Deur Heléne Meissenheimer,
uitvoerende joernalis en inhoudsvervaardiger by Kerkbode
Ek sit onlangs in ’n vliegtuig en lees hoe dr Stephan Joubert in een van sy boeke* vertel van wat hy sy “tweede bekering” noem. Hy sê dit was sy tweede weergeboorte. Dit gryp my aan want ek herken iets van my eie geloofstorie daarin.
My ma was een van die tannies in die kerk wat Kinderkransgroepies gelei het. Dit was in die 70’s en vroeë 80’s. My ma en nog ’n tannie het in ons straat sulke groepies in hulle huise aangebied waar hulle vir ons stories uit die Bybel vertel het.
Dit was ná een so ’n middag wat ek die aand vir my ma gesê het ek wil my hart vir Jesus gee. Ek dink ek was nege of tien. Sy het toe saam met my gebid. Sover ek kan onthou het ek nie juis anders gevoel daarna nie. My ma het my geleer dit is vir my geestelike groei belangrik om elke aand te bid en Bybel te lees voor ek gaan slaap. Op Sondae was daar ’n hele lys goed wat mens moes doen, soos mooi aantrek, kerk toe gaan vir diens en Sondagskool, later ook CSV en KJA bywoon. Daar was ook goed om te vermy soos sekere musiek, boeke en TV-programme wat jou gedagtes kan besoedel. (Soos ek ouer raak, besef ek haar bedoeling was opreg en kom natuurlik agter dat dit heilsaam is om bewus te wees watter invloed dit waaraan jy jou blootstel, op jou gemoed het. Ek hou my daarom by tye met intensie skaars in toksiese gesprekke op sosiale media, maar dis ’n tema vir ’n ander dag.)
As tiener het ek gedurig skuldig gevoel want ek het gedink ek haal nie die paal as gelowige nie. Ek was ’n CSV-kringleier in matriek, maar ek het gevoel soos ’n ‘fake’.
My grootste gemis was aan liefde. Ek wou God lief hê, maar ek het gevoel ek kon nie want ek stel Hom en myself dan net heeltyd teleur. Ek kon nooit lank my beloftes hou om beter te doen met stiltetyd hou of om met meer mense oor Hom te praat nie.
Stephan vertel hy het sy eerste ontmoeting met Jesus in “vroom godsdienstige watte verpak en van Jesus ’n voorspelbare, godsdienstige Figuur gemaak”. Dit klink so bekend as hy skryf “ek het gedink ek moet die Here tevrede stel deur meer kerk toe te gaan, langer Bybelstudies te hou, meer te bid, ’n paar ekstra preke elke week te luister, my rockmusiek weg te gooi en net geestelike musiek te luister”.
Hy sê “ek het verander in ’n sondekenner, eerder as ’n Godliefhebber”. Stephan sê vir hom was Romeine 8 vers 26-27, die stuk waar Paulus skryf dat God se Gees namens ons bid wanneer ons nie weet hoe en wat om te sê nie, die “regte dinamiet op die regte tyd om my uit my godsdienstige vestings te skiet waarin ek vasgemessel was”. Hy skryf so mooi hy het besef God “is meer genadig met ons as wat ons ooit met onsself is”.
My eie “tweede bekering” se storie klink natuurlik anders. Die Here ontmoet ons elkeen verskillend. Vir my was een van die snellers die lees van die boek, What’s so amazing about grace? deur die Amerikaner Philip Yancy (wat ongelukkig nou hierdie jaar gebieg het hy was jare lank in ’n buite-egtelike verhouding, maar dan dink ek aan die Psalms van Dawid en als wat hy aangevang het …). Algaande het ’n insig in my binneste begin tuiskom dat ek nie God kan verras met enigiets wat ek nie regkry nie. Hy bly lief vir my en dié wete maak my vir Hom lief … en as Hy vir my met my voete van klei en als soveel genade het, dan help dit my om met sagter oë na ander te kyk, want Sy genade is dieselfde vir ons almal.

