Deur ds Louwrens Scheepers, sameroeper van die Spiritualiteit Netwerk,
Bedieningsbegeleiding
Ons eerste vyfdag-retraite is afgehandel.
Vyf dae met ritmes van stilte.
Vreemdelinge word vriende – in stilte en deur gedeelde ervarings, al luisterend na die stem van liefde en deernis.
En dan word dit sigbaar wanneer dorpenaars verwelkom word en gesels en saam kom luister – in die kerk en op straat.
Stille-polis is ’n gedagte wat hierdie week ’n werklikheid geword het en ons almal verras het. Ons was diep geraak deur die impak wat die stiltes en musiek op ons gehad het, en ons is is meer as ooit tevore daarvan oortuig dat hierdie klein dorpie in die Suid-Vrystaat ’n rimpeling gaan maak wat grense gaan oorsteek. Dankie aan elkeen wat op die een of ander manier deel geword het van die week se ritmes – ons doen dit weer!
Hier is die terugvoer van ons retraite-deelnemers:
“Stille-polis” was vir ons en kan vir nog baie net verrykend wees. Ons program het ruimte gemaak vir stilword in die wonderlike kerkgebou, ons woonplek, die natuur asook die strate van Philippolis. Die Here het op ’n wonderbaarlike wyse met ons gepraat deur die aanbieders, die getuienisse van die Jobhuis asook die bidders en mense van die dorp. Ek glo hierdie is die geskikte plek in die Vrystaat om stil te word. Aan die pastorie-paar, Louwrens en Gerda: die Here gebruik julle op ’n wonderlike manier. Julle is deur God geroep vir hierdie heelmaak en volmaak van mense. Die dorp en sy mense is geskik vir hierdie stilwordtyd. Ons uitstappie na Waterkloof was asemrowend in die natuur. Die strome water getuig van God se liefde en trou. Hierdie is ’n verrykende, genesende en versterkende stilwordtyd vir bedienaars asook vir elkeen wat smag na geestelike groei. Maak tyd vir stilte en beleef die Here se nabyheid in “Stille-polis”. Aan die Here al die eer!
(Philip en Heidi Mc Laren, NG Gemeente Bedelia, Welkom)
Die tyd in Philippolis was vir my besonders verrykend. Gerda en Louwrens se gasvryheid, gemaklikheid, opregtheid en oop harte het ‘n groot indruk op my gemaak. Louwrens se spirituele begeleiding was baie verhelderend. Hy kon my op my reis begelei sonder om my reis te bepaal. Hy het ‘n ruimte geskep waarin ek beter kon onderskei. As jy eers daar was, sal jy weer wil gaan. Ek vertel so hier in die Noord-Kaap. Baie dankie vir elkeen van julle wat saam met my daar was. Julle het meer vir my beteken as wat julle dalk dink.
(Gys Loubser, Kimberley)
Ek sou normaalweg die laaste mens wees wat myself as materiaal sou beskryf vir ‘n stil retraite. Maar my lewe die afgelope twee jaar het gewys dat ek toenemend hierdie geleenthede nodig het en daarby baat vind. “Stille-polis” was ‘n belewenis van herlaai, oordenking, gesprek, vriendskappe smee, verdieping, verwondering, groei en nog meer. Ek het reeds vir mense hiervan vertel en dit aanbeveel. Die dorpie leen hom tot hierdie belewenis en in my geval was die balans tussen alleenwees en aandkontak met kollegas perfek. Die daaglikse drie geleenthede om in die kerk te kon stilte beoefen was heerlik, en die feit dat dorpsmense welkom was, het my verbly. Die aand wat ons die seremonie van lament beleef het, het my ook diep geraak. Ek hoop dat hierdie inisiatief sommer nog baie mense sal raak.
(Elrika Senekal-Van der Berg, Bybelgenootskap)
| Verskaf: Ds Louwrens Scheepers
					
	