Deur Ethan Kleynhans, ’n tweedejaar-teologiestudent (BDiv) aan Kovsies
Elke roeping begin met ʼn stem – soms duidelik en sterk, ander kere stil en stadig ontvouend. Vir Nielbert Mostert en Sarahné Dreyer het dié stem op verskillende maniere gekom, maar altwee het gereageer met geloof, vasberadenheid en ’n bereidheid om te leer. Aan die einde van hul BDiv aan die Universiteit van die Vrystaat kyk hulle terug op vier jaar van groei – nie net akademies nie, maar as mense wat gevorm is vir die bediening. In hierdie artikel deel hulle hul pad, hul struikelblokke, en wat hulle hoop om saam te dra na waar God hulle ook al stuur.

Nielbert Mostert - ‘’n Roeping wat stadig ontvou het’
| verskaf: Nielbert Mostert
Met ’n rustige soort dankbaarheid kyk Nielbert Mostert, vyfdejaar-teologiestudent aan die Universiteit van die Vrystaat, terug op die reis wat hom tot hier gebring het. Wat begin het as ’n sprong in die onbekende, het gaandeweg ’n pad van duidelikheid, roeping en groei geword. “Ek het aansoek gedoen, is aanvaar, en toe het ek maar begin studeer – dis al waarvoor ek aanvaar is!” vertel hy met ’n glimlag. “Maar ek is nie vir een oomblik spyt nie. Ek’s net dankbaar ek het begin.”
Nielbert se tyd aan Kovsies het hom nie net akademies gevorm nie, maar hom diep geraak op persoonlike en geestelike vlak. Hy vertel hoe sy verstaan van God verbreed het, hoe hy geleer het om met meer deernis na ander se perspektiewe te luister, en hoe sy verhouding met die Here al hoe meer ’n anker in sy lewe geword het. “Jy besef nie altyd hoe ver jy al gekom het nie, totdat jy terugkyk,” sê hy. “Ek sien uit daarna om oor ’n paar jaar weer terug te kyk – om die groei raak te sien wat ek nou nog nie eers ten volle begryp nie.”
Vir iemand met slegs 40% sig, het die akademiese wêreld uitdagings gebied waarvan baie nie eers bewus is nie – veral in tegniese tale soos Grieks en Hebreeus. Maar met die hulp van toegewyde dosente en die ondersteuning van die universiteit se CUADS-span, het Nielbert elke eksamen met vasberadenheid aangepak. Hy lag wanneer hy terugdink aan ’n Griekse eksamen waarin sy ondersteuner hom moes help sonder om self ’n woord Grieks te verstaan.
Wat vir hom uitstaan uit sy studentejare, is nie net wat hy geleer het nie, maar met wie hy die reis gedeel het: dosente wat beskikbaar en betrokke was, vriende wat saam met hom geworstel en gegroei het, en ’n klasgemeenskap wat vir hom die ryk diversiteit van Suid-Afrika vergestalt het. “Al was ek die enigste wit ou in my jaargroep, was daar respek – opregte, wedersydse respek vir wie ons elkeen is,” sê hy. Die studentekerk Kopanong, en die weeklikse “Mossie-etes” by sy ouerhuis was ook konstante bakenligte op sy pad.
As dit kom by sy drome vir die kerk, praat Nielbert eerlik én dapper: “Ek droom van ’n kerk wat werklik een is. Miskien klink dit onrealisties – maar dis ’n hoop waarvoor ek bly bid.” Intussen wil hy eenvoudig getrou wees: deel wees van die liggaam van Christus, eerlik wees oor moeilike vrae, die Koninkryk dien – of dit nou in ’n plaaslike gemeente is of op sinodale vlak.
Aan eerstejaars wat soms onseker is, bied hy hierdie stuk wysheid – met die soort nugtere aanvaarding wat uit ondervinding spruit: “As jy nie ten minste een keer per week twyfel nie, is daar dalk ’n probleem! Twyfel is deel van die roepingspad. Moenie ophou vrae vra nie – jou roeping sal geleidelik aan jou openbaar word.”
Hoewel hy nie ’n vaste lewensvers aanhaal nie, vind Nielbert gereeld troos en insig in die Psalms en Prediker. “As jy weet hoekom jy hier is, en dat die Here ’n plan met jou het, dan is dit genoeg,” sê hy eenvoudig.
Tans besig met sy MTh-studies, sien Nielbert met verwagting uit na sy gemeentejaar – en daarna om uiteindelik voltyds die bediening te betree. Dis ’n pad waarop hy homself nie gesoek het nie, maar waarin hy gegroei het met oorgawe en geloof.

Sarahné Dreyer - ‘’n Roeping wat stadig ontvou het’
| verskaf: Sarahné Dreyer
Met haar graad in die hand en haar hart vol herinneringe, kyk Sarahné Dreyer terug op haar tyd as teologiestudent aan die Universiteit van die Vrystaat. Vir haar was dit nie net ʼn akademiese pad nie, maar ʼn lewensreis – een van ontdekking, vorming en groei. “Ek
is baie dankbaar vir die tyd wat ek bestee het aan die graad. Ek het soveel van myself en van die wêreld geleer in hierdie tyd,” sê sy opreg.
Sarahné se pad na teologie het nie met ʼn dramatiese oomblik van roepingsbesef begin nie. Toe haar dominee destyds op hoërskool voorstel dat sy teologie oorweeg, het dit vir haar vreemd geklink. Sy het eers regte begin studeer, maar mettertyd het sy besef dat haar hart by die Kerk lê – by die mense, die gemeenskap, en veral by die Bybelse tale. “Ek dink nie daar was een spesifieke oomblik nie. Ek dink die Here wys bietjie vir bietjie vir my wat my roeping is.”
Haar tyd aan Kovsies het talle kosbare oomblikke ingehou. Hier het sy haar man ontmoet, en ook vriende gemaak wat diep spore in haar lewe getrap het. “Ek is baie dankbaar dat ek ook vriende en kennisse kon maak buite die Fakulteit – mense met uiteenlopende agtergronde. Elke persoon het iets nuuts tot my wêreld bygedra.” Haar blootstelling aan verskillende wêreldbeskouings en geloofstradisies het haar begrip van die kerk en van menswees verbreed.
Ironies genoeg was dit juis ʼn klas buite die teologiese kurrikulum wat ʼn onverwagse impak op haar geloofsreis gehad het. In ʼn Latynklas, waar gesprekke oor die Bybel ontstaan het, is sy getref deur die verskillende maniere waarop mense die Skrif verstaan en interpreteer. “Dit het my laat besef hoe ryk en kompleks die Bybel is, en hoe belangrik dit is om oop te wees vir ander se perspektiewe.”
Soos enige student, het sy haar uitdagings gehad – veral wanneer dit by akademiese skryfwerk en tydsbeplanning gekom het. “My grootste uitdaging was nog altyd om by die punt te bly wanneer ek skryf – ek dwaal maklik af en voeg gedagtes by wat nie altyd relevant is nie,” vertel sy met ʼn laggie. Tog het sy geleer om aan te hou en haarself te vertrou – ’n les wat sy saam met haar sal neem, ver buite die universiteitsbanke.
Wat veral vir haar uitstaan, is die invloed van haar teologiese klasmaats – ʼn diverse groep studente uit verskillende kerkgenootskappe. Die gesprekke tussen hulle, dikwels oor komplekse en diep temas, het haar geloof en denke geslyp. “Net een van my naaste vriende op kampus was in die NG Kerk. Die res het almal van ander agtergronde gekom. Maar die gesprekke tussen ons was kosbaar – dit wys vir my dat daar wel paaie van liefde en goedgesindheid tussen denominasies bestaan.”
Aan eerstejaars wat onseker is, het sy eenvoudige maar wyse raad: “Wees geduldig. Gee dit tyd. Ervaar soveel as moontlik, al voel dit vreemd of ongemaklik. En vertrou God om vir jou aan te wys waar Hy jou wil gebruik.” Sy leef met ʼn geloof dat roeping ʼn proses is – nie ʼn kitsopenbaring nie, maar ʼn pad wat stadig ontvou.
Wanneer sy bemoediging soek, keer sy dikwels terug na Psalm 118:8. “Dit laat my dink aan balans – tussen vertroue in mense en vertroue op God. Dis ʼn herinnering dat ek nie alles hoef te verstaan nie – ek moet net aanhou stap.”
Met ʼn rustige oortuiging sien sy uit na wat kom. Sy weet nie presies hoe haar pad in die bediening gaan lyk nie, maar sy weet dat sy nie alleen stap nie. “God is besig om my te leer – net soos Hy met ander mense ook besig is. En dit maak my hoopvol.”
Teologie is nie bloot ’n graad nie – dis ’n reis van ontdekking, verwondering en vorming. Nielbert en Sarahné se stories herinner ons daaraan dat roeping dikwels gevind word tussen mense, in klaskamers, op kampus, en in gesprekke met die onbekende. Beide se getuienisse wys daarop dat God steeds roep – soms deur die stem van ’n mentor, soms deur ’n liefde vir die Bybelse tale, soms deur worsteling, vrae en groei. En wanneer jong mense soos hulle die moed het om te antwoord, word die kerk daardeur opnuut gebou.