Deur dr Enrico Casaleggio, leraar van NG Gemeente Fichardtpark
Markus 4:20: “Dan is daar die mense by wie daar soos op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en aanvaar en vrug voortbring, party dertig-, party sestig- en party honderdvoudig.”
“Dis heerlike lente, die winter’s verby … ” – so lui die woorde van ’n baie bekende liedjie. Maar wat sê die aanbreek van die lente vir ons as gelowiges?
In die antieke tye was die aanbidding van Baäl en Astarte en baie ander gode, deel van ’n vrugbaarheidsgodsdiens. Dit is hoekom die beoefening van hierdie godsdienste ook die beoefening van tempelprostitusie ingehou het. Daar is onder andere geglo dat hierdie afgode gedurende die winter geslaap het en dat die aanbreek van die lente ’n teken was dat hulle nou weer wakker geword het.
Ons weet dat ons God nooit sluimer of slaap nie, soos Psalm 121 sê. Die aanbreek van die lente herinner ons daaraan dat God nie net die Skepper van die heelal is nie, maar dat Hy dit steeds dag vir dag versorg en daarna omsien. Hy is in beheer van die seisoene en gee dit aan ons as ’n gawe. Wat ’n troos vir ons om te weet dat die God wat die seisoene in Sy hand hou, ook my lewe in Sy hand hou!
Maar by die aanbreek van die lente word ons ook bewus van ’n ontwaking in die natuur. Die gras word weer groen, die bome kry weer blare. Bloeisels versier die omgewing. Alles groei weer. Groei is ’n teken van lewe. Dit wat nie groei nie, is dood. Die klippe groei nie, want daar is nie lewe in hulle nie. So ook die plante wat dood is gedurende die winter. Hulle bly grys. Hulle stoot nie weer blare uit nie. Dieselfde waarheid geld ook vir ons geestelike lewens.
In Markus 4 lees ons die gelykenis van die saaier, sowel as die gelykenis van die saad wat vanself groei. Ons moet dit as ’n eenheid sien. Die Here Jesus praat van verskillende reaksies op die Woord van God. Hy sê in Markus 4:20 dat daar mense is wat na God se Woord luister, dit gryp hulle aan die hart en verander hulle lewens vir altyd. Hulle kom tot bekering. Maar dit is nie al nie. Daar word gesê dat hulle lewens vrug voortbring: party dertig-, party sestig- en party honderdvoudig.
Hulle geestelike lewe eindig nie by hulle bekering nie. Nee, dit begin maar net daar. Hulle bekering is nie die wenpaal nie. Dit is hulle wegspringblokke op pad na geestelike volwassenheid.
Geestelike groei is ’n proses. Iets wat geleidelik en langsamerhand plaasvind. In Markus 4:28 lees ons: “ … eers ’n halm, dan ’n aar, dan die vol koringaar”. So vind dit trapsgewys plaas.
Die boer sal nie kom en ’n oes verwag as die saad maar pas gesaai is nie. Hy weet dit neem tyd. So weet die Here ook wat om van ons geestelike lewens te verwag. Hy verwag nie dat ’n persoon wat Hom onlangs leer ken het, dieselfde peil van geestelike volwassenheid sal hê as iemand wat die Here al lank ken nie. Aan die ander kant is Hy net so redelik in Sy verwagting dat die halm wel sal groei tot ’n aar en daarna tot volle koring in die aar.
Die geestelike lewe is ’n groeiende lewe. ’n Lewe waarin daar ontwikkeling plaasvind. Daar is toename. Daar is ’n voortdurende proses van heiligmaking, van toename in gelykvormigheid aan die beeld van Jesus Christus.
Wanneer jy dan tydens hierdie lente bewus word van die groei en die lewe in die natuur rondom jou, vra jouself af of dit ook waar is van jou geestelike lewe. Kan jy wat jou geestelike lewe betref ook sê: “Dis heerlike lente …”?
| Verskaf: Dr Enrico Casaleggio, leraar van NG Gemeente Fichardtpark.

