Deur ds Friedrich Kotzé (medeleraar van NG Gemeente Vaalpark)
en ds Dirk du Preez (leraar van NG Gemeente Deneysville), Vaalrivier-ring
Maandag 6 tot 7 Mei het die Ring van die Vaalrivier ’n IN Pas-kursus aangebied, gelei deur Tom Smith en Nico Swart. Hierdie geleentheid het by Breathe River Retreat naby Parys plaasgevind. Sewentien predikante het hierdie byeenkoms bygewoon. Ons is dankbaar dat ons tydens hierdie geleentheid ook ons kollegas vanuit die Hervormde kerk, ds Annemie McLintock sowel as ds Albertus Carstens van die Metodistekerk, kon saamnooi vir hierdie reis.
Ds Dirk du Preez deel graag iets van sy belewenis tydens hierdie konferensie.
Met die aankondiging van die twee dae van IN PAS-opleiding moet ek eerlik bieg dat ek gewonder het of dit nie dalk nog ‘n doodgebore baba in die kerk gaan wees nie. Nog opleiding wat op niks uitloop nie. Maar reeds met die intrapslag kon ek sien … hier is iets anders! Persoonlik het ek Tom en Nico van die begin af ervaar as gespreksgenote en nie net blote fasiliteerders nie. Hierdie was nie net nog ‘n didaktiese sessie nie, maar eerder ‘n gespreksreis en tydens hierdie tweedae-reis het Tom en Nico verseker dat ons saam met mekaar groei in God. Dit was ‘n seldsame span mense wat saam om die tafel vergader het, by wie ek kon sien dat hulle ook wonder oor die dinge waaroor ek wonder. Ek is nie alleen nie! En IN PAS het ons gekonfronteer met vrae wat ons as leraars nie altyd wil erken ons ook maar oor wonder nie. Asof ons skielik uit ons gemaksones geruk is.
IN PAS het my aangegryp. Hier is ‘n manier om die gemeente in ‘n rigting te neem, op reis te neem soos Tom gereeld genoem het, wat nie net nog ‘n preek was nie. Ek is opgewonde. Met sommige van die aktiwiteite was ons reeds besig in die gemeente, maar IN PAS het dit net ‘n ander geur gegee. IN PAS help ons AANPAS.
Oor sommige aktiwiteite het ek gewonder: Gaan dit in ons gemeente werk? Ek het met ander insigte die reis huis toe aangepak. Hierdie was nie “a pie in the sky” soos die Engelse uitdrukking sê nie. Dit was prakties … vir die eerste keer iets wat geloofsgroei prakties maak. Hier is iets wat ons as gemeente gaan help om nader aan God te groei, een tree op ‘n slag …
| verskaf deur: Ds Friedrich Kotzé, medeleraar van NG Gemeente Vaalpark