Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Kan ons ooit seker wees van ons saligheid?

Deur ds Gerber Roux, leraar van NG Gemeente Hospitaalpark

My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My.  Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”

Johannes 10:27-28 AFR20

Vroeg in sy brief aan die Korintiërs skryf Paulus: “Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie” (1 Korintiërs 1:8).  Hiermee het Paulus aan die gelowiges in Korinte die versekering gegee dat hulle op die dag van Jesus se wederkoms gereed sal wees vir dié ontmoeting. Hulle kon dus seker wees van hul saligheid.

Was hierdie sekerheid miskien gegrond op enige iets wat die Korintiërs gedoen het, of enige menslike prestasie aan hulle kant? Nee, glad nie! Die sekerheid van hul saligheid – en ons s’n – is gegrond op God se soewereine, onveranderlike en genadige onderneming om sondaars te red.  Dit is nie ons wat onsself red nie. Die goeie werk van ons redding is ‘n werk wat God drie-Enig begin en voltooi het. Om hierdie rede – en vir geen ander rede nie – kan ons seker wees van ons saligheid.

Die Here Jesus het by geleentheid vir die Jode gesê: “My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My.  Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie” (Johannes 10:27-28).  Hieruit leer ons dat as Christus een maal ons hand gevat het, ons nie verlore kan gaan nie.  Hoewel ons swak is en sy hand maklik sou kon los, is Hy sterk en getrou en sal Hy ons nooit uit sy hand laat ruk nie.

Mag hierdie blye versekering ons die vrymoedigheid gee om elke dag met nuwe ywer tot die eer van ons Here Jesus Christus te lewe.

 | verskaf: Ds Gerber Roux, leraar van NG Gemeente Hospitaalpark