het dié vertroostende gedagte by my opgekom – dat Corné met hierdie reeks van twaalf skilderye (te sien in die galery onderaan die artikel) vir ons almal ’n kosbare skat met ’n ryk en vertroostende boodskap uit God se hart as geskenk kom gee.
Corné se "Golden Thread"-reeks
Dit was op Woensdagaand 22 November verlede jaar dat Corné ’n praatjie oor haar “Golden Thread”-reeks skilderye aan die borskankerondersteuningsgroep van CANSA in Bloemfontein gelewer het.

Sy is op 11 Oktober die vorige jaar met borskanker gediagnoseer en die uitdagende ervaring van chemoterapie, ’n dubbele masektomie, bestraling en behandeling met chemo-kapsules tot aan die einde van Januarie 2023 was toe al agter die rug. Sy was in remissie toe sy op 22 November die “Golden Thread”- aanbieding gedoen het.

Sy het die aanbieding op dié aand met hierdie woorde ingelui: “Elkeen van dié skilderye beeld ’n Bybelse tema en vers uit van God se teenwoordigheid in jou lewe in alle omstandighede, veral wanneer dit baie swaar gaan.”

Volgens Corné het elkeen wat daar by die CANSA-groep teenwoordig was, hetsy diegene wat ’n stryd teen borskanker gevoer het of in remissie was, ’n unieke storie om te vertel; hiérdie was haar storie.

Ná haar kankerdiagnose en periodes van behandeling wat daarop gevolg het, het haar werkgewer, Medi-Clinic, aan haar tydelike onbevoegdheidsverlof toegestaan.

Dit het nie net aan haar die kosbare tyd gegee om te herstel nie, maar dit het ook aan haar baie meer tyd gegee om stil te word voor God. “Dit het aan my die tyd gegee om met God te praat, met Hom te worstel, die Bybel te lees en vrede te vind. In hierdie tyd het ek ook dagboek van my ervarings gehou. In sulke tye gaan jy deur periodes waar jy by tye baie siek voel en dan is daar weer tye wanneer dit beter gaan.

“In daardie tyd het ek ook die boek, The Golden Thread, gelees wat my laat dink het aan my eie goue lewensdraad. Met hiérdie nuwe reeks wou ek iets aanpak wat my sou vrolik en bly maak. Ek het besluit om kleurryke skilderye te maak omdat ek helder kleure nodig gehad het in dié donker tyd van my lewe.”
Die betekenis van die goue draad deur die skilderye
As jy na Corné se skilderye kyk, sal jy in elkeen ’n goue draad sien loop. “Dit simboliseer God se teenwoordigheid, omgee en liefde in ons lewens,” het sy verduidelik. “Alhoewel ons nie altyd daarvan bewus is nie, is dit altyd daar. Dit is wat ek met my skilderye probeer weergee.”

Dié aand het sy ’n seleksie van haar skilderye een-vir-een opgetel, vasgehou en aan die groep die betekenis daarvan verduidelik. Die vers op haar eerste skildery in die reeks is Be still and know that I am Lord. (Ps 46:10)

Met die skilder van hierdie kunswerk verduidelik Corné dat sy toe diep bewus was van God se teenwoordigheid in dié baie moeilike tyd van haar lewe. In die skildery demonstreer sy hoe innig die vrou in die skildery die goue draad styf teen haar vashou, omdat sy weet God is teenwoordig; dit gee aan haar soveel vrede.

In die tweede skildery wag die vrou op die Here. Die vers daarop lui: I wait for the Lord. My soul waits, and in His Word, I put my hope. (Ps 130:5) Wat daar uitgebeeld word, is ’n vrou wat wegkyk na die horison met hoop. Sy wag om beter te voel en jy weet: Dit sal ook verbygaan. Daarin sien jy hoe die goue draad deur haar hare vleg.

Die vers op die sesde skildery van die reeks is: That’s why I urge you to pray for absolute everything ranging from small to large. Include everything as you embrace this God-life, and you’ll get God’s everything. (Mark 11:24) Corné verduidelik dat die vrou in hierdie skildery dalk lyk asof sy depressief is, maar sy bid en die goue draad hierin is ’n tolletjie goue garing reg langs haar. “Gebed bring jou nader aan God; elke minuut van elke dag. Daar was (en is) soveel mense wat vir my bid. Selfs mense wat ek nie ken nie, bid vir my. Dit laat my baie klein en dankbaar voel. Ons moet konstant bid.”

In die sewende skildery van die reeks loop die goue draad deur die wasgoedlyn. “Soos ek voorheen gesê het, ’n mens skrik groot as jy die nuus kry dat jy borskanker het. Jy besef dat daar hierdie dodelike siekte in jou liggaam is en dit maak jou bang. Dit maak jou onseker. Tot eendag – ek was besig om hiermee te stoei – toe ek ervaar dat God aan my vra waarom ek bang is oor iets wat my menslike liggaam kan doodmaak. Wees eerder besorg oor die geestelike kankers wat mense se gees kan doodmaak. Dis baie belangriker dat daardie kankers genees moet word. Ek het God toe gevra om aan my hierdie geestelike kankers uit te wys.” Die teksvers op hierdie skildery is Generous in love – God, give grace. Huge in mercy – wipe out my bad record. Soak me in your laundry, and I’ll come out clean. Scrub me, and I will have a snow-white life. (Ps 51:1 en 7)

Die negende skildery in die reeks simboliseer al die ondersteuning wat Corné tydens haar siekte van kollegas by die werk, vriende, onbekendes en veral haar familie ontvang het; iets wat vir haar baie kosbaar was. Die skildery beeld drie jong vroue uit met hul arms ondersteunend om mekaar gevou, die goue draad deur hul hare gevleg. Die teks daarop lui: So, speak encouraging words to one another. Build up hope so you’ll be all together in this, no one left out, no one left behind. I know you are already doing this, just keep on doing it. (1 Tess. 5:11)

In die tiende skildery van die reeks verbeeld Corné die volgende lofprysing aan God: We all live from His generous abundance, gift after gift after gift, exuberant giving and receiving, endless knowing and understanding … (Joh 1:16 en 17) Hierdie belofte van God het in haar stiltetyd baie vir haar beteken en sy simboliseer dit deur ’n vrou wat in ’n vrugteboord staan by groot sakke oorlopends toe vol met geplukte appels.

“Ek het werklik baie genade in hierdie tyd ervaar. Die feit dat ek tuis kon bly om te herstel, was ’n groot seën in my lewe, omdat ek die tyd gehad het om te kon skilder. Al die blomme, geskenke en boodskappe wat ek ontvang het, was alles so ’n seën vir my. Dit was so wonderlik dat soveel mense my in hul harte gedra het, soos die skildery met die sakke vol apples daarin. Ons almal lewe met oorvloedige genade van God; ons ontvang gawe, na gawe na gawe. So hierdie skildery simboliseer al die oorvloed van gawes wat ek in hierdie tyd ervaar het. So, die goue draad is as toeknooptoutjie aan die bopunt van die sakke ingeskilder.”

In die elfde skildery van die reeks simboliseer sy blydskap deur ’n laggende vrou wat met oopgestrekte arms in ’n lang rooi rok in ’n groen veld met wit blomme dans. “Dit was vir my belangrik om, ten spyte van alles, bly te wees. Dit is nie altyd maklik nie, want ’n mens voel nie altyd dankbaar en gelukkig nie, maar hierdie skildery gaan daaroor om altyd bly te wees, en jou fokus op een plek te probeer hou.” Die teks daarop lees: I trust in your unfailing love. I will rejoice because you have rescued me. I will sing to the Lord because He has been good to me. (Ps 13: 4-6)
Haar man, De la Harpe, deel met ons wat hy in dié reeks raaksien
“In die “Golden Thread”-reeks van twaalf skilderye sien ek ook ‘n ontwikkeling in haar temas; van swaarkry na dankbaarheid en vertroue.

“Nou, ná haar afsterwe, maak die tema-ontwikkeling vir my baie sin. Alhoewel ons dit natuurlik nie op daardie stadium geweet het nie, was dit so asof die Here haar voorberei het op haar afsterwe. Haar laaste onvoltooide skildery is van die vrou wat Jesus aangryp vir fisiese genesing, wat toe aan haar gegee is en waarna Corné natuurlik gesmag het. Maar die Here het vir Corné totale genesing gegee en ’n totale einde aan enige kanker, pyn, swaarkry en beslommernisse van die lewe gegee.”
Mag hierdie kosbare nalatenskap van Corné ons inspireer, vertroos en deur al die moeilike storms van ons lewens dra. Mag dit ook ons goue draad in die lewe word.
Die galery van al twaalf skilderye

 | verskaf deur: Ds De la Harpe le Roux.

116 | Maatskaplike NOODLYN