
Ons behoort met heilige eerbied oor God te praat. Na my oortuiging eerder stamelend waag as te versekerd spreek. Die Bybel getuig in metafore oor God en ons kan nie anders as om die Gans Andere metafories te bedink en te aanbid nie. Twee van die bekendste en mees geliefde metafore van God vind ons in Lukas 15 se gelykenisse. In die gelykenis van die verlore skaap is God die Herder. In die gelykenis van die verlore seun is God die Vader. Metafore soos hierdie gryp ons verbeelding aan, verdiep ons belewenis van God, verryk ons geloofslewe en stimuleer ons kreatiwiteit (ook hierdie is gawes uit God se hand). In sy bekende boek The Return of the Prodigal Son, plaas Henry Nouwen die gelykenis van die verlore seun en Rembrandt van Rijn se meesterwerk naas mekaar en skryf boeiend oor die metafoor van God as Vader.
Tussen die gelykenisse van die verlore skaap en die verlore seun is daar ook ‘n derde gelykenis (Lukas 15:8-10). Wie is God in die gelykenis van die verlore muntstuk? Watter metafoor word hier vir God benut? Soos wat God die Herder en die Vader is, is God hier die Vrou. Nog ‘n metafoor wat verbeelding aangryp, belewenis verdiep, geloofslewe verryk en kreatiwiteit stimuleer.
Metafore kan meer of minder toepaslik wees. Ook onsensitief, selfs ontoepaslik. Daarom behoort metafore oor God omsigtig en keurig gekies te word. Metafore oor God behoort ons ook by geleentheid uit te daag en nuwe perspektief te gee. NP van Wyk Louw benut ‘n uitdagende (vreemde?) metafoor vir die vleeswording van Christus…
Nie uit wit paleise nie
wou Hy (uit soewereine Wil)
tot ons soort staat gebore word;
maar, waar die Kuise en die Arme stil
en buite die hotel se poort
verniet loseer het in die stal,
het Hy, Visarendjie van God,
in ons benoude vlees geval…
In Rosa Smit se Gebed om ‘n Reënboog (Uit: Die Braambos Brand, 1987; Tafelberg Uitgewers) benut sy ‘n metafoor van God wat uitdaag tot nuwe perspektief….
Heilige prisma
ek wat ‘n klein-klein liggie prik
bid dat jy my dwarsdeur jou pluk
dat ek sewekleurig na omhoog
in ‘n loflied jou kan loof
Ons behoort met heilige eerbied oor God te praat.
Hierdie is ‘n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van die NG Kerk Vrystaat nie.