Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Deur die oë van ’n vroueskrywer – ’n Diepduik in kuns, krag en vrouwees

Deur Celicia McLean, Redakteur van Vrypos

Vrouedag word in Suid-Afrika op 9 Augustus gevier en het ’n diepgaande en veelvlakkige betekenis vir alle vroue. Dit is ’n simboliese dag wat die krag, moed en veerkragtigheid van vroue beklemtoon en elke vrou se uniekheid, diversiteit en vrouwees in die samelewing vier.

Die perspektief van vroueskrywers bied unieke insigte in die ervaring van vrouwees, die krag van vroue en die kreatiewe uitdrukking deur kuns. Ons het gaan inloer by Mariëtte Odendaal, mediadiensverskaffer aan die NG Kerk Vrystaat en vroueskrywer vir Vrypos.

Mariëtte, hoe defineer jy vrouwees en die vreugdes daarvan in jou persoonlike en professionele lewe?

“Vrouwees beteken vir my om ruimtes met ’n gesellige atmosfeer en sag-op-die-oog-omgewings te skep; plekke waar veilige hartsgesprekke kan plaasvind. Die mense naaste aan jou moet weet dat hulle altyd in hierdie sagte en deernisvolle ruimtes welkom is.

“Dit was vir my nog altyd iets besonders om ’n vrou te kan wees – veral met die geboorte en grootmaak van ons drie kinders; om so intens bewus te kon wees van die ontstaan van lewe, die handevat en begeleiding van so ’n kind tot volwassenheid. Antjie Krog praat van haar ma se ‘moesie-oor’ – dis wat ek altyd vir ons kinders wil wees; dat hulle altyd sal weet by my word hulle woorde gehoor, gerespekteer en bewaar.

“Ten opsigte van my professionele lewe is ek dankbaar dat ek nie in die vorige eeu leef nie. Dis ’n riem onder die hart om te ervaar hoe ek oral waar ek al gewerk het, veral tydens besoeke aan ons susterskerke in Afrika, met soveel warmte en ope arms ontvang word. Die kruis-kulturele vriendskappe wat ek oor die afgelope dekades gevorm het, is kosbaar en dra direk daartoe by dat samewerking ten opsigte van byvoorbeeld die skryf van artikels oor hulle kerknuus ’n plesier is. Ek dink nou sommer aan dr William Zulu van die Reformed Church in Zambia se insette met die skryf van die artikel, Ons susterskerk in Zambië vier 125 jaar van genade, wat in die vorige Vrypos verskyn het.

“Danksy al hierdie blootstelling voel dit vir my dikwels asof ek diepseeduik en op skatkiste vol kosbare edelgesteentes afkom. Ek besef dan wat almal mis wat nog niksvermoedend daar bo rustig in hul bootjies ronddryf. Met my artikels probeer ek hulle dan iets laat ervaar van hierdie ontdekte skatte.”

Hoe het jy jou pad gevind na ’n loopbaan as vroueskrywer?

“Ek was aanvanklik in die sekondêre onderwys betrokke en toe by tersiêre opleiding. Nadat ek later in my lewe ’n MPhil-graad aan die Universiteit Stellenbosch in dokumentanalise en -ontwerp behaal het, het ek myself as mediadiensverskaffer begin beskikbaar stel.

“Sedert 2010 het ek begin om onder andere artikels vir Getuienisaksie in die Wes-Kaap te skryf en sedert 2021 doen ek dit nou ook vir Vrypos.

“Na al die jare kan ek nog steeds nie wag om soggens aan die werk te spring nie – elke dag is ’n verrassing; ek weet nooit wat alles vir my op my lessenaar wag nie.”

Kuns, krag en vrouwees vorm saam ’n ryk tapisserie van ervarings en uitdrukkings. Is daar enige spesifieke onderwerpe of ervarings wat jy as vroueskrywer verkies om oor te skryf?

“Ek skeep my eie kreatiewe skryfwerk op die oomblik baie af en het lanklaas daarvoor tyd gemaak.

“Danksy ’n skrywerskursus wat ek destyds by Riana Scheepers gedoen het, het ek besef dat ’n mens se skryfwerk eintlik ’n dokumentêr oor jou eie lewe is.

“As ek kreatiewe skryfwerk doen, gaan dit dikwels oor die Swartland waar ek grootgeword het; oor my pa in sy bakkie met die skaaphonde agterop, die koringlande en veral oor die plaasarbeiders. Ek het hierdie temas ook opgemerk in my skilderwerk.

“Wat skryfwerk vir die kerk betref, is dit altyd besonders om te skryf oor hoe die lewens van mense danksy hul navolging van Christus verander het. Verlede week het ek weer so ’n artikel oor iemand geskryf wat my diep geraak het.”

Watter rol speel selfsorg en geestelike gesondheid in die uitdrukking van vrouwees vir jou?

“’n Goedversorgde vrou is iemand wat haarself ag. Ons as vroue kan maklik in die versoeking kom om die mense naaste aan ons eerste, bo ons eie behoeftes, te stel, maar dis tog van groot belang dat jou energievlakke gelaai bly omdat daar dikwels soveel ander mense rondom jou daarvan afhanklik is.

“Daarom is dit vir my belangrik om gereeld te gaan reis, ’n spa te besoek of om met vriende koffie-afsprake te maak – om te halt, mekaar in die oë te kyk en te hoor hoe dit gaan.

“Dis ook vir my belangrik om elke dag ’n tydjie vir myself opsy te sit; iets wat ek by my boervrou-ma geleer het. Tussen een-uur en twee-uur in die middag kry niemand my in die hande nie; dan lees ek sommer iets ligs om my kop op ’n ander plek te kry. En dis verstommend hoeveel energie ek dan daarna het!

“Dis ook belangrik om tye van stilte voor God te hê. Aan die begin van die dag het ek dit nodig om net weer te besin waarvoor ek hierdie lewe ontvang het. Aan die einde van die dag help dit my weer om terug te kyk op die dag wat verby is en te merk waarmee ek my besig gehou het.

“Dis ook belangrik om geestelik in pas te bly met die insigte van wyse Christenleiers wêreldwyd. Ons weet hoe vinnig tye van een geslag na ’n volgende verander en hoe nuwe insigte mettertyd gevorm word. Dis ’n voortdurende verrykende ontdekking, veral van hoe min ek weet en hoe groot God is; dat God in wese suiwer liefde is.”

Vrouwees het verskillende fases. Mariëtte, jy het onlangs ouma geword. Hoe het jou persepsie van vrouwees oor die jare verander, veral in die nuwe rol as ouma?

“Ek het altyd vir my kinders geleer: Die lewe gaan nét oor goeie verhoudinge. Deesdae voeg ek ook ‘blootstelling’ by. 

“’n Mens hoef nie getroud te wees en kinders te hê om ’n vol lewe te hê nie. In my geval het dit egter my wêreld as vrou oopgeskiet.

“Vrouwees het nuwe betekenis in my huwelik gekry. Ek moes nou iemand anders in ag neem en ons moes as ’n span van twee besluite neem. Dit het my baie geleer van om soms die minste te wees, verskoning te vra, ter wille van goeie verhoudings die ekstra myl te stap – nie net tussen ons twee nie, maar ook as vrou in die huwelik waar twee families aan mekaar verbind is.

“Dit geld ook vir as jou kinders trou. As vrou speel jy dikwels die rol van die katalisator; die een wat die verhoudinge op koers moet hou, koester en voed.

“Na baie jare van afwagting het ek uiteindelik op 8 Julie ouma geword en skielik ontwaak daar nou ander aspekte van vrouwees. Byvoorbeeld: ek haat naaldwerk met ’n passie, maar kan jy nou glo hoe ek onlangs aand vir aand hier gesit en werk het aan opgestopte diertjies vir sy bababedjie se mobile? Dis wonderlik om ouma te wees. Ek kan nog baie meer vertel, maar hoeveel tyd het jy?”

Watter rolle en verantwoordelikhede dink jy is uniek aan vrouwees in die moderne samelewing en is daar enige belangrike aspekte van vrouwees wat jy graag aan die jonger generasies wil deurgee?

“Ek het by my skoondogter se babatee so ’n paar los gedagtes aan die jongmense gegee wat dalk sal help.

“Eerstens dink ek dat vroue ’n belangrike rol speel in die vestiging van rituele, soos ‘n spesiale dag van toewyding van jou kind aan die Here, die viering van verjaarsdae, Kersfees, Paasfees en etes aan tafel. Dit gee ’n ervaring van liefdevolle ope arms van ‘belonging’ – dit sê: Ek behoort aan hierdie gesin en familie en ons vier dit.

“Dis ook belangrik om te weet dat jy nou nie meer net deel van ’n ‘couple’ is nie, maar ook van ’n gesin. ’n Vrou kan die verhouding tussen twee families wat deur ’n huwelik verenig is, tot groot seën wees, of nie. Dis ’n kopbesluit met geslagte-lange gevolge.

“Vra jouself ook af: Watter soort gesin wil jy bou? As vrou het jy ’n groot invloed ten opsigte hiervan, byvoorbeeld, die plek waar mense die heel gelukkigste is en heel word, is in die natuur. Doen moeite om baie tyd in die natuur, ná aan die aarde, deur te bring, veral met jou kinders. Leer hulle om langs ’n vuurtjie te sit, vleis te braai en te kamp. Vertel familiestories; dit word deel van jou gesin se kosbare kollektiewe geheue.

“En dan natuurlik die heel belangrikste: Om gesonde verhoudings te help bou en moedige blootstellings te waag.”

Mag vrouwees ’n ligstraal en ’n inspirasie vir almal wees om met hoop na ’n beter toekoms te streef en altyd te onthou dat elke vrou, ongeag die verskille in kultuur, agtergrond en omstandighede, gevier mag word! Elke vrou bring ’n unieke perspektief en krag na die tafel wat die samelewing verryk en transformeer.

Laat Vrouedag seëvier, vandag en elke dag, in die viering van ons krag, ywer en onwrikbare gees.

Gelukkige Vrouedag!