
Moeder, Mamma, Mamsie, Mammie, Moeksie of net Ma is enkele name vir die vrou in jou lewe wat jou grootgemaak het, en jou natuurlik onvoorwaardelik liefhet. Die betekenis van ma-wees is legio. Soveel mense op planeet aarde, soveel antwoorde op hierdie skynbaar eenvoudige vraag: Wat beteken jou Moeder vir jou?
So, met Moedersdag wat binnekort gevier word, het ons dit goedgedink om vyf vinnige vrae aan kinders jonk en oud te vra om juis te probeer vasstel; wat beteken jou Moeder vir jou?
Hiermee dan die vyf vinnige vrae, en ook elke kind se antwoord (let daarop dat net die eerste letter van die kind se naam gebruik word om privaatheid te verseker, en die kind se ouderdom word in hakies aangedui):
Vraag 1: Wat sê jou Mamma die heel meeste vir jou?
J (5): “Mamma is lief vir my!”
M (5): “Moenie my lippe trek en lek nie!”
L (6): “If I ask you to play you say that you need to work. You also say: Come Eat.”
C (6): “Drink jou koeldrank. En ek’s lief vir jou!”
J (10): “Ek is lief vir jou.”
K (33): “Daardie klere pas jou nie, jy kan dit maar vir my gee.”
S (34): “Ek is baie trots op jou! Jy is ‘n goeie Mamma!”
M (60): “Dis nie lekker om oud te word en afhanklik van ander te wees vir hulp nie.”
Vraag 2: Wat doen jy, wat Mamma gelukkig maak of laat glimlag?
M (4): “Ek speel saam met jou.”
J (5): “Netbal speel by die huis.” (Let wel, dit is net omdat sy nou met ‘n bal by haar sit.)
M (5): “Ek bring altyd vir Mamma ‘n blommetjie as ek van die skool af kom.”
L (6): “Giving you a present, like the Mothersday plants that I gave you.”
C (6): “Ek maak vir jou geskenkies en gee blommetjies.”
J (10): “As ek iets mooi teken of Mamma help kos maak.”
K (33): “Stuur home-cooked etes, veral sop of iets soets.”
S (34): “Whatsapp video calls en wanneer ons kom kuier – sy wag ons letterlik elke keer by die hek in.”
M (60): “As ek haar dorp toe neem of sy by my kom kuier.”
Vraag 3: Indien Mamma ‘n “superhero/cartoon” karakter kan wees, wie sal sy wees? En hoekom?
M (4): “‘n Unicorn, want dan is jy baie mooi en jy sou kon vlieg.”
J (5): “Feetjie, want ek hou baie van feetjies.”
M (5): “Supergirl, want supergirl is ‘n dogtertjie, en Mamma is ‘n dogtertjie. En Supergirl kan vlieg en Mamma hou van vlieg.”
L (6): “Catwoman, because you like cats.”
C (6): “Batgirl, want Batgirl skiet ‘boomerangs’.”
J (10): “Rapunzel, want Mamma en Rapunzel hou daarvan om te teken.”
K (33): “Wel, dit tel seker nie as ‘n superhero nie, maar definitief Sherlock Holmes. Vir hierdie vrou steek jy niks weg nie, sy snuffel dit uit die oomblik wanneer sy my sien.”
S (34): “Joy, want Joy is die karakter wat vreugde en warmte bring in die film ‘Inside Out’. My ma doen dieselfde in ons gesin, sy is die sonskyn en die lig in ons lewe – geen wonder geel is haar gunsteling kleur nie.”
M (60): “Moeder Theresa. Sy stel haarself nog vandat ek my verstand het, altyd heel laaste, dra haar hele lewe (op 87) nog steeds ander se belange en welsyn op die hart. Sy is die nederigste, gelowigste en Godvresendste mens wat ek ken.”
Vraag 4: Wat is jou en Mamma se gunsteling aktiwiteit om saam te doen?
M (4): “Speel, ons speel ‘rock, paper, scissors, sheep’.”
J (5): “Speel.”
M (5): “Om saam te slaap. En speletjies te speel, soos klei speel, puzzles bou en inkleur.”
L (6): “To play games, like Minecraft.”
C (6): “Wanneer ons inkleur.”
J (10): “Kos te maak.”
K (33): “Koffie te drink en ‘n ‘hot stone massage’.”
S (34): “Om op my ouers se sitkamerbank te lê en Candy Crush speel. En om net bymekaar te kan wees en te gesels.”
M (60): “Brei.”
Vraag 5: Hoe weet jy dat Mamma lief is vir jou?
M (4): “Want jy bederf my.”
J (5): Eers ‘n 5 gewys. En toe antwoord sy: “Skottelgoed was.”
M (5): “Want Mamma gee vir my sweeties.”
L (6): “I know that you love me because you play with me.”
C (6): “Want jy is my Mamma en gee vir my soentjies en drukkies.”
J (10): “Mamma gee vir my drukkies en het vir my nuwe skoolklere gekoop.”
K (33): “Sy stuur vir my elke dag ‘n boodskappie met ‘n prentjie, en ‘n klompie emoji’s. Dis nooit dieselfde boodskappie of prentjie nie, dit word gedoen met liefde, en daar word ‘effort’ ingesit. Sy kan haarself ook so opstres oor ons dat sy sommer pyne kry.
S (34): “My ma sê dit elke dag vir my. En sy wys dit ook deur al die opofferinge wat sy al in haar lewe vir my gemaak het.”
M (60): “Sy sê baie maal dankie vir alles wat ek vir haar doen, en sy sê ook dikwels sy weet dat, ten spyte van ‘n besige lewe, ek nog tyd het vir haar.”
Die antwoorde op hierdie bogenoemde vyf vinnige vrae help ons om die betekenis van ma-wees as volg te verwoord:
‘n Ma is ‘n beskermer, ‘n dissiplineerder, ‘n versorger, ‘n speelmaat en ook ‘n vriendin.
‘n Ma is ‘n onbaatsugtige, liefdevolle vrou wat baie van haar eie behoeftes opoffer om na die behoeftes en begeertes van haar kroos om te sien.
‘n Ma spandeer heelwat tyd aan die opvoeding van haar kinders, om sodoende te verseker dat hulle toegerus is met die nodige kennis, vaardighede en vermoёns om te lewe as heel mense.
Alle Mamma’s het een of meer “superpowers”! Dis nou ‘n feit soos ‘n koei.
Mamma’s is voorwaar die steunpilaar in ons lewe.
Moeder, Mamma, Mamsie, Mammie, Moeksie of net Ma, my Mamma, dankie vir wie jy in my lewe is!