Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Koninkrykstyd: Allermins ’n feeslose tyd

Deur ds Johan Marais,
medeleraar van NG Gemeente Berg-en-Dal

Dit is Maandagmiddag, oomblikke voor die Pinksterbiduur. Oorhaastig kom my motor tot stilstand … amper laat … nog baie wat moet gebeur. Daar is reeds heelwat motors in die parkeerterrein voor die kerk, maar iets is anders as gewoonlik. Daar is lewe op die terrein en ek verstom my ’n oomblik daaraan. Elke keer wanneer ’n motor tot stilstand kom, vlieg die agterste deure oop en jong lyfies borrel uit, terwyl ma nog ’n laaste paar bevele (tevergeefs!), agterna roep. Die kinders hardloop asof hulle bang is dat hulle ’n vliegtuig gaan mis. Wat inderdaad so is, want vir Pinkster het kollega Janke die jeuglokaal omskep in ’n vliegtuig, kompleet met ’n “Check-in desk” en paspoorte vir ’n reis met die Evangelie om die wêreld. Vir ’n oomblik glimlag ek en dan probeer ek onthou wanneer laas ek so opgewonde was om ’n erediens by te woon. Wanneer het my eie opgewondenheid oor die ontmoetingsgebeure met die lewende Christus in die erediens, bloot ’n gewoonte geword, nog ’n lewelose afdruk van die vorige?

Die “groen tyd” of Koninkrykstyd tussen Pinkster en Advent “impliseer allermins dat díe tyd van die jaar liturgies gesproke ’n feeslose tydperk is”. Wanneer ons mooi daaroor dink, behoort geen erediens ooit “’n tyd van kleurlose, leë, dooie formalisme en gelykmatigheid te wees nie”. Só skryf dr Louwrens Strydom in sy boek, Sing nuwe sange, nuut gebore – Liturgie en lied. Koninkrykstyd is ’n tyd van groei, van lewe. Elke Sondag is vir Christene ’n viering van die opstanding van ons Here, dit bly altyd ’n fees.

So van ’n laaste gedagte gepraat – wat was die laaste dinge waaroor die opgestane Here met sy dissipels gepraat het? Handelinge 1:3 vertel dat die inhoud van Jesus se gesprekke in daardie 40 dae tussen die opstanding en die hemelvaart, die sake van die koninkryk van God was. “… toe Hy oor ’n tydperk van veertig dae aan hulle verskyn en met hulle oor die sake van die koninkryk van God gepraat het.” As Jesus se laaste gedagte, wat Hy by sy dissipels laat, die koninkryk van God is, behoort dit dalk ook in die gedagte van die kerk van die Here te talm. Trouens, die koninkryk van God was nie net Christus se laaste gedagte nie, maar ook die eerste wat Hy in die midde van mense hier op aarde laat. Matteus 4:23, “En Jesus het … die evangelie van die koninkryk van God verkondig …” en wanneer Hy sy kerk leer bid, plaas Hy die bede in ons mond “Laat U koninkryk kom.” (Matteus 6:10a) Dikwels is die sleutel tot die gelykenisse wat Jesus vertel dan juis dieselfde laaste gedagte wanneer Hy sê: “Die koninkryk van God is soos …” Koninkrykstyd is hart-van-die-evangelie-tyd. Dit is die tyd om die aanmekaar-raak van die hemel en die aarde in die geboorte van Christus, die “Vader, vergeef hulle …” van Goeie Vrydag en die oorwinnings van Paassondag, te sien werk in die wêreld, in my lewe en in die kerk. Hier verbind die kerk haar aan die verkondiging en verspreiding van die koninkryk en vier die kerk die oorwinnings van die koninkryk in die lewens van mense. Koninkrykstyd is evangelie-aan-die-werk-tyd – tyd van groei en lewe. Om werklik te lewe is nie die spronge wat ons maak van een fees na die volgende nie, maar ’n ontdekking van lewe in die koninkryk van God. Hier vier ons die tuiskoms van verlore seuns en dogters, die daaglikse brood wat ons met mekaar kan deel, die dankbaarheid (met trane) wanneer getroue diensknegte van die Here se geloof hulle nie begewe nie, tot in daardie laaste asem hier. Ons vier kinders wat opgewonde leer sing “die berge maak Hy, riviere daarby” en elke oorwinning van iemand wat nie vandag gedoen het wat sy sondige natuur wou hê nie. Ons vier die genade van gelowiges wat mekaar se laste dra, ons vier die krag van gebed en gereeld ook Christus se oorwinning oor die dood, wanneer iemand in ons kring “huis toe” gaan. Koninkrykstyd is ’n viering van lewe – “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” (Johannes 10:10)

Terwyl ek so in my motor sit en die kinders sien hardloop asof hulle lewe daarvan afhang om by die kerk uit te kom, vorm daar ’n laaste gedagte voor ek haastig uit my motor klim: “Here, dat ek weer kan kerk toe gaan soos ’n kind wat hardloop om nie my vlug mis te loop nie, ek wil nie ’n oomblik van lewe in u koninkryk verloor nie.”

 | verskaf: Ds Johan Marais, medeleraar van NG Gemeente Berg-en-Dal

116 | Maatskaplike NOODLYN