Tydens ’n onlangse sendinguitreik na Durban besoek ons onder andere ’n moskee. Ons word getref deur die hartlikheid en gasvryheid waarmee ons ontvang word. Na ’n verduideliking aan die groep oor wat Islam behels, word ons getrakteer met koffie, koeldrank en koek. Ek en ’n ander predikant in die groep ontvang selfs ’n hardeband- Afrikaanse weergawe van die Koran.
In aansluiting hierby vertel iemand my nou onlangs dat hy op die Vrystaatse platteland, in ’n dorpie waar daar ’n moskee is, by ’n kafee instap waar ’n paar Moslems sit en “slap chips” eet. Hoewel hulle hom nie ken nie, het hulle hom genooi om saam te eet. Hulle het moeite gedoen om hom tuis te laat voel en selfs na die moskee genooi.
Vrygewige gasvryheid wat aan familie, vriende en vreemdelinge bewys word, is een van die kenmerke van Moslem-samelewings. Hierdie tradisie van gasvryheid gaan terug na antieke tye in die Midde-Ooste, ‘n dorre streek waar handel vroeg al belangriker geword het as in ander streke en waar die behoefte by reisigers om op die vriendelikheid van vreemdelinge staat te maak, dienooreenkomstig groter was. In Arabië verteenwoordig die pre-Islamitiese hoofman Hatim al-Tai die ideale vrygewige gasheer, en hy bly tot vandag toe ‘n simbool van uitbundige gasvryheid.
Vir Moslems kom die ideaal van gasvryheid eerstens uit die Koran self[1], wat vereis dat gasvryheid, of liefdadigheid, aan reisigers bewys word: “Dit is regverdig om in god te glo; [en] om van jou goed te spandeer, uit liefde vir hom aan jou familie, aan die behoeftiges, aan die reisiger en aan dié wat vra (Sura 2:177; 2:215) en aan die armes” (Sura 5:89; 22:28, 36; 58:4). Die Koran noem ook reëls wat verband hou met die gasvryheid aan familie en vriende, en beeld Abraham uit as gasvry aan die besoekende engele deur ‘n kalf te slag (Sura 11). Om te weier om gasvry te wees, word veroordeel. So ook om gaste te beledig (Sura 11:77; 15:68). Dit word as ‘n groot skande beskou.
Ons behoort die gasvryheid wat ons van Moslems ontvang sonder agterdog te waardeer. Dit is egter ook so dat hulle gasvryheid deel vorm van hulle uitreik na die wêreld (Dawa) om almal te wen vir die saak van Islam. Dawa beteken letterlik “oproep” of “uitnodiging”[2]. In dawa word nie-Moslems genooi om Islam as die ware en finale godsdiens te aanvaar.
Dit is belangrik om, waar ons kan, verhoudings te vestig met Moslems, sodat ons in ’n verhouding van respek met hulle in gesprek kan tree om die Evangelie van verlossing in Christus alleen met hulle te kan deel. Ons behoort hulle voor te gaan in gasvryheid. Gasvryheid is tog by uitstek ’n Christelike deug. Die tekste is te veel om te noem, maar dink onder andere aan die Here Jesus se woorde by die eindoordeel, wat ons vind in Matteus 25, naamlik: “want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves…”.
Daar is gemeentes wat, nadat hulle ’n verhouding met Moslems by ’n moskee gebou het, hulle ook nooi na ’n ete by ’n gemeentelike funksie. Ons kan, en behoort, Moslems se ideaal van gasvryheid te ontmoet met die Christelike deug van gasvryheid en dit as ’n platvorm te gebruik om die Evangelie aan hulle te bring.
[1] https://www.encyclopedia.com/religion/encyclopedias-almanacs-transcripts-and-maps/hospitality-and-islam
[2] Sookhdeo, P.2014. Dawa. The Islamic Strategy for Reshaping The Modern World. Isaac Publishing: McLean VA.