Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“Heer waar dan heen? …”

Deur ds Lunette Basson, leraar van NG Gemeente Theunissen-Wes

Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.”

Jakobus 3:17-18 AFR20

As ek so terugkyk oor die week, maand, jaar en selfs jare, steek die begin van vers 3 van Lied 238 in my kop vas, “Heer waar dan heen? …”

Dit is reeds Oktobermaand. In die gereformeerde tradisie is dit ’n spesiale maand as ons terugdink aan 31 Oktober 1517 toe Martin Luther sy 95 stellings aan die deur van Wittenberg se kerk vasgespyker het. Sy geloofsoortuiging van daardie dag het ons onafwendbaar op die pad van Reformasie gesit. “Heer waar dan heen? …” Dit is al 507 jaar later, en 27 Oktober van hierdie jaar vier ons Hervorming-Sondag. Wat ook vir ons in Suid-Afrika ’n mylpaal is – van 1824 af is ons as NG Kerk in Suid-Afrika ons eie selfstandige kerk. Wat kon die kerk in 200 jaar alles in Suid-Afrika vermag? Het ons, soos dié tyd van die kerkjaar (Koninkrykstyd) so mooi beskryf, die groei en ontwikkeling van die koninkryk van God deur sy Gees al meer ’n moontlikheid gemaak?

Ons het net verlede week, 3 Oktober bymekaar gekom vir nóg ’n Buitengewone Sinodesitting, om die toekoms van ons NG Kerk in die Vrystaat te bespreek. Baie het die Skrif vertolk en oorgedra met die oortuiging – dalk soos Luther ook gevoel het – “so sê die Here vir my …” En tog was die openingsteks vir die vergadering Jakobus 3:17-18: “Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.” Uiteindelik was daar ’n besluit geneem vir eenheid, en baie vra nou juis die vraag: “Heer waar dan heen?” Wat gaan ons nou verder doen in die geskiedenis van die NG Kerk in die Vrystaat, die land, die wêreld?

Lied 238, vers 3 lui:

“Heer waar dan heen? 
Tot U alleen;
U sal ons nooit begewe.
U eie Seun, ons borg en steun,
is ook ons weg tot lewe.”

Is dit nie die antwoord vir ons hier in die maand van Reformasie waarin ons groot besluite geneem het vir die Kerk wat ons so na aan die hart lê nie? “Tot u alleen!” Laat die geskiedenis ons lei en vir ons wys waar ons nie tot die Here alleen genader het nie. Mag ons daaruit leer  om by die Here te begin, te soek na die Wysheid van Bo, en as ek dan op ’n nuwe, onbekende pad loop, en wonder, “Heer waar dan heen?” mag ek Sy Seun aan die kruis onthou. Dit is ons Here Jesus Christus se bloed wat vir ons as lidmate, leraars, gemeenskap van die heiliges in die NG Kerk van die Vrystaat, ’n weg is tot lewe. Daarom doen ons alles verder vir Hom, sodat die leraars en lidmate 200 jaar van nóú af kan sien dat ons die vraag: “Heer waar dan heen?” geantwoord het met: “Tot u alleen.”

 | verskaf: Ds Lunette Basson, leraar van NG GemeenteTheunissen-Wes.