Adrie Potgieter is onlangs as predikant by die NG Gemeente Senekal-Noord bevestig, maar wie is hierdie avontuurlustige natuurliefhebber wat graag stap en boonop ’n ywerige leser en wynversamelaar is?
Adrie is in Virginia gebore waar sy grootgeword het en waar haar ouers steeds woon. Sy was op Laerskool Virginia Volkskool en voltooi haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Hentie Cilliers. As skaam en teruggetrokke leerling, speel veral juffrou Rika Pienaar ’n invloedryke rol in haar lewe. Sy het veral ‘n groot liefde vir taal, digkuns en redenaarskuns by Adrie gekweek, gevolglik het sy in al wat ‘n kultuuraktiwiteit op skool was, floreer; die ideale kombinasie om selfvertroue by ’n kind te laat groei en gedy.
Adrie se ouers was ook deurentyd haar grootste steunpilare vir wie sy baie dankbaar is. “Ek glo God ontmoet ons op verskeie plekke, terreine en op verskeie maniere,” vertel Adrie. “Van kleinsaf het ek God deur my ouers ervaar. Hulle het my nie net van die Here geleer het, maar hulle het hul geloof ook tasbaar en sigbaar in hulle lewens uitgeleef.
Een Sondagoggend was daar ’n bepalende oomblik in Adrie se lewe. Sy was in Graad 11, net voordat sy moes aansoek doen vir haar universiteitstoelating. Sy en haar pa was te vroeg vir die erediens en het solank gaan sit. Intussen het die predikant ingekom om solank alles vir die diens gereed te kry. Dit was toé dat haar pa vir haar vra of sy nie dink dat sy dalk teologie moet studeer nie. Van daardie dag af was dit asof daar iets in haar hart gebeur het; asof sy net geweet het dit is wat sy moes doen.
Aanvanklik het Adrie in haar Graad 12-jaar aansoek gedoen om fisioterapie te studeer, maar twee weke voordat sy na die Universiteit van die Vrystaat moes gaan, het sy weer die oortuiging gekry dat sy eerder teologie moes studeer.
Op universiteit het sy veral die vakke missiologie, sistematiese teologie, praktiese teologie en pastoraat baie geniet. Aangesien sy ‘n baie wye belangstelling het, het sy van die meeste modules gehou. In hierdie tyd het sy ook saam met ander kerke op uitreike na onder andere Lesotho en ander Afrika-lande gegaan. Hier kon sy sien hoe God op verskillende plekke betrokke is en sy kry sodoende baie blootstelling aan mense van ander kulture; mense wat anders as sy lyk en dink en wat haar siening oor God en sy koninkryk verryk. Dit, tesame met haar teologie-opleiding, het alles vir haar nuwe wêrelde oopgemaak.
Adrie vertel: “Dit het my so gehelp om anders te begin dink en die manier waarop ek altyd oor dinge gedink het, uit te daag. Aan die begin van my studies het alles maar nog verward en apart van mekaar gevoel, maar in my latere studiejare het alles mooi bymekaar gekom. Ek het in die loop van my ses studiejare ‘n beter begrip van myself, van die wêreld en verskeie kontekste gekry en só het ek ook nuut oor God begin dink. Ek is wel konstant uitgedaag om myself af te vra hoe bring ek dit wat ek geleer het en die praktyk bymekaar, en hoe dit toegepas moet word – iets wat seker maar elke jong predikant se uitdaging is.”
Sy het haar proefskrif in 2019 onder leiding van prof Verster in missiologie met die onderwerp “’n Missionale ondersoek na evangelisasie in ons tydsgees met verwysing na sosiale media” gedoen. Dit het gefokus op hoe ons al meer sosiale media kan gebruik vir evangelisasie, of dan getuieniswerk. Met die uitbreek van die COVID-19-pandemie het hierdie onderwerp dus baie relevant geraak, veral toe kerke geforseer is om meer aanlyn te begin funksioneer.
Die NG Gemeente Senekal-Noord is haar eerste gemeente. Dit is ‘n plattelandse gemeente met ‘n verskeidenheid mense, van jonk tot bejaard. Die gemeente bestaan uit beide dorps- en plaaswyke, waarvan daar heelwat van laasgenoemde is. Hier waai die mense nog vir jou as jy in jou motor verbyry! Dis vriendelike, plat-op-die-aarde mense wat graag nog wil goed doen in hulle gemeenskap.
Dis egter ook ’n gemeenskap wat diep verwond is, veral ná plaasaanvalle. Maar hierdie gemeenskap het besluit om te begin hande vat. Mense van verskeie ouderdomme en herkomste werk nou saam om van hul dorp ‘n beter plek te help maak vir almal. “Ons hou nou self ons sypaadjies skoon en netjies en maak ons slaggate reg. Dis regtig ‘n gemeenskap wat streef na versoening en vrede,” sê Adrie.
As nuwe predikant is Adrie se grootste uitdaging tans hoe om die gemeente, waar sy nog nie almal behoorlik ken nie, te midde van die pandemie te bedien. Baie lidmate het ook familielede en vriende weens die virus verloor. Talle mense ervaar groot seer en verlies in hierdie tyd. Haar grootste droom vir die kerk is om ‘n plek van hoop te kan wees; om inklusief deur God se liefde diensbaar in die gemeenskap betrokke te kan wees.
Adrie is verlede jaar in November met Evert, ’n rekeningbestuurder by Old Mutual, getroud. As jonggetroudes is hul yorkie, Junior, soos ’n kind in die huis en geniet hulle die lewe gate-uit.
Mag jou bediening in die NG Gemeente Senekal-Noord in alle opsigte geseënd wees, Adrie.