Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Aborsie en die Algemene Sinode

Deur dr Leon M Foot, ‘n opiniestuk

Die waarheid kan nooit deur ʼn leuen gedien word nie.

In die tydperk sedert die Algemene Sinode in Oktober 2023 word daar verskeie halwe waarhede en volle leuens oor die sitting versprei – tot groot onmin en verwarring onder lidmate. Een daarvan is die saak oor aborsie.

Die boodskap word verkondig dat die AS aborsie op aanvraag goedgekeur het. In ʼn onlangse video verklaar ʼn leraar dat “die oorspronklike verslag hard geargumenteer het dat die kerk sanksie daaraan moet verleen dat ʼn vrou die reg het om aborsie op aanvraag te kry. Dat sy die reg het om te besluit oor die lewe van die baba binne-in haar. En dat dit liefdevol sou wees om daardie reg aan haar toe te staan.” Dis nie die waarheid nie. Nie eers ʼn halwe waarheid nie!

 

Die volle verslag is op die kerk se webblaaie beskikbaar vir almal om te lees. Die vorderingsverslag oor aborsie is op p77ev. Hierin verklaar ATLAS dat hulle ʼn “dialogiese en deelnemende benadering” volg, en dat “hierdie verslag geensins as die finale produk… aangebied word nie.” Daar word pertinent na Bybelse riglyne soos “die sesde gebod, Jeremia 1 (God ken Jeremia voor Hy hom skep), Psalm 139 (God ken die kind reeds voor geboorte), Genesis 1 (die beeld van God)” verwys. En maak dit duidelik “dat aborsie… nie gebruik mag word om bloot ongewensde swangerskappe te beëindig nie.”

Dit mag dalk so wees dat mense wat insette aan die taakspan gelewer het, ten gunste van aborsie op aanvraag is. Dit is duidelik geweeg en te lig bevind en het daarom nie die verslag gehaal nie. Dit sê tog al iets oor die taakspan se standpunt. Om dit nou aan te haal en voor te hou as sou dit die besluit van die AS wees, is eenvoudig oneerlik en pas nie by ʼn leraar wat deel van die sinodesitting was nie.

Almal weet dat daar verskil van mening  oor baie sake in die kerk is. Om egter jou moeder verdag te maak in die oë van jou broers en suster is onaanvaarbaar.

Hierdie opiniestuk weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die NG Kerk Vrystaat nie.