Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

RICD: Oosterlig Drukwerk – ’n gemeenskapsgedrewe onderneming

Deur Mariëtte Odendaal

“Ons bestaan nie net om produkte te lewer nie – ons bestaan om die Lig te bring, werk te skep en mense op te hef; álle wins word teruggeploeg om werkskepping moontlik te maak.”

Chrisna Groenewald
Bestuurder: Oosterlig Drukwerk
NG Kerk Ooshoek, Bloemfontein

Sommige van ons was al so gelukkig om ’n lekker groot koffiebeker present te kry met ’n foto en persoonlike boodskap daarop van jou kinders, personeel of vriende; dit word jou geliefde koffiebeker. Of dalk het jy al ’n T-hemp of pet laat druk waarop jou lewensmotto gedruk staan; iets wat jou na aan die hart lê.

Vir baie mense is so ’n drukdiens op items egter nie altyd so maklik beskikbaar nie en moet jy dit dalk via die internet bestel. As jy dit egter sommer in jou eie buurt of omgewing kan laat druk, is dit soveel makliker én goedkoper.

As jy dan boonop aan ’n paar mense werk kan verskaf om so ’n diens moontlik te maak, word dit sommer gou-gou ’n bron van opheffingswerk – mense wat hul waarde besef en erkenning kry vir hul vaardigheidsontwikkeling wat daagliks toegepas word.

En dit is presies wat gebeur het toe die NG Kerk Ooshoek-gemeente in Bloemfontein met behulp van Elbie Conradie, bestuurder van Vennote in Getuienis se Reformed Initiative for Community Development (RICD), met Chrisna Groenewald, bestuurder van Oosterlig Drukwerk, begin handevat het. Die predikant van dié gemeente, ds Andreas Nieuwoudt, was deel van die stigting van hierdie projek in Augustus vanjaar en ondersteun dit sedertdien in ’n raadgewende hoedanigheid.

Maar hoe het dié projek nou eintlik prakties begin? Ons het meer daaroor gaan uitvind by die bestuurder van dié opwindende inisiatief, Chrisna Groenewald.

Chrisna, waarom het julle gemeente besluit om Oosterlig Drukwerk in die lewe te roep?

“Ons het besef dat, as jy in ’n gemeenskap bly wat daagliks onder armoede en werkloosheid gebuk gaan, ons as gemeente moet uitspring en kyk waar en hoe ons ’n verskil in mense se lewens kan maak.

“Omdat daar in die algemeen ’n groot behoefte aan bekostigbare drukwerk op klere, geskenk-items en harde kopieë is, het ons dit as ’n gulde geleentheid aangegryp om so ’n drukdiens in die lewe te roep.”

Vertel meer oor die soort produkte waarop drukwerk gedoen word.

“Ons doen drukwerk op byna enigiets. Wat drukwerk op klere betref, druk ons op T-hemde, hoede, pette, hoodies, werkshemde, pasklaargemaakte drukwerk vir individue, kerke, skole, besighede en gemeenskapsprojekte.

“Ons doen ook drukwerk op geskenk-items soos koffiebekers, sleutelhouers, bordjies, plakkate, penne, notaboeke en nog vele meer.”

Watter waarde sou jy sê word deur hierdie drukwerkdiens tot die gemeenskap toegevoeg, Chrisna?

“Ons ervaar dat elke bestelling help om ’n werksgeleentheid te skep, mense se waardigheid te help herstel en hoop aan families te gee.

“Dit dra ook daartoe by om mense wat hier werk, toe te rus met vaardighede wat hulle voorheen nie gehad het nie; dit gee aan hulle ’n gevoel van menswaardigheid.

“Terselfdertyd dra hierdie drukwerk-ruimte en diens wat aan die gemeenskap gelewer word, daartoe by dat die lig van Christus aan hulle gedemonstreer word tot eer van God.

“Ons is meer as ‘n besigheid – ons is ’n projek van hoop.”

Vir meer inligting kan Chrisna Groenewald by chrisna0320@gmail.com of Elbie Conradie by elbieconradie@gmail.com gekontak word.

  |  Verskaf deur: Chrisna Groenewald