Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Lean in deur Sheryl Sandberg | ‘n Resensie deur Dr Carin van Schalkwyk

Die boek handel hoofsaaklik oor die balanseer-toertjie wat vroue moet uitoefen tussen ouerskap en die beroepswêreld. Die boek lig baie suksesvol uit hoe sterk seksisme in die werksplek nog aanwesig is. Die skrywer het noukeurig navorsing gedoen oor die onderwerp en sy is ook bereid om haar eie mislukkings en tekortkominge te erken.

Die volgende is (wat ek dink sy presies reggekry het) wat sy uitlig oor hoe om ‘n suksesvolle vroue-leier te wees.
 

  1. Dit is ongelooflik moeilik om beide ‘n suksesvolle beroep en moederskap te bestuur, selfs voor jy geboorte skenk.
    In die boek se openingsrede beskryf Sandberg watter moeilike tyd sy beleef het terwyl sy swanger was met haar eersteling. Sy het 35 kg opgetel, haar voete was so geswel dat sy twee nommers groter skoene moes dra, en sy het oggendnaarheid omtrent elke dag vir nege maande gehad.
  2. Sy het oor haarself gedink as ‘n feminis wat voordeel getrek het uit die stryd van aktiviste wat gestry het vir vroue se regte.
    “We stand on the shoulders of the women who came before us, women who had to fight for the rights that we now take for granted,” skryf sy. Dit is die waarheid.
  3. Sy wys daarop dat mans steeds die wêreld beheer.
    Sandberg gebruik baie statistiek om hierdie stelling te ondersteun. Byvoorbeeld: “Of 197 heads of state, only 22 are women.” Nog ‘n feit: “Of the top 500 companies by revenues, only 21 are headed by women. In politics, women hold just 18% of congressional offices.”
  4. Sy besef dat alles gaan oor vroue se kompensasie.
    Hoewel dit vroeër erger was – in 1970 het Amerikaanse vroue 59 sent vir elke dollar wat ‘n man geïn het, verdien. In 2010 was dit steeds nog nie gelyk nie – vroue het 77 sent vir elke dollar wat ‘n man in, verdien. Haar oplossing: Onderhandel soos ‘n man. Toe sy met Mark Zuckerberg onderhandel het om by Facebook aan te sluit, was haar natuurlike geneigdheid om die eerste aanbod te aanvaar. Hy eggenoot het haar aangemoedig om ‘n teen-aanbod op die tafel te plaas. Sy het dit gedoen en Zuckerberg het na haar terug gekom met ‘n baie beter aanbod.
  5. Sy is van oortuiging dat die feministiese revolusie op ys is.
    Sandberg skryf uitgebreid oor die hekkies wat vroue steeds in die gesig staar in die werkplek, insluitend die blatante en subtiele seksisme, diskriminasie en seksuele teistering. Sy onderstreep die noodsaaklikheid van vloeibaarheid in die werkplek en die noodsaaklikheid van toeganklike kindersorg en verlof vir familieverpligtinge. Sy verwys ook na die McKinsey-studie wat uitwys dat manne bevorder word op grond van hulle potensiaal en vroue bevorder word op grond van hulle prestasies in die verlede.
  6. Sy argumenteer suksesvol dat interne stuikelblokke vroue terughou.
    Hierdie is die mees kontroversiële deel van Sandberg se boek. Die punt wat sy hier maak, het sterk kritiek van feministe ontlok. Sy is van mening dat vroue hulleself keer om verder te vorder in die werksplek omdat hulle nie die dryfkrag en selfversekerdheid van die man het nie. “We lower our own expectations of what we can achieve,” skryf sy Hierdie deel van die boek laat my steeds nadink. Ek is van die oortuiging dat persoonlike motivering ‘n baie komplekse saak is, dit word gevorm deur ons interne wil, die manier hoe ons grootgemaak is, die groep wat ons omring het toe ons grootgeword het, die opvoedkundige geleenthede wat ons ontvang het, die netwerke wat ons gevorm het, sowel as die voorkeure en afkeure waaraan ons blootgestel word.

    Sandberg stem saam, ten minste in ‘n mate. Sy haal meer as ‘n dosyn studies aan wat die struikelblokke wat vroue in die gesig staar, aantoon. Een van die mees oortuigende studies is dié van Howard/Heidi. Twee professore het ‘n gevallestudie opgeteken van ‘n entrepreneur genaamd Heidi Roizen. Die studie beskryf hoe sy ‘n suksesvolle kapitalis geword het deur staat te maak op haar uitgaande persoonlikheid en haar groot en professionele netwerk. Die navorsers het ‘n groep studente gehad wat haar verhaal gelees het: Die een groep het haar regte naam op die voorblad gehad en die ander groep het ‘n skuilnaam op die voorblad gehad, genaamd Howard. Daarna moes hulle Heidi en Howard se prestasies evalueer in terme van hoe aanloklik dit vir hulle lyk in ‘n kollega. Die studente het hulle gelyk evalueer in terme van sukses, tog het die studente gedink dat Howard baie meer aanvaarbaar is as Heidi. Heidi is beskryf as selfsugtig en nie die tipe mens wat jy wil aanstel of voor wil werk nie. Sandberg se gevolgtrekking: Wanneer ‘n man suksesvol is, hou mense van hom. Wanneer ‘n vrou suksesvol is, hou mense minder van haar.

    Sandberg skryf oor die uitdaging wat dit vir vroue inhou. Die meeste mense wil graag hê mense moet van hulle hou. As sukses beteken dat mense nie van jou hou nie, hoe motiveer jy jouself om goed te doen? Sandberg erken dat sy haar eie prestasies ondermyn het uit vrees dat dit mense gaan afstoot. Sy beweeg dan na die punt waar sy namens haarself moet praat. 
  7. Sy maak ‘n strek kontra-punt oor mentors.
    “Don’t Ask Anyone to be Your Mentor,” is een van die titels van Sandberg se hoofstukke. Sy maak eerder voorspraak dat beide senior en junior mense genader word om ‘n probleem op te los. Dit skep ruimte vir ‘n meer produktiewe verhouding, as ‘n algemene pleidooi vir mentorskap.
  8. Vroue moet hulle huweliksmaats vra om ten minste die helfte van die ouerskapstake te hanteer.
    Sandberg betree ook hierdie kontroversiële grond. Sy is van mening dat vroue moet ophou om “maternal gatekeepers” te wees. Vroue moet daarop aandring dat beide gelyke vennote moet wees in ouerskap en huiswerk. Sy erken dat dit moeilik is, maar maak ‘n oortuigende punt oor hoe noodsaaklik dit vir vroue is om ‘n suksesvolle beroep te hê. Sy skryf ook oor die mite van om alles te doen. Sy maak die punt uitstekend dat vroue nie alles vir almal kan wees nie, sy gee erkenning aan hoe moeilik dit is om hierdie balans te kry en te vind.
  9. Dit is belangrik om hierdie gesprek te voer.
    Sandberg verstaan dat baie vroue nie beide ‘n beroep en familie wil hê nie en dat daar ook vroue is wat nie daarin belangstel om die korporatiewe leer te klim nie. Sy begryp dit goed dat die meerderheid vroue net worstel om genoeg geld te verdien om die maandelikse uitgawes van kos op die tafel te sit, te diens. Sy gee erkenning aan die feit dat sy preek vir die uitverkose klein groepie wat die nodige kwalifikasies en netwerke het om te vorder tot in magsposisies. Tog benadruk sy die feit dat ‘n toename van vroue in leierskapposisies die status en geleenthede van alle vroue in die werksplek uitbou en versterk. Sy wil graag met vroue in gesprek tree oor hoe om in die beroepslewe te vorder en leierskapposisies te bekom.
  10. Sandberg het ‘n onderhoudende en maklik leesbare boek geskryf.
    Die boek het ‘n kragtige boodskap, maar is tog vol van haar eie broosheid en eerstehandse staaltjies. Die boek is vol statistiek en studies in voetnotas wat die punte wat sy maak, ondersteun.

Dit is ‘n uiters leesbare boek. 

Die belang van hierdie boek is dat dit die kerk help om ook te dink oor hoe ons met vroue in diens van die kerk werk en dink.

116 | Maatskaplike NOODLYN