Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

’n Flâneur op die pad

Deur ds Hannes du Plessis, skriba van die Moderamen en leraar van NG Gemeente Universitas-Wes

Die Franse het ’n woord, flâneur, wat dui op iemand wat in die stad ronddrentel sonder ’n bestemming. Maar, die woord het nie noodwendig ’n negatiewe konnotasie nie. ’n Flâneur stap nie rond om te kyk wat gesteel kan word nie, hy wil nie koop nie en stel nie belang om te proe nie. ’n Flâneur beweeg van plek tot plek en van mens na mens om te beleef. Daar is ’n mate van nuuskierigheid by ’n fláneur. Sy kyk met belangstelling wat mense dra, hoe hulle lyk en wat hulle sê. Hy stel belang in gesprekke en – hoewel hy nie sommer daaraan deelneem nie – word daar fyn geluister na wat in mense se harte leef. Die fláneur het ’n intense belangstelling in geboue, mense en gebeure, het nie ’n padkaart nie en daar is geen haas nie. ’n Flâneur gaan daar waar haar voete haar neem, en bly so lank dit nodig is. ’n Flâneur kan nie verdwaal nie en niks op die pad is ’n hindernis nie.

Teenoor die flâneur is daar die haastige reisiger wat by ‘n bestemming wil uitkom. As hy stop, word daar gekoop of geëet. Sy is haastig en het nie regtig tyd vir mense nie – veral nie vreemdelinge nie. Tyd is geld en hy moet by die huis kom. Sy haat dit om te verdwaal en het dikwels nie tyd om regtig die natuur, mense en geboue op die pad te waardeer nie.

Wanneer laas het jy tyd gehad om soos ’n flâneur rond te drentel? Wanneer laas het jy werklik die reis geniet en vir ’n oomblik vergeet van die bestemming? Wanneer laas het jy dankie gesê dat jy kon verdwaal, sodat jy iets nuuts kan beleef?

Mag ons hierdie seisoen nie so behep wees met die eindbestemming dat ons die “klein” wonderwerke, die mooi mense en die Here se teenwoordigheid op die pad mis-leef nie.

 | verskaf: Ds Hannes du Plessis, skriba van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat en leraar van NG Gemeente Universitas-Wes.