Deur ds Jannie du Plessis, leraar van NG Gemeente Brandfort
“En Ek sê vir jou, jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou; en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie.”
Matteus 16:18 AFR20
Wanneer ons bogenoemde tema oordink, ontstaan die vraag onwillekeurig: Waar in die Bybel lees ons vir die eerste keer van die begrip ‘kerk’?
In die Ou Testament (Eksodus 16:2-3 en Numeri 14:5) word die Hebreeuse woord vir kerk as qahal in die SEPTUAGENT gebruik. (Hier het Israel as hele volksvergadering aangekom en met Moses en Aäron getwis.)
In die Nuwe Testament (Matteus 16:18) is die woord ekklesia gebruik. (Hier ontvang Petrus die opdrag om die Evangelie uit te dra.)
Na my beskeie mening is die terme qahal en ekklesia, soos hierbo vermeld, die eerste verwysings na wat ek as kerk verstaan. (Beide OT- en NT-navorsers en akademici sou die eerste verwysing na kerk verder kan uitbou en verbeter.)
Hierdie vraag bly voortbestaan en sal tot in ewigheid deur vriend en vyand gevra word. Vir sommiges is die bestaan en voortgang van die kerk ’n verwondering, terwyl dit vir die vyande van die kerk, ’n frustrasie en ergenis is! Diegene wat die kerk belaster, verdag maak en vervolg, het reeds eeue gelede uitgevind dat hierdie metode nie die kerk laat ‘sterf’ nie. Die bloed van gelowige martelare is eintlik die saad van die kerk. Hierdie feit het Saulus van Tarsus ook ervaar. (Handelinge 8-9)
Vele Romeinse keisers het ook hierdie feit aanskou, alhoewel hulle self nie bekeer is nie. Etlike dekades gelede het van die kommunistiese regerings besef dat die kerk nié doodgeskiet of dood regeer kan word nie. In die omgewing waar die Hoof van die kerk gekruisig is, staan ’n kerk wat deur duisende Christen-pelgrims besoek word …
In China en Noord-Korea waar daar nie godsdiensvryheid is nie, bestaan daar ondergrondse kerke waar Christus aanbid word. Die kerk bestaan juis ook voort in tronke, konsentrasie- en slawekampe, hoewel nie in volledig georganiseerde vorm van kerk nie. Waar kragte en magte saamsnoer om die kerk in sy georganiseerde vorm aan te val en te teister, beteken dit glad nie dat die kerk daardeur sal uitsterf nie.
Die kerk leef voort – juis deur die krag van genade uit te oefen in die bekering van die vervolgers.
Die verdrukking van apostels in hul leeftyd en volgelinge van Christus tot en met vandag, gaan voort. Hier dink ons byvoorbeeld aan broer Andrew Wurmbrandt en ander, wat jare lank in tronke van kommunistiese lande opgesluit was. Die verdruktes het intens beleef hoe geharde kommuniste wat in die goddelose leer van die materialisme opgelei was, tot geloof in Jesus Christus gekom het. Indien vervolging die kerk nie laat verdwyn het nie, is die vraag: Sal sonde en goddeloosheid en die verval van die ware geloof, nie op die lange duur die oorsaak wees dat die kerk sal verdwyn nie?
Waar die geskiedenis van die kerk bestudeer word, blyk dit duidelik dat die kerk nog nooit vir sy bestaan afhanklik was van super-mense, morele reuse of spesifieke denominasies nie. Indien die voortreflikheid van mense wat hulself Christene noem, deurslaggewend moes wees vir die voortbestaan van die kerk of die Christendom, sou die Christendom en die kerk lank reeds afgeskryf gewees het.
Die kerk het geen volmaakte of selfs ideale kerkgemeenskap opgelewer nie. (NGB, Artikel 29)
Die Christendom het dikwels verstar geraak in uiterlikhede en vormlikheid – sonder ’n kloppende en polsende lewe. Soms was daar ‘n onverdraagsaamheid teenoor medegelowiges in plaas van ’n onverdraagsaamheid teenoor sonde en ongehoorsaamheid aan die Bybel.
Daar was tye wat die kerk verval het in tradisies en gewoontes van mense. Soveel so dat die Christendom beskou is as maar net nog ’n ideologie/verskynsel wat bestem is om te verdwyn, omdat dit uitgedien was. Die vlam van ware en opregte toewyding aan God in die kerk, het by tye baie laag gebrand.
Die Bybel was, tragies genoeg, in sekere tye vir die volk ’n onbekende boek. Dit was ook die geval vir sommige lede van die kerk. Vervalsing van die leer en verdraaiing van die suiwere Woord, het ook plaasgevind in die kerk – in verskeie denominasies. (2 Timoteus 3:10-17)
Politieke dienstigheid en onmin onder kerklidmate het nie alleen die beeld van die kerk vervals nie; die kerk het ook ’n struikelblok geword in plaas van ’n seën vir die nasies. Daar was verder ook tye dat die kerk sy sending-opdrag (Matteus 28) versuim het en sy heil by die wêreld gaan soek het. Werkheiligheid het van tyd tot tyd ook in die kerk voorgekom en die genade van Jesus Christus se sterwe en die geloof in Hom, laat erodeer. (Romeine 1:17)
Dit is duidelik dat die mens se prestasies, geestelike voortreflikhede en die wetenskap as sulks, glad nie ’n verklaring kan bied vir die voortbestaan van die kerk onder wêreldnasies nie. Die kerk het onder verskeie volke en nasies, wissellende fases van groei en taan vertoon. Die vraag gaan weer gestel word: Het die kerk bestaansreg? Het die kerk ’n antwoord op die vrae en die nood van die mens van die teenwoordige tyd? Is die kerk ’n blywende of ’n verbygaande instelling?
’n Kerk wat ongehoorsaam is aan die Evangelie, sal die oorsaak wees daarvan dat God Hom sal onttrek/afwend van daardie kerk. (Jeremia 15)
God se handelinge is merkwaardig, ook met die evangelisering van die wêreld waar God getrou, verskillende lande oor verskillende tye laat evangeliseer – elk op sy eie tyd. Ongeveer vier (4) eeue gelede, is Switzerland, Duitsland, Nederland, Frankryk en Engeland, ge-evangeliseer. Heelwat later het Amerika bygekom.
Dit is merkwaardig dat Afrika en Asië ook later ge-evangeliseer is. Die feit dat die Woord aangeneem word en dat die getal gelowiges in Iran en selfs Afghanistan groei, is tekenend dat God nooit Sy kerk los nie. Die Skepper van hemel en aarde sal sorg dat die aarde nooit sonder kerke sal wees nie. Wanneer die wêreld sonder ’n kerk sal wees, sal dit sekerlik die laaste dag op aarde wees. Watter voorreg en genade is dit om te kan bevestig: Die kerk sal nie verdwyn nie!
Tot dusver het ek nog nie gesê waarom die kerk myns insiens nié sal verdwyn nie – die kerk verdwyn nie, omdat Jesus Christus onsterflik is! (Johannes 20)
Die lewe van die kerk en die hart van die Christendom is nie net die herinnering van Jesus Christus en Sy dade nie. (1 Korintiërs 15:1-11)
Die voortbestaan/lewe van die kerk, is nie daarin geleë om aan Bybelse gebooie gehoorsaam of ongehoorsaam te wees nie. Die lewe van die kerk is nie ’n wetenskaplike formule of modernisering van die kerk (ter wille van aanvaarbaarheid van die huidige tydsgees) nie. Die voortbestaan kan nie met menslike verstand uitgedink/beplan word nie. (Efesiërs 3:10)
Die geheim/wonder van die kerklike lewe en sy voortbestaan is in die persoon van Jesus Christus geleë – Hy wat onsterflik is … met ’n mistieke, maar werklike band verbind aan die kerk – wat Hy Sy liggaam noem. So seker en definitief as wat die hoof Jesus Christus lewe, sal die liggaam (Sy kerk) ook bly lewe tot en met die parosia/wederkoms.
Hy het alles onder Sy voete gestel en Hom aan die kerk gegee as hoof oor alles, die kerk wat Sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles en almal vul. (Efesiërs 1:22-23)
Soli Deo Gloria
| verskaf: Ds Jannie du Plessis, leraar van NG Gemeente Brandfort.