Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Slawe van die lewe of dienswerkers in die koninkryk?

Deur ds Craig Salzmann, leraar van NG Gemeente Heuwelsig

Werk, vergaderings, buitemuurse aktiwiteite, skoolkar ry, jaarafsluitings, prysuitdelings, eksamens, kerssangdienste … ’n groooot sug, maar nie noodwendig een van verligting nie!  Of wag, is dit juis ’n sug van vreugde?

Onlangs, tydens ’n informele aandiens, vra iemand die baie waardevolle vraag: “In ’n wêreld wat besig is met programme en nie lyk asof dit enigsins rustiger gaan raak nie, hoe help die Bybel ons om ons tyd te bestuur?”

My kollega antwoord met baie wysheid uit Matteus 6: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

 

Hierdie vraag en antwoord resoneer die afgelope tyd in my gedagtes. Om dit te verstaan moet ons ver, ver teruggaan in die Bybel na Eksodus, toe die Israeliete in Egipte gewoon het. Onder die heerskappy van die Egiptenare het hulle swaar getrek en moes kliphard werk.  Klippe kap en klippe kou.  Daar was eenvoudig nie tyd vir rus nie.

 

Net voor die eerste plaag tref, stuur die Here vir Moses met hierdie woorde na die farao: “Die Here die God van die Hebreërs het my na jou toe gestuur met die opdrag dat jy my volk moet laat gaan om My in die woestyn te dien, maar tot nou toe het jy nie gehoor gegee nie.”

Hulle moes so hard as slawe werk dat hulle nie eers tyd gegun was om die Here te dien nie.

 

Toe die Here later die tien gebooie aan die Israeliete gee, is die vierde gebod dat die sewende dag as ’n gereelde rusdag geheilig moet word.  Die Israeliete moes op daardie dag doelbewus onthou dat alles nie rondom harde werk, die ekonomie en menslike vermoë funksioneer soos in Egipte nie.

 

Nee, dit funksioneer rondom die Here as middelpunt van alles, en op die rusdag dink ons doelbewus aan die Here se teenwoordigheid in ons lewens.

 

Sien, ek dink die Israeliete se omstandighede as slawe in Egipte moes op ’n tyd bitter sleg gewees het. Dan voel mens asof jy nie net ’n slaaf van iemand anders is nie, maar ’n slaaf van die lewe.  Is dit nie ook hoe ons soms voel in besige tye nie?  Wanneer besige programme ons onderkry, raak ons slawe daarvan. Maar wanneer ons opgewonde is oor die geleenthede en energie vind in hierdie omstandighede omdat ons ‘n bydrae lewer in God se koninkryk, dan floreer ons as Sy dienswerkers.

 

Is ons slawe van die lewe of dienswerkers in die koninkryk?

 

Om die koninkryk van God en sy geregtigheid eerste te soek, vra ’n doelbewuste keuse.  ’n Keuse oor die gesindheid waarmee ons die besige lewe aanpak, en ook ’n keuse om by tye stil te raak en te onthou dat God die middelpunt van alles in ons lewe moet wees.  Om dit reg te kry is niemand anders se verantwoordelikheid as ons eie nie. Dis ‘n verantwoordelikheid om gesonde gewoontes in plek te hê!

 

Lewe met vryheid en vreugde in God se koninkryk!

 | Verskaf: Ds Craig Salzmann, leraar van NG Gemeente Heuwelsig.